Spring na inhoud

Wat beteken dit om weer gebore te word?

Wat beteken dit om weer gebore te word?

Die Bybel se antwoord

 Die term “weer gebore” verwys na ’n nuwe begin in die verhouding tussen God en die persoon wat weer gebore word (Johannes 3:3, 7). God neem dié wat weer gebore word, as sy kinders aan (Romeine 8:15, 16; Galasiërs 4:5; 1 Johannes 3:1). Net soos in die geval van dié wat wetlik aangeneem word, verander hulle status en word hulle deel van God se gesin.—2 Korintiërs 6:18.

Waarom word ’n persoon weer gebore?

 Jesus het gesê: “Tensy iemand weer gebore word, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Johannes 3:3). As ’n persoon weer gebore word, word hy gereedgemaak om saam met Christus in God se Koninkryk te heers. Hierdie Koninkryk heers vanuit die hemel, en daarom sê die Bybel dat die “nuwe geboorte” ’n erfenis voorsien wat “in die hemele bewaar” word (1 Petrus 1:3, 4). Diegene wat weer gebore word, word die versekering gegee dat hulle saam met Christus “as konings [sal] heers”.—2 Timoteus 2:12; 2 Korintiërs 1:21, 22.

Hoe word ’n persoon weer gebore?

 Toe Jesus hierdie onderwerp bespreek het, het hy gesê dat diegene wat weer gebore word, “uit water en gees gebore” sal word (Johannes 3:5). Hierdie uitdrukking verwys na doop in water gevolg deur doop met die heilige gees.—Handelinge 1:5; 2:1-4.

 Jesus was die eerste persoon wat weer gebore is. Hy is in die Jordaanrivier gedoop, en daarna het God hom met heilige gees gesalf (of gedoop). Jesus is dus weer gebore deur middel van heilige gees as ’n seun van God met die hoop om weer in die hemel te lewe (Markus 1:9-11). God het hierdie hoop vervul deur Jesus as ’n geesskepsel op te wek.—Handelinge 13:33.

 Ander wat weer gebore is, is ook eers in water gedoop voordat hulle die heilige gees ontvang. a (Handelinge 2:38, 41). Hulle het dan die vaste hoop om in die hemel te lewe, wat God in die opstanding sal vervul.—1 Korintiërs 15:42-49.

Wanopvattings oor die wedergeboorte

 Wanopvatting: ’n Persoon moet weer gebore word om gered te word of om ’n Christen te wees.

 Feit: Christus se offerande voorsien nie net redding vir diegene wat weer gebore is en saam met Christus in die hemel sal regeer nie, maar ook vir die aardse onderdane van God se Koninkryk (1 Johannes 2:1, 2; Openbaring 5:9, 10). Hierdie tweede groep Christene het die geleentheid om vir ewig in die Paradys op die aarde te lewe.—Psalm 37:29; Matteus 6:9, 10; Openbaring 21:1-5.

 Wanopvatting: ’n Persoon kan kies om weer gebore te word.

 Feit: Almal het die geleentheid om ’n verhouding met God te hê en gered te word (1 Timoteus 2:3, 4; Jakobus 4:8). Maar God kies diegene wat weer gebore sal word, of met die heilige gees gesalf sal word. Volgens die Bybel hang wedergeboorte “nie af van die een wat wil of van die een wat hardloop nie”, dit hang eerder van God af (Romeine 9:16). Die uitdrukking “weer gebore” kan ook weergegee word as “van bo gebore”, wat bevestig dat God diegene kies wat weer gebore word.—Johannes 3:3, voetnoot in NW.

a Een uitsondering was in die geval van Kornelius en diegene wat saam met hom was.—Handelinge 10:44-48.