Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 Redes om die Bybel te vertrou

4. Wetenskaplike akkuraatheid

4. Wetenskaplike akkuraatheid

In hedendaagse tye het die wetenskap groot vooruitgang gemaak. Gevolglik het ou teorieë vir nuwes plek gemaak. Wat vroeër as ’n feit aanvaar is, word moontlik nou as ’n mite beskou. Wetenskaphandboeke moet dikwels hersien word.

DIE Bybel is nie ’n wetenskaphandboek nie. Maar wanneer dit by wetenskaplike sake kom, is die Bybel merkwaardig, nie net weens wat dit wel sê nie, maar ook weens wat dit nie sê nie.

Vry van onwetenskaplike beskouings.

In antieke tye is talle wanopvattings algemeen aanvaar. Beskouings in verband met die aarde het gewissel van die idee dat dit plat is tot die opvatting dat dit deur tasbare stowwe of voorwerpe ondersteun word. Lank voordat die wetenskap oor die verspreiding en voorkoming van siektes geleer het, het geneeshere metodes gebruik wat op die beste ondoeltreffend en op die ergste dodelik was. Maar nêrens in die meer as 1 100 hoofstukke van die Bybel staan dit enige onwetenskaplike beskouings of skadelike gebruike voor nie.

Die Bybel was sy tyd ver vooruit toe dit tereg gesê het dat die aarde bolvormig is en “aan niks” hang nie

Wetenskaplik akkurate stellings.

Sowat 3 500 jaar gelede het die Bybel gesê dat die aarde “aan niks” hang nie (Job 26:7). In die agtste eeu v.G.J. het Jesaja spesifiek verwys na “die kring [of, bol] van die aarde” (Jesaja 40:22). ’n Bolvormige aarde wat in die leë ruimte hang sonder enige sigbare of fisiese stut—klink hierdie beskrywing nie besonder modern nie?

Die Mosaïese Wet (wat in die eerste vyf boeke van die Bybel gevind word) is omstreeks 1500 v.G.J. geskryf en het wyse wette bevat in verband met die reëling om siekes onder kwarantyn te plaas, die hantering van lyke en die verwydering van afval.—Levitikus 13:1-5; Numeri 19:1-13; Deuteronomium 23:13, 14.

Wetenskaplikes het, deels omdat hulle die hemelruim met kragtige teleskope begin bestudeer het, tot die gevolgtrekking gekom dat die heelal skielik ontstaan het. Nie alle wetenskaplikes hou van die implikasies van hierdie verklaring nie. Een professor het gesê: “Dit wil voorkom of ’n heelal wat ’n begin gehad het, ’n eerste oorsaak vereis; want wie kan hom so ’n gevolg sonder ’n bevredigende oorsaak voorstel?” Maar lank voordat die teleskoop uitgevind is, het die heel eerste vers van die Bybel eenvoudig gesê: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.”—Genesis 1:1.

Al is die Bybel ’n ou boek wat talle onderwerpe aanroer, bevat dit geen wetenskaplike onjuisthede nie. Verdien so ’n boek nie ten minste om ondersoek te word nie? *

^ par. 9 Vir meer voorbeelde van die Bybel se wetenskaplike akkuraatheid, sien bladsye 18-21 van die brosjure ’n Boek vir alle mense, uitgegee deur Jehovah se Getuies.