Spring na inhoud

Is daar teenstrydighede in die Bybel?

Is daar teenstrydighede in die Bybel?

Die Bybel se antwoord

Nee, die hele Bybel is harmonies. Hoewel dit dalk lyk asof sekere gedeeltes van die Bybel mekaar weerspreek, kan dit gewoonlik reg verstaan word deur een of meer van die volgende beginsels toe te pas:

  1. Kyk na die konteks. Dit kan lyk asof enige skrywer homself weerspreek as sy woorde uit konteks aangehaal word.

  2. Neem die skrywer se beskouing in ag. Ooggetuies beskryf ’n gebeurtenis miskien akkuraat, maar gebruik nie presies dieselfde bewoording of sluit dieselfde besonderhede in nie.

  3. Neem geskiedkundige feite en gebruike in ag.

  4. Onderskei tussen die figuurlike en letterlike gebruike van ’n woord.

  5. Besef dat ’n daad aan iemand toegeskryf kan word—al het hy dit nie persoonlik uitgevoer nie. *

  6. Gebruik ’n akkurate Bybelvertaling.

  7. Moenie wat die Bybel sê, probeer versoen met verkeerde godsdiensidees of -leerstellings nie.

Die volgende voorbeelde toon hoe hierdie beginsels ’n paar skynbare teenstrydighede in die Bybel kan verduidelik.

Beginsel 1: Konteks

As God op die sewende dag gerus het, hoe het hy dan aangehou werk? Die konteks van die skeppingsverslag in Genesis toon dat die verklaring dat God “op die sewende dag begin rus [het] van al sy werk wat hy gemaak het”, spesifiek verwys na sy fisiese skeppingswerke met betrekking tot die aarde (Genesis 2:2-4). En Jesus het dit nie weerspreek toe hy gesê het dat God “tot nou toe aangehou werk” het nie, want hy het van ander werke van God gepraat (Johannes 5:17). God se werke sluit die inspirasie van die Bybel in, asook sy leiding en versorging van die mensdom.—Psalm 20:6; 105:5; 2 Petrus 1:21.

Beginsels 2 en 3: Beskouing en geskiedenis

Waar het Jesus die blinde man genees? Die boek Lukas sê dat Jesus ’n blinde man genees het toe Jesus ‘naby Jerigo gekom het’, terwyl die parallelle verslag in Matteus van twee blinde mans praat en sê dat die voorval plaasgevind het toe Jesus “uit Jerigo uitgegaan het” (Lukas 18:35-43; Matteus 20:29-34). Hierdie twee verslae, wat uit verskillende oogpunte geskryf is, vul mekaar in werklikheid aan. Matteus is meer spesifiek wat die aantal mans betref en sê dat daar twee was, terwyl Lukas die aandag vestig op die een man tot wie Jesus sy woorde gerig het. Wat die plek betref waar dit gebeur het, het argeoloë gevind dat Jerigo in Jesus se tyd ’n dubbele stad was, met die ou Joodse stad omtrent een en ’n half kilometer van die nuwer Romeinse stad af. Jesus was moontlik tussen die twee stede toe hy hierdie wonderwerk verrig het.

Beginsel 4: Figuurlike en letterlike terme

Sal die aarde vernietig word? In Prediker 1:4 sê die Bybel: “Die aarde bly tot onbepaalde tyd staan”, wat volgens party in stryd is met die vers wat sê dat “die elemente deur hitte vernietig sal word—tesame met die aarde” (2 Petrus 3:10, Beck). Maar in die Bybel word die woord “aarde” letterlik gebruik, met verwysing na ons planeet, sowel as figuurlik, met verwysing na die mense wat daarop woon (Genesis 1:1; 11:1). Die vernietiging van die “aarde” wat in 2 Petrus 3:10 beskryf word, verwys nie na die verbranding van ons planeet nie, maar na die “vernietiging van die goddelose mense”.—2 Petrus 3:7.

Beginsel 5: Toeskrywing

Wie het in Kapernaum die leëroffisier se versoek aan Jesus oorgedra? Matteus 8:5, 6 sê dat die leëroffisier self na Jesus toe gekom het, terwyl Lukas 7:3 sê dat die leëroffisier ouer manne van die Jode gestuur het om sy versoek oor te dra. Die verduideliking vir hierdie skynbare teenstrydigheid in die Bybel is dat die versoek van die leëroffisier gekom het, maar dat hy die ouer manne as sy verteenwoordigers gestuur het.

Beginsel 6: Akkurate vertaling

Sondig ons almal? Die Bybel leer dat ons almal sonde van die eerste mens, Adam, geërf het (Romeine 5:12). Dit lyk asof party vertalings dit weerspreek wanneer dit sê dat ’n goeie mens nie “sondig nie” (1 Johannes 3:6; Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Maar in die oorspronklike taal is die Griekse werkwoord vir “sondig” in 1 Johannes 3:6 in die teenwoordige tyd, wat in daardie taal gewoonlik op ’n voortgesette aksie dui. Daar is ’n verskil tussen oorgeërfde sonde, wat ons nie kan vermy nie, en die doelbewuste, voortgesette gewoonte om ongehoorsaam te wees aan God se wette. Party vertalings ruim dus hierdie skynbare teenstrydigheid uit die weg deur akkurate frases te gebruik soos “sonde beoefen” of “hou nie aan met sondig nie”.​—Nuwe Wêreld-vertaling; Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

Beginsel 7: Die Bybel, nie leerstellings nie

Is Jesus gelyk aan God of ondergeskik aan God? Jesus het eenkeer gesê: “Ek en die Vader is een”, wat skynbaar in stryd is met sy woorde: “Die Vader is groter as ek” (Johannes 10:30; 14:28). Om hierdie verse reg te verstaan, moet ons ondersoek wat die Bybel werklik oor Jehovah en Jesus sê, in plaas van die verse te probeer versoen met die Drie-eenheidsleer, wat nie op die Bybel gebaseer is nie. Die Bybel toon dat Jehovah nie net Jesus se Vader is nie, maar ook Jesus se God, die Een wat selfs deur Jesus aanbid word (Matteus 4:10; Markus 15:34; Johannes 17:3; 20:17; 2 Korintiërs 1:3). Jesus is nie gelyk aan God nie.

Die konteks van Jesus se woorde: “Ek en die Vader is een”, toon dat hy bedoel het dat hy en sy Vader, Jehovah God, een en dieselfde doel het. Jesus het later gesê: “Die Vader [is] in eenheid met my en ek [is] in eenheid met die Vader” (Johannes 10:38). Jesus en sy volgelinge het ook dieselfde eenheid van doel gehad, want hy het aangaande hulle tot God gebid: “Ek [het] hulle die heerlikheid gegee wat u my gegee het, sodat hulle een kan wees net soos ons een is. Ek in eenheid met hulle en u in eenheid met my.”​—Johannes 17:22, 23.

^ par. 8 Die Encyclopædia Britannica sê byvoorbeeld in ’n artikel oor die Taj Mahal dat “dit deur die Mughal-keiser Shah Jahān gebou is”. Maar hy het dit nie self gebou nie, want die artikel voeg by dat “meer as 20 000 werkers betrokke was” by die konstruksie daarvan.