Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 22

Josef in die tronk

Josef in die tronk

JOSEF is net 17 jaar oud wanneer hy na Egipte toe geneem word. Daar word hy verkoop aan ’n man met die naam Poʹtifar. Poʹtifar werk vir die koning van Egipte, wat Farao genoem word.

Josef werk hard vir sy heer, Poʹtifar. Wanneer Josef ouer word, stel Potifar hom oor sy hele huis aan. Hoekom is Josef dan hier in die tronk? Dit is Poʹtifar se vrou se skuld.

Wanneer Josef groot word, is hy ’n baie aantreklike man, en Poʹtifar se vrou wil hê dat hy by haar moet kom lê. Maar Josef weet dat dit verkeerd is, en hy weier. Poʹtifar se vrou is baie kwaad. Daarom jok sy vir haar man wanneer hy by die huis kom en sê: ‘Daardie slegte Josef het probeer om by my te kom lê!’ Poʹtifar glo sy vrou, en hy is baie kwaad vir Josef. Daarom laat hy hom in die tronk gooi.

Die man in beheer van die tronk sien gou dat Josef ’n goeie man is. Daarom stel hy hom oor al die ander gevangenes aan. Later word Farao kwaad vir sy skinker en sy bakker, en hy laat hulle in die tronk gooi. Een nag het albei van hulle ’n spesiale droom, maar hulle weet nie wat hulle drome beteken nie. Die volgende dag sê Josef: ‘Vertel julle drome vir my.’ En wanneer hulle dit doen, verduidelik Josef, met God se hulp, vir hulle wat hulle drome beteken.

Vir die skinker sê Josef: ‘Oor drie dae sal jy vrygelaat word, en jy sal weer Farao se skinker word.’ Toe sê Josef verder: ‘Vertel vir Farao van my wanneer jy uitkom, en help my om uit hierdie plek te kom.’ Maar vir die bakker sê Josef: ‘Oor net drie dae sal Farao jou kop laat afkap.’

Ná drie dae gebeur dit presies soos Josef gesê het. Farao laat die bakker se kop afkap. Maar die skinker word vrygelaat en begin weer om die koning te bedien. Maar die skinker vergeet heeltemal van Josef! Hy vertel nie vir Farao van hom nie, en Josef moet in die tronk bly.