Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die tyd om behoeftiges te help?

Die tyd om behoeftiges te help?

“Hy wat ’n goedgunstige oog het, sal geseën word, want hy het van sy voedsel vir die geringe gegee.”—SPREUKE 22:9.

’n Rede waarom party Kersfees vier.

Omdat Jesus arm, siek en geteisterde mense gehelp het, wil party sy voorbeeld volg. Hulle voel dat Kersfees moontlik die beste tyd is om dit te doen, aangesien baie liefdadigheidsorganisasies dan ’n spesiale poging aanwend om bydraes in te samel.

Waarom is dit ’n uitdaging?

Gedurende die Kersseisoen is baie mense druk besig om inkopies te doen, gaste te onthaal en by vriende en familie te kuier. Hulle het gevolglik min tyd, energie of geld oor om die armes en behoeftiges te help, behalwe om miskien ’n bydrae te gee.

Watter Bybelbeginsels kan jou help?

“Moenie die goeie terughou van dié aan wie dit toekom wanneer dit in die mag van jou hand is om dit te doen nie” (Spreuke 3:27). Arm, honger en geteisterde mense ly nie net gedurende die Kerstyd nie. Hoef ’n mens vir ’n vakansieseisoen te wag om ’n behoeftige te help as dit in “die mag van jou hand is” om dit te doen? Jou goedhartigheid en medelydende dade sal geseën word.

“Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle by sy eie huis iets opsysit en opspaar na gelang van sy voorspoed” (1 Korintiërs 16:2). Die apostel Paulus het hierdie raad aan vroeë Christene gegee wat die armes wou help. Kan jy geld “opsysit” wat jy gereeld aan individue of aan ’n organisasie kan gee wat sy fondse wyslik gebruik? Sodoende verseker jy dat jy die behoeftiges help, maar nog steeds binne jou vermoë gee.

“Moet . . . nie vergeet om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want sulke offerandes is vir God welbehaaglik” (Hebreërs 13:16). Let daarop dat ons nie net “mededeelsaam [moet] wees” nie, maar ook moet onthou “om goed te doen”, of ander te help. Wyse ouers lei byvoorbeeld hulle kinders op om die bejaardes met alledaagse takies te help, om die siekes deur middel van ’n kaartjie, ’n besoek of ’n telefoonoproep aan te moedig en om persoonlike belangstelling te toon in ander kinders wat arm is of ’n liggaamsgebrek het. Sodoende leer kinders om heeljaar goedhartig en vrygewig te wees.

Wyse ouers lei hulle kinders op om die bejaardes, die siekes en minder bevoorregte kinders te help. So leer kinders om heeljaar goedhartig en vrygewig te wees