Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is jy teleurgestel in God?

Is jy teleurgestel in God?

“WAAROM het dit met my gebeur? Waarom het God dit toegelaat?” Dit is vrae wat die 24-jarige Sidnei van Brasilië gekwel het. Ná ’n ongeluk op ’n waterglybaan was hy permanent in ’n rolstoel.

Wanneer mense ly as gevolg van ’n ongeluk, siekte, die dood van ’n geliefde, natuurrampe of oorlog, kan dit hulle maklik teleurgesteld in God laat voel. Dit is niks nuuts nie. Die aartsvader Job van die ou tyd is deur een ramp ná die ander getref. Hy het God verkeerdelik blameer en gesê: “Ek roep tot u om hulp, maar u antwoord my nie; ek het gaan staan, sodat u op my sou ag gee. U verander u om wreed teenoor my te word; met die volle mag van u hand is u my vyandiggesind.”—Job 30:20, 21.

Job het nie geweet wie hierdie rampspoed veroorsaak het, waarom dit met hom gebeur het of waarom dit toegelaat is nie. Gelukkig sê die Bybel vir ons waarom sulke dinge gebeur en hoe ons daarop moet reageer.

WOU GOD HÊ DAT MENSE MOES LY?

Die Bybel sê aangaande God: “Die Rots, volmaak is sy werk, want al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid, by wie daar geen onreg is nie; regverdig en reg is hy” (Deuteronomium 32:4). Maak dit dan sin om te sê dat ’n God wat “regverdig en reg” is, sou wou hê dat mense moes ly of dat hy rampspoed gebruik om hulle te straf of te reinig?

Nee, inteendeel, die Bybel sê: “Laat niemand, wanneer hy beproef word, sê: ‘Ek word deur God beproef’ nie. Want met bose dinge kan God nie beproef word nie, en ook beproef hy self niemand nie” (Jakobus 1:13). Trouens, ons sien in die Bybel dat God die mensdom ’n volmaakte begin gegee het. Hy het die eerste mense, Adam en Eva, ’n pragtige tuiste, al hulle lewensbenodigdhede asook betekenisvolle werk gegee. God het vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit.” Adam en Eva het beslis geen rede gehad om in God teleurgestel te wees nie.—Genesis 1:28.

Maar vandag is mense se lewensomstandighede allesbehalwe volmaak. Trouens, deur die geskiedenis heen het die mens hom in ’n treurige toestand bevind. Die volgende woorde som die situasie goed op: “Ons weet dat die hele skepping tot nou toe voortdurend saam kreun en saam pyn ly” (Romeine 8:22). Wat het dan gebeur?

WAAROM IS DAAR LYDING?

Om te verstaan waarom daar lyding is, moet ons teruggaan na die tyd toe dit begin het. ’n Opstandige engel, wat later Satan die Duiwel genoem is, het Adam en Eva oorreed om God se standaarde van reg en verkeerd te verwerp. Hierdie standaarde is verteenwoordig deur die bevel dat hulle nie van “die boom van die kennis van goed en kwaad” moes eet nie. Die Duiwel het vir Eva gesê dat hulle nie sal doodgaan as hulle aan God ongehoorsaam is nie, en sodoende het hy God van leuens beskuldig. Satan het God ook daarvan beskuldig dat hy sy onderdane die reg ontsê om te besluit wat goed en wat kwaad is (Genesis 2:17; 3:1-6). Satan het geïmpliseer dat die mensdom beter sou vaar sonder God se heerskappy. Dit alles het ’n uiters belangrike geskil geopper—Is God bekwaam om te heers?

Die Duiwel het nog ’n geskil geopper. Hy het mense daarvan beskuldig dat hulle God weens selfsugtige beweegredes dien. Aangaande die getroue Job het die Duiwel vir God gesê: “Het u nie self om hom en om sy huis en om alles wat hy het, aan alle kante, ’n heining geplaas nie? . . . Maar steek vir ’n verandering asseblief u hand uit en raak alles aan wat hy het en kyk of hy u nie in u aangesig sal vervloek nie” (Job 1:10, 11). Hoewel Satan van Job gepraat het, het hy geïmpliseer dat alle mense God weens selfsugtige beweegredes dien.

HOE GOD DIE GESKILLE OPLOS

Wat sou die beste manier wees om hierdie uiters belangrike geskille eens en vir altyd op te los? Die alwyse God het die beste oplossing gehad—een wat ons nie teleurstel nie (Romeine 11:33). Hy het besluit om die mensdom toe te laat om ’n tyd lank oor hulleself te heers, en die resultate sou bewys wie se heerskappy die beste is.

Die treurige toestande wat vandag op die aarde heers, voorsien duidelike bewyse dat menseheerskappy heeltemal misluk het. Die wêreld se regerings het nie daarin geslaag om vrede, veiligheid en geluk mee te bring nie, en wat meer is, hulle het die aarde tot op die randjie van uitwissing gebring. Dit bevestig die grondwaarheid wat in die Bybel opgeteken is: “Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Net God se manier van regeer kan blywende vrede, geluk en voorspoed vir die mensdom verseker, want dit is God se voorneme.—Jesaja 45:18.

Hoe sal God sy voorneme met die mens vervul? Onthou dat Jesus sy volgelinge geleer het om te bid: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:10). Ja, op sy bestemde tyd sal God alle oorsake van lyding deur middel van sy Koninkryk verwyder (Daniël 2:44). Armoede, siekte en die dood sal iets van die verlede wees. Aangaande die armes sê die Bybel: “[God] sal die arme verlos wat om hulp roep” (Psalm 72:12-14). Wat dié betref wat siek is, belowe die Bybel: “Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie” (Jesaja 33:24). Selfs wanneer dit kom by die dooies wat in God se geheue is, het Jesus gesê: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, sy stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Hoe hartverblydend is hierdie beloftes tog!

As ons geloof in God se beloftes opbou, help dit ons om enige gevoel van teleurstelling in hom te oorkom

HOE OM TELEURSTELLING TE OORKOM

Ongeveer 17 jaar ná sy ongeluk het Sidnei, wat aan die begin van hierdie artikel genoem is, gesê: “Ek het Jehovah God nooit vir die ongeluk blameer nie, maar ek moet erken dat ek aan die begin in hom teleurgestel was. Daar is dae wanneer ek baie hartseer voel, en ek huil wanneer ek dink aan my gestremdheid. Maar ek het uit die Bybel geleer dat die ongeluk nie ’n straf van God was nie. Soos die Bybel sê: ‘Tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref ons almal.’ Om tot Jehovah te bid en spesifieke tekste te lees het my geestelik sterker gemaak en my gehelp om positief te bly.”—Prediker 9:11; Psalm 145:18; 2 Korintiërs 4:8, 9, 16.

As ons in gedagte hou waarom God lyding toelaat en hoe die gevolge daarvan binnekort ongedaan gemaak sal word, help dit ons om enige gevoel van teleurstelling in God te oorkom. Ons word verseker dat God “die beloner [is] van dié wat hom ernstig soek”. Niemand wie se geloof op hom en sy Seun gegrond is, sal teleurgestel word nie.—Hebreërs 11:6; Romeine 10:11.