Spring na inhoud

Stem die wetenskap met die Bybel ooreen?

Stem die wetenskap met die Bybel ooreen?

Die Bybel se antwoord

 Ja, omdat die Bybel, hoewel dit nie ’n wetenskaphandboek is nie, akkuraat is wanneer dit wetenskaplike sake meld. Kyk na ’n paar voorbeelde wat toon dat die Bybel met die wetenskap ooreenstem en dat dit wetenskaplike feite bevat wat grootliks verskil het van die opvattings van baie mense wat gelewe het toe dit geskryf is.

  •   Die heelal het ’n begin gehad (Genesis 1:1). Volgens talle eertydse mites is die heelal egter nie geskep nie, maar het dit uit bestaande chaos ontstaan. Die Babiloniërs het geglo dat die gode wat aan die heelal geboorte gegee het, uit twee oseane gekom het. Volgens ander legendes het die heelal uit ’n ontsaglike eier ontstaan.

  •   Die heelal word daagliks beheer deur verklaarbare natuurwette, nie die giere van gode nie (Job 38:33; Jeremia 33:25). Volgens mites van regoor die wêreld is mense magteloos ten opsigte van die onvoorspelbare en soms wrede dade van die gode.

  •   Die aarde hang in die leë ruimte (Job 26:7). Talle eertydse volke het geglo dat die aarde ’n plat skyf is wat rus op ’n reus of ’n dier, soos ’n buffel of ’n skilpad.

  •   Riviere en fonteine word aangevul deur water wat van die oseane en ander bronne verdamp en dan as reën, sneeu of hael op die aarde terugval (Job 36:27, 28; Prediker 1:7; Jesaja 55:10; Amos 9:6). Die eertydse Grieke het geglo dat riviere deur ondergrondse oseaanwater aangevul word, en mense het tot in die 18de eeu so geglo.

  •   Die berge styg en daal, en die berge van vandag was eens op ’n tyd onder die see (Psalm 104:6, 8). In teenstelling hiermee sê talle mites dat die berge in hulle huidige vorm deur die gode geskep is.

  •   Higiëniese gewoontes beskerm gesondheid. Die Wet wat aan die nasie Israel gegee is, het voorskrifte bevat wat vereis het dat ’n persoon sy hande moes was as hy aan ’n dooie liggaam geraak het, dat siekes onder kwarantyn geplaas moes word en dat daar op doeltreffende wyse van menslike ontlasting ontslae geraak moes word (Levitikus 11:28; 13:1-5; Deuteronomium 23:13). Daarenteen was een van die behandelings wat die Egiptenare destyds gebruik het, om ’n mengsel wat menslike ontlasting bevat het, aan ’n oop wond te smeer.

Is daar wetenskaplike foute in die Bybel?

 ’n Redelike ondersoek van die Bybel toon dat die antwoord nee is. Hier volg ’n paar algemene wanopvattings oor die wetenskaplike akkuraatheid van die Bybel:

 Mite: Die Bybel sê dat die heelal binne ses dae van 24 uur elk geskep is.

 Feit: Volgens die Bybel het God die heelal op ’n onbepaalde tyd in die verlede geskep (Genesis 1:1). Daarbenewens was die dae van die skepping wat in Genesis hoofstuk 1 beskryf word, tydperke waarvan die tydsduur nie aangegee word nie. Trouens, die hele tydperk waartydens die aarde en die hemel geskep is, word ook ’n “dag” genoem.—Genesis 2:4.

 Mite: Die Bybel sê dat plante geskep is voordat die son bestaan het om fotosintese moontlik te maak.—Genesis 1:11, 16.

 Feit: Die Bybel toon dat die son, een van die sterre wat deel vorm van “die hemel”, voor plante geskep is (Genesis 1:1). Gedempte lig van die son af het die aarde se oppervlak tydens die eerste “dag”, of tydperk, van die skepping bereik. Toe die atmosfeer, teen die derde “dag” van die skepping, opgeklaar het, was daar genoeg lig sodat fotosintese kon plaasvind (Genesis 1:3-5, 12, 13). Die son kon eers later duidelik van die aarde af gesien word.—Genesis 1:16.

 Mite: Die Bybel sê dat die son om die aarde wentel.

 Feit: Prediker 1:5 sê: “Die son het ook stralend opgekom, en die son het ondergegaan, en hy kom hygend na sy plek waar hy stralend sal opkom.” Maar hierdie teks beskryf bloot die skynbare beweging van die son soos vanaf die aarde gesien. Mense gebruik selfs vandag die woorde “sonsopkoms” en “sonsondergang”, terwyl hulle weet dat die aarde om die son wentel.

 Mite: Die Bybel sê dat die aarde plat is.

 Feit: Die Bybel gebruik die frase “die eindes van die aarde” om te verwys na “die mees afgeleë deel van die aarde”; dit gee nie te kenne dat die aarde plat is of ’n einde het nie (Handelinge 1:8; voetnoot in NW). Die uitdrukking “die vier hoeke van die aarde” is eweneens beeldspraak wat verwys na die hele oppervlak van die aarde; vandag sal iemand die vier windrigtings dalk as ’n soortgelyke metafoor gebruik.—Jesaja 11:12; Lukas 13:29.

 Mite: Die Bybel sê dat die omtrek van ’n sirkel gelyk is aan presies drie keer die deursnee daarvan, maar die korrekte waarde is pi (π), of ongeveer 3,1416.

 Feit: Die mates van “die gegote see” wat in 1 Konings 7:23 en 2 Kronieke 4:2 gegee word, toon dat dit ’n deursnee van tien el gehad het en dat “’n lyn van dertig el ... dit rondom [kon] omspan”. Hierdie mates was moontlik bloot die naaste ronde getalle. Dit is ook moontlik dat die omtrek en die deursnee die binneste en buitenste mates van die koperkom verteenwoordig het.