Spring na inhoud

HULP VIR DIE GESIN | DIE HUWELIK

Hoe om geduldiger te word

Hoe om geduldiger te word

“’n Man en vrou se geduld word elke dag getoets. Wanneer jy ongetroud is, is dit dalk nie so ’n groot ding om geduldig te wees nie, maar dis baie belangrik as jy wil hê dat jou huwelik suksesvol moet wees.” – John.

 Hoekom is dit nodig om geduldig te wees?

  • Wanneer jy getroud is, sien jy jou maat se foute baie makliker raak.

    ““Wanneer jy langer getroud is, is dit maklik om op die swakpunte van jou maat te fokus. Wanneer jy sulke negatiewe gedagtes begin hê, kan jy gou ongeduldig word.” – Jessena.

  • Wanneer jy ongeduldig is, praat jy voordat jy dink.

    “Ek sê baie gou hoe ek voel – amper te gou. As ek geduldiger was, sou ek eers gedink het of dit nodig is om iets te sê en of ek dit net moet los.” – Carmen.

    Die Bybel sê: “Die liefde is lankmoedig [geduldig] en goedhartig” (1 Korintiërs 13:4). Dit is net logies dat twee mense wat lief is vir mekaar, geduldig met mekaar sou wees. Maar dit is nie altyd die geval nie. John, wat vroeër aangehaal is, sê: “Wanneer dit kom by goeie eienskappe, is dit makliker om ongeduldig te wees as om geduldiger te wees. Dit vat harde werk om geduldiger te word.”

 Hoe kan jy wys dat jy geduldig is?

  • Wanneer iets onverwags gebeur en dit jou geduld toets.

    Voorbeeld: Jou maat sê iets wat jou seermaak. Jou eerste reaksie is om terug te kap.

    Bybelwaarheid: “Moenie haastig wees in jou gees om aanstoot te neem nie, want om aanstoot te neem, rus in die boesem van die sotte [dom mense].” Prediker 7:9.

    Hoe om geduldig te wees: Wag eers. Voordat jy reageer, moenie dadelik dink dat jou maat jou gevoelens aspris wou seermaak nie. Die boek Fighting for Your Marriage sê: “Die meeste van ons reageer op wat ons dink ons maat gesê het eerder as op wat ons maat bedoel en eintlik gesê het.”

    Selfs al wou jou maat jou aspris ontstel, kan jy die situasie beter maak as jy geduldig is en nie dieselfde aan hom of haar doen nie. Die Bybel sê: “Waar daar geen hout is nie, gaan die vuur dood.” – Spreuke 26:20.

    “As jy begin dink dat jou vrou jou vyand is, stop en dink oor hoekom jy lief is vir haar en doen dadelik iets vir haar.” – Ethan.

    Iets om oor te dink:

    • Hoe reageer jy wanneer jou maat iets sê of doen wat jou seermaak?

    • Hoe kan jy geduldiger wees as dit weer gebeur?

  • Wanneer jou maat oor en oor iets doen wat jou irriteer.

    Voorbeeld: Jou maat is altyd laat terwyl jy moet wag – en dit maak jou woedend.

    Bybelwaarheid: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe.” – Kolossense 3:13.

    Hoe om geduldig te wees: Probeer om jou huwelik eerste te stel en nie jouself nie. Vra jou af: ‘Sal dit ons verhouding help of seermaak as ek nou kwaad raak oor iets wat gebeur het?’ Onthou ook: “Ons almal struikel dikwels” (Jakobus 3:2). Dit beteken dat jy ook dinge het om aan te werk.

    “Partykeer is ek geduldiger met my vriende as met my man. Ek dink dis omdat ek meer tyd met my man spandeer en ek sy foute raaksien. Maar geduld is ’n aspek van liefde – eintlik ’n teken van respek – so dit is noodsaaklik vir my huwelik.” – Nia.

    Iets om oor te dink:

    • Hoe geduldig is jy as dit kom by jou maat se foute?

    • Hoe kan jy in die toekoms geduldiger wees?