Spring na inhoud

Is die Nuwe Wêreld-vertaling akkuraat?

Is die Nuwe Wêreld-vertaling akkuraat?

Die eerste deel van die Nuwe Wêreld-vertaling in Engels is in 1950 vrygestel. Sedertdien het sommige mense kommentaar gelewer oor die Nuwe Wêreld-vertaling of die akkuraatheid daarvan bevraagteken omdat dit soms van ander Bybelvertalings verskil. * Die redes vir hierdie verskille val gewoonlik in een van die volgende kategorieë:

  • Betroubaarheid. Die Nuwe Wêreld-vertaling is gegrond op die jongste vakkundige navorsing en die betroubaarste ou manuskripte. Daarenteen is die King James Version van 1611 gegrond op manuskripte wat dikwels nie so akkuraat en so oud is soos dié wat vir die Nuwe Wêreld-vertaling gebruik is nie.

  • Getrouheid. Die Nuwe Wêreld-vertaling streef daarna om die oorspronklike boodskap wat deur God geïnspireer is, getrou oor te dra (2 Timoteus 3:16). Baie Bybelvertalings volg menslike tradisies ten koste van getrouheid aan God se boodskap, deur byvoorbeeld God se persoonlike naam, Jehovah, te vervang met titels soos Here of God.

  • Letterlikheid. In teenstelling met geparafraseerde vertalings gee die Nuwe Wêreld-vertaling woorde letterlik weer solank dit nie ’n onnatuurlike vertaling tot gevolg het of die gedagte van die oorspronklike geskrifte verberg nie. Vertalings wat die Bybel se oorspronklike teks parafraseer, voeg moontlik menslike opinies by of laat belangrike besonderhede weg.

Verskille tussen die Nuwe Wêreld-vertaling en ander vertalings

Boeke wat weggelaat is. Die Rooms-Katolieke en Oosters-Ortodokse kerke sluit in hulle Bybels boeke in wat party as die Apokriewe ken. Maar hierdie boeke is nie in die Joodse kanon aanvaar nie, en dit is noemenswaardig dat die Bybel sê dat “die heilige verklarings van God aan [die Jode] toevertrou is” (Romeine 3:1, 2). Die Nuwe Wêreld-vertaling en baie ander moderne Bybelvertalings laat dus tereg die apokriewe boeke weg.

Verse wat weggelaat is. Party vertalings voeg verse en frases by wat nie in die oudste beskikbare Bybelmanuskripte voorkom nie, maar die Nuwe Wêreld-vertaling laat hierdie bygevoegde materiaal weg. Talle moderne vertalings laat hierdie latere byvoegings weg of erken dat hierdie byvoegings nie deur die gesaghebbendste bronne bevestig word nie. *

Bewoording wat verskil. Woord-vir-woord-vertalings is soms onduidelik of misleidend. Byvoorbeeld, Jesus se woorde in Matteus 5:3 word dikwels vertaal as: “Salig is die wat arm van gees is” (Ou Afrikaanse Bybelvertaling; English Standard Version; King James Version; New International Version). Baie vind dat die letterlike weergawe “arm van gees” onduidelik is, terwyl party dink dat Jesus die waarde van nederigheid of armoede beklemtoon het. Maar Jesus se punt was dat ons ware geluk sal vind as ons erken dat ons God se leiding nodig het. Die Nuwe Wêreld-vertaling dra die betekenis van sy woorde akkuraat oor deur dit te vertaal as “dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte”.—Matteus 5:3. *

Positiewe opmerkings oor die Nuwe Wêreld-vertaling van geleerdes wat nie Getuies is nie

  • In ’n brief gedateer 8 Desember 1950 het die bekende Bybelvertaler en geleerde Edgar J. Goodspeed oor die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte geskryf: “Ek stel belang in julle sendingwerk, en in die wêreldwye omvang daarvan, en is baie beïndruk met die vrye, duidelike en lewendige vertaling. Dit lewer oorvloedige bewys van groot kennis, waarvan ek kan getuig.”

    Edgar J. Goodspeed

  • Professor Allen Wikgren van die Universiteit van Chicago het die Nuwe Wêreld-vertaling gemeld as ’n voorbeeld van ’n vertaling in moderne taal wat nie op ander vertalings gegrond is nie, maar dikwels eerder “goeie, onafhanklike bewoording” gebruik.​—The Interpreter’s Bible, Deel I, bladsy 99.

  • Toe die Britse Bybelkritikus Alexander Thomson oor die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte kommentaar gelewer het, het hy geskryf: “Die vertaling is klaarblyklik die werk van bekwame en skrander geleerdes, wat probeer het om soveel van die ware betekenis van die Griekse teks weer te gee as wat die Engelse taal in staat is om uit te druk.”​—The Differentiator, April 1952, bladsy 52.

  • Hoewel die skrywer Charles Francis Potter die bewoording van ’n paar gedeeltes as ongewoon beskou het, het hy gesê: “Die anonieme vertalers het beslis die beste manuskriptekste, Grieks sowel as Hebreeus, gebruik en dit met vernuf en kundigheid vertaal.”—The Faiths Men Live By, bladsy 300.

  • Al het Robert M. McCoy gemeen dat die Nuwe Wêreld-vertaling eienaardige asook voortreflike kenmerke het, het hy sy oorsig daarvan afgesluit deur te sê: “Die vertaling van die Nuwe Testament is ’n bewys dat daar in die beweging [Jehovah se Getuies] geleerdes is wat bevoeg is om die talle probleme van Bybelvertaling op intelligente wyse op te los.”​—Andover Newton Quarterly, Januarie 1963, bladsy 31.

  • Professor S. MacLean Gilmour het wel nie saamgestem met die bewoording van party gedeeltes in die Nuwe Wêreld-vertaling nie, maar het nietemin erken dat die vertalers “oor buitengewone bevoegdheid in Grieks beskik het”.​—Andover Newton Quarterly, September 1966, bladsy 26.

  • Medeprofessor Thomas N. Winter het in sy oorsig van die Nuwe Wêreld-vertaling wat deel uitmaak van die Kingdom Interlinear Translation of the Greek Scriptures, geskryf: “Die vertaling deur die anonieme komitee is heeltemal modern en deurgaans akkuraat.”​—The Classical Journal, April-Mei 1974, bladsy 376.

  • Professor Benjamin Kedar-Kopfstein, ’n Hebraïkus in Israel, het in 1989 gesê: “In my taalkundige navorsing in verband met die Hebreeuse Bybel en vertalings raadpleeg ek dikwels die Engelse uitgawe van wat bekend staan as die New World Translation. Dit bevestig herhaaldelik my mening dat hierdie werk ’n opregte poging weerspieël om die teks so akkuraat moontlik weer te gee.”

  • Jason David BeDuhn, ’n medeprofessor in die godsdienswetenskap, het na aanleiding van sy ontleding van nege vername Engelse vertalings geskryf: “Die NW [Nuwe Wêreld-vertaling] is die akkuraatste van die vertalings wat vergelyk is.” Hoewel die algemene publiek en baie Bybelgeleerdes aanneem dat die verskille in die Nuwe Wêreld-vertaling die gevolg is van godsdiensvooroordeel aan die kant van die vertalers, het BeDuhn gesê: “Die meeste verskille kan toegeskryf word aan die groter akkuraatheid van die NW as ’n letterlike, konserwatiewe vertaling van die oorspronklike uitdrukkings van die skrywers van die Nuwe Testament.”​—Truth in Translation, bladsye 163, 165.

^ par. 2 Kommentare is van toepassing op uitgawes van die Nuwe Wêreld-vertaling voor die hersiening van 2013.

^ par. 8 Byvoorbeeld, sien die New International Version en die Katolieke New Jerusalem Bible. Die verse wat bygevoeg is, is Matteus 17:21; 18:11; 23:14; Markus 7:16; 9:44, 46; 11:26; 15:28; Lukas 17:36; 23:17; Johannes 5:4; Handelinge 8:37; 15:34; 24:7; 28:29; en Romeine 16:24. Die King James Version en die Ou Afrikaanse Bybelvertaling sluit ’n Trinitariese gedeelte in by 1 Johannes 5:7, 8, wat bygevoeg is honderde jare nadat die Bybel geskryf is.

^ par. 9 J.B. Calebs se vertaling gee Jesus se woorde eweneens weer met “dié wat weet dat hulle God nodig het”, en die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling gebruik die uitdrukking “dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is”.