Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 68

Twee seuns wat weer lewe

Twee seuns wat weer lewe

SÊ NOU jy gaan dood. Hoe sal jou ma voel as jy weer lewendig gemaak word? Sy sal baie bly wees! Maar kan iemand wat doodgegaan het, weer lewe? Het dit al gebeur?

Kyk na die man hier, en die vrou en die seuntjie. Die man is die profeet Eliʹa. Die vrou is ’n weduwee van die stad Sarfat, en die seun is haar kind. Wel, eendag word die seun siek. Hy word al hoe sieker en gaan uiteindelik dood. Eliʹa sê dan vir die vrou: ‘Gee die seun vir my.’

Eliʹa dra die dooie kind teen die trap op en lê hom op die bed neer. Dan bid hy: ‘O Jehovah, laat die seun weer lewe.’ En die seun begin asemhaal! Daarna neem Eliʹa hom weer ondertoe en sê vir die vrou: ‘Kyk, jou seun lewe!’ Dit is hoekom die ma so bly is.

Nog ’n belangrike profeet van Jehovah is Eliʹsa. Hy is Eliʹa se helper. Maar later gebruik Jehovah Eliʹsa ook om wonderwerke te doen. Eendag gaan Eliʹsa na die stad Sunem waar ’n vrou baie goed is vir hom. Later kry hierdie vrou ’n babaseuntjie.

Een oggend, toe die kind ouer is, gaan hy na sy pa toe wat op die landerye werk. Skielik roep die seun uit: ‘My kop is seer!’ Nadat hy huis toe geneem is, gaan die seun dood. Hoe hartseer is sy ma tog! Sy gaan haal dadelik vir Eliʹsa.

Wanneer Eliʹsa daar aankom, gaan hy in die kamer in waar die dooie kind lê. Hy bid tot Jehovah en gaan lê op die lyk. Die seun se liggaam word sommer gou warm, en hy nies sewe keer. Hoe bly is sy ma tog wanneer sy inkom en sien dat haar seun lewe!

Baie, baie mense het al doodgegaan. Dit het hulle gesinne en vriende baie hartseer gemaak. Ons het nie die mag om dooie mense op te wek nie. Maar Jehovah het. Later sal ons uitvind hoe hy miljoene mense weer lewendig gaan maak.