Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die gebruik van skoonheidsmiddels in Bybeltye

Die gebruik van skoonheidsmiddels in Bybeltye

Die skoonheidsbehandeling van sommige vroue in Bybeltye het die gebruik van skoonheidsmiddels vir die oë, gesig en vel ingesluit

Nadat die vrou gebad het, smeer sy geurige olie aan haar sagte vel. Dan maak sy ’n kleurvol versierde kissie oop waarin daar ’n verskeidenheid klein botteltjies, kruike en potjies van glas, ivoor, skulp en klip is. Daarin hou sy verskillende geurige olies en parfuums wat van balsem, kardemom, kaneel, wierook, heuning, mirre, ensovoorts berei is.

Die vrou haal etlike fyn lepeltjies en bakkies uit die kissie. Sy gebruik dit om die skoonheidsmiddels wat sy vir die dag gekies het, te meng. Terwyl sy in ’n bronsspieël kyk, begin sy haar met groot sorg mooimaak.

VROUE is al blykbaar van die vroegste tye af baie gesteld daarop om hulle mooi te maak. Vroeë graf- en muurskilderye sowel as mosaïeke gee te kenne dat die gebruik van skoonheidsmiddels algemeen was onder die mense van eertydse Mesopotamië en Egipte. Die swaar gegrimeerde amandelvormige oë van beelde van Egiptiese vroue is grootliks bewonder.

Maar wat van die Israeliete? Het vroue van eertydse Israel skoonheidsmiddels gebruik? En indien wel, watter soort skoonheidsmiddels het hulle gebruik? Daar is natuurlik geen graf- en muurskilderye van eertydse Israel waarna ons kan verwys nie. Maar sekere Bybelverslae sowel as verskeie argeologiese artefakte wat in Bybellande opgegrawe is, kan vir ons ten minste ’n aanduiding gee van die gebruik van skoonheidsmiddels in Bybeltye.

Die instrumente wat gebruik is

Kalksteenpalette vir skoonheidsmiddels, Israel

Tallose artikels wat verband hou met die gebruik van skoonheidsmiddels en parfuums is oral in Israel opgegrawe. Klipbakke of palette waarin skoonheidsmiddels fyngemaak en gemeng is, wortelvormige parfuumbottels, albasteflesse vir salf sowel as handspieëls van gepoleerde brons is van die artikels wat gevind is. Een ivoorlepel se steel het uitgekerfde palmblare aan die een kant en ’n vrou se kop met duiwe aan weerskante aan die ander kant.

Versierde skulpe was blykbaar gewild as houers vir skoonheidsmiddels onder die rykes. Klein kosmetiese lepeltjies van ivoor of hout, waarvan party in die vorm van meisies wat swem of verskeie ander delikate ontwerpe uitgekerf is, is ook in Egipte en by Kanaänitiese terreine gevind. Die voorgaande toon hoe algemeen die gebruik van skoonheidsmiddels destyds onder vroue was.

Vir die oë

In die Bybel word een van Job se dogters “Keren-Happug” genoem. In Hebreeus kon hierdie naam “Horing van die swart (oog)verf” beteken het, met ander woorde, ’n houer of kissie waarin grimering, moontlik kohl, of ooggrimering, gebêre is (Job 42:14). Die naam kon verwys het na hoe pragtig sy was, maar dit dui ook blykbaar aan dat skoonheidsmiddels destyds gebruik is.

 Interessant genoeg, in die Bybel hou verwysings na die gebruik van oogverf altyd verband met berugte vroue soos die geslepe koningin Isebel en ontroue Jerusalem, wat deur die profete Jeremia en Esegiël as ’n prostituut uitgebeeld is (2 Konings 9:30; Jeremia 4:30; Esegiël 23:40). Te oordeel aan die groot aantal glas- of kliphouers tesame met klein grimeerspatelle vir die aanwending van kohl-oogomlyner wat opgegrawe is, is dit duidelik dat baie vroue in afvallige Israel—veral die adellikes en rykes—die gebruik aangeneem het om hulle swaar te grimeer met oogomlyner en ander grimeermiddels.

Welriekende olie vir godsdienstige of niegodsdienstige gebruik

Die vervaardiging en gebruik van parfuums met ’n olyfoliebasis het ’n lang geskiedenis in eertydse Israel. In die Bybelboek Eksodus is daar ’n resep vir die heilige welriekende olie wat die priesters by die tempel gebruik het. Dit is ’n mengsel van kaneel, mirre en ander aromatiese plante (Eksodus 30:22-25). In Jerusalem het argeoloë ’n gebou gevind wat hulle vermoed ’n eerste-eeuse  werkswinkel was waar parfuum en wierook vir gebruik by die tempel gemaak is. Die Bybel verwys talle kere na welriekende olie, wat vir godsdienstige en alledaagse gebruik bedoel is.—2 Kronieke 16:14; Lukas 7:37-46; 23:56.

Terracotta- parfuumkruikie, Israel

Omdat water skaars was in hierdie deel van die wêreld, het geparfumeerde olies goed te pas gekom. Olie is nie net gebruik om die vel in die warm, droë klimaat te beskerm nie, maar ook vir die kosmetiese voordele daarvan (Rut 3:3; 2 Samuel 12:20). Voordat die Joodse maagd Ester voor koning Ahasveros verskyn het, het sy ’n jaarlange “spa”-behandeling ontvang—sy is ses maande met mirre-olie en nog ses maande met balsemolie gemasseer.—Ester 2:12.

Parfuums en welriekende olies was net so waardevol as silwer en goud. Toe die koningin van Skeba haar epiese reis na koning Salomo onderneem het, het die waardevolle geskenke wat sy gebring het goud, edelstene en balsemolie ingesluit (1 Konings 10:2, 10). Toe koning Hiskia die skatte van sy huis aan die gesante van Babilon gewys het, is “die balsemolie en die goeie olie” saam met die silwer, die goud en sy hele wapenhuis met trots vertoon.—Jesaja 39:1, 2.

Slegs klein hoeveelhede parfuum of olie kon uit die verskeie blomme, vrugte, blare, harse of bas verkry word. Die Bybel noem ’n aantal van hierdie aromatiese plante, soos aalwyn, balsem, balsemgom, kalmoes, kassia, kaneel, wierook, mirre, saffraan en nardus. Party was inheems en het in die Jordaanvallei gegroei. Ander is langs die beroemde reukwerkhandelsroetes van Indië, Suid-Arabië en elders ingevoer.

Balsemolie—In geheimsinnigheid gehul

Balsemolie word in die Bybel gemeld in die verslae oor koningin Ester, die koningin van Skeba en koning Hiskia, soos ons hierbo gesien het. In 1988 is ’n klein kruik olie ontdek in ’n grot naby Qumran, aan die weskus van die Dooie See. Dit het tot baie bespiegelinge gelei. Was dit die laaste bietjie van hierdie gesogte olie? Navorsers kan nie met sekerheid sê nie. Tot vandag toe nog probeer kwekers die eens beroemde balsemboorde hervestig.

Ivoorhouer vir skoonheidsmiddels, Israel

Volgens bewyse was die balsemolie wat in die Bybel genoem word, blykbaar in die gebied om En-Gedi vervaardig. Oonde, kruike en verskeie voorwerpe van metaal sowel as been, wat uit die sesde eeu VHJ dateer en soortgelyk is aan dié wat in ander gebiede vir parfuumvervaardiging gebruik is, is al opgegrawe. Die meeste geleerdes glo dat die balsembos oorspronklik van Arabië of Afrika kom. Die reuk is uit die sap verkry. Balsemolie was so waardevol dat die verbouings- en vervaardigingsmetodes geheim gehou is.

Balsem is selfs as ’n politieke onderhandelingsmiddel gebruik om guns te wen. Byvoorbeeld, volgens die geskiedskrywer Josefus het Markus Antonius ’n hele boord van hierdie waardevolle plante verkry en dit as ’n geskenk aan die Egiptiese koningin Kleopatra aangebied. Die Romeinse geskiedskrywer Plinius sê dat Joodse vegters gedurende die Joodse Oorlog in die eerste eeu HJ al die balsemplante probeer vernietig het om te keer dat dit in die hande van die verowerende Romeine val.

Bybelnaslaanwerke en argeologiese ontdekkings gee ons ’n blik op die gebruik van skoonheidsmiddels onder die volke van Bybeltye. Die Bybel veroordeel nie die gebruik van skoonheidsmiddels en ander versierings nie, maar beklemtoon eerder dat dit met beskeidenheid en gesonde verstand gebruik moet word (1 Timoteus 2:9). Die apostel Petrus het gesê dat ’n “stille en sagmoedige gees . . . in die oë van God van groot waarde is”. Wanneer ’n mens in ag neem dat style en modes gedurigdeur verander, is dit beslis goeie raad vir Christenvroue, hetsy jonk of oud.—1 Petrus 3:3, 4.