Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Psalm 37:4 – “Vind jou vreugde in die Here”

Psalm 37:4 – “Vind jou vreugde in die Here”

 “Vind jou grootste vreugde in Jehovah, en hy sal jou die begeertes van jou hart gee.” – Psalm 37:4, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.” – Psalm 37:4, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (1983).

Betekenis van Psalm 37:4

 Die skrywer van Psalm moedig aanbidders van God aan om vreugde te vind as gevolg van ’n hegte vriendskap met Hom. Almal wat so ’n vriendskap geniet, kan seker wees dat Jehovah a God hulle gepaste begeertes sal vervul.

 “Vind jou grootste vreugde in Jehovah.” Hierdie uitdrukking kan ook weergegee word as “verlustig jou in Jehovah”, “vind vreugde om die HERE te dien” of “vind vreugde in dit wat die HERE jou belowe het”. Die idee is dat ons ‘ons grootste vreugde moet vind’ deur die ware God te aanbid (Psalm 37:4). Hoekom kan ons so sê?

 Diegene wat Jehovah aanbid, beskou dinge uit sy perspektief, soos dit in die Bybel uiteengesit word. Hulle ken God nie net nie, maar hulle is ook wys genoeg om gehoorsaam te wees aan hom. As gevolg daarvan het hulle ’n goeie gewete en vermy hulle baie foute en slegte besluite (Spreuke 3:5, 6). Byvoorbeeld, wanneer dit lyk asof gierige of oneerlike mense suksesvol is, laat God se volk nie toe dat woede of afguns hulle innerlike vrede wegneem nie (Psalm 37:1, 7-9). God se volk is bly om te weet dat hy binnekort ’n einde sal maak aan alle ongeregtigheid en die getroues sal beloon vir hulle goeie gedrag (Psalm 37:34). Hulle is ook baie bly om te weet dat hulle hemelse Vader hulle goedkeur. – Psalm 5:12; Spreuke 27:11.

 “Hy sal jou die begeertes van jou hart gee.” Hierdie woorde kan ook vertaal word met “hy sal jou gebede beantwoord” of “hy sal jou gee wat jy die meeste begeer”. Maar Jehovah sal ons nie net gee waarvoor ons vra nie. Soos ’n goeie ouer, weet Jehovah wat die beste vir Sy kinders is. Wat meer is, ons versoeke en ons leefstyl moet ooreenstem met sy standaarde en sy wil (Spreuke 28:9; Jakobus 4:3; 1 Johannes 5:14). Dan kan ons tot die “Hoorder van gebed” bid in die vertroue dat hy na ons sal luister. – Psalm 65:2; Matteus 21:22.

Konteks van Psalm 37:4

 Psalm 37 was geskryf deur koning Dawid van eertydse Israel. Hy het die psalm in ’n alfabetiese styl geskryf. b

 Dawid was baie keer onregverdig behandel. Hy was gejag deur koning Saul en ander wat hom wou doodmaak (2 Samuel 22:1). Tog het Dawid heeltemal op sy God vertrou. Dawid het geweet dat Jehovah uiteindelik die goddeloses sou straf (Psalm 37:10, 11). Selfs al lyk dit asof hulle suksesvol is, sal hulle soos “groen, nuwe gras” uiteindelik verdwyn. – Psalm 37:2, 20, 35, 36.

 Psalm 37 wys die verskil tussen wat sal gebeur met diegene wat God se standaarde volg en diegene wat dit ignoreer (Psalm 37:16, 17, 21, 22, 27, 28). Daarom help die psalm ons om wysheid te kry en die soort persone te wees wat God goedkeur.

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek Psalms te kry.

a Jehovah is die algemene Afrikaanse vertaling van die persoonlike naam van God in Hebreeus. Om uit te vind hoekom so baie Bybelvertalings die titel Here in plaas van God se persoonlike naam gebruik, sien die artikel “Wie is Jehovah?

b In hierdie styl begin die eerste vers of groep verse met die eerste letter van die Hebreeuse alfabet, die tweede groep met die tweede letter, ensovoorts. Hierdie manier van skryf het mense moontlik gehelp om die psalm te onthou.