Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Die geskiedenis lieg nie”

“Die geskiedenis lieg nie”

Op 14 Junie 2007 het die Estiese Nasionale Posdiens ’n gedenkseël (regs) uitgereik. Toe die gedenkseël vrygestel is, is die volgende aankondiging gemaak: “Hierdie soeweniervel is uitgereik ter nagedagtenis aan die slagoffers van die volksmoord van die Estlanders deur Stalin.” Tussen 1941 en 1951 is tienduisende Estlanders teen hulle sin gedeporteer.

“DIE geskiedenis lieg nie.” Dit is ’n bekende Estiese gesegde, en daar is soortgelyke gesegdes in ander lande. Ja, ons kan nie die verlede verander nie, maar ons kan beslis daaruit leer. Wyse koning Salomo van eertydse Israel het gesê: “Dit alles het ek gesien deurdat ek my hart gerig het op elke werk wat onder die son gedoen word, in ’n tyd waarin die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk.”—Prediker 8:9, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.

Wat ’n paar dekades gelede in Estland, sowel as in baie ander dele van Oos-Europa, gebeur het, het die Bybel se woorde in hierdie teks op treffende wyse beaam. Menseheerskappy het lyding oor tallose onskuldige mense gebring wat teen hulle sin na verafgeleë plekke gedeporteer is, waar hulle hervestig of in strafkampe opgesluit is.

Volgens plaaslike geskiedkundiges is meer as 46 000 burgerlikes tussen 1941 en 1951 uit hierdie klein land gedeporteer. Die meeste van hulle het teikens geword weens hulle politieke bande, ander weens hulle nasionaliteit of sosiale status. Maar Jehovah se Getuies het slagoffers van hierdie onreg geword as gevolg van hulle godsdiensoortuigings.

’n Aanval op godvresende mense

In ’n studie wat in 2004 deur die Tartu University Press gepubliseer is, het die geskiedkundige Aigi Rahi-Tamm gesê: “Vanaf 1948 tot 1951 is 72 van Jehovah se Getuies in hegtenis geneem, insluitende mense wat met hulle geassosieer het. Maar ’n veel groter deportasie is beplan en op die aand van 1 April 1951 uitgevoer, nie net in die Baltiese State nie, maar ook in Moldowa, Wes-Oekraïne en Belo-Rusland.”

Voor 1951 is Jehovah se Getuies in Estland onderwerp aan inhegtenisnames, sielkundige druk, ondervraging en gevangenskap. Hierdie nuwe veldtog van deportasie was ’n volskaalse poging om Jehovah se Getuies in Estland geheel en al uit te wis.

Die datum 1 April 1951 verskyn op die seël waarvan hierbo melding gemaak word. Die  getal 382 op die seël verwys na die aantal Getuies en hulle kinders wat op daardie dag gedeporteer is. Hierdie getal sluit familielede en bure in wat nie Getuies was nie. Gedurende die dag is mense regoor die land in hegtenis geneem. Daardie aand is diegene wat in hegtenis geneem is—jonk en oud—in veewaens op treine ingebondel en na Siberië geneem.

Ella Toom

Ella Toom *, wat destyds 25 jaar oud was, was een van Jehovah se Getuies. Sy vertel hoe hulle gewoonlik ondervra is en sê: “’n Beampte het my probeer bang maak en beveel dat ek ophou preek. Hy het my gevra: ‘Wil jy bly lewe? Of wil jy saam met jou God op die vlaktes van Siberië sterf?’” Maar Ella het vreesloos aangehou om die goeie nuus te verkondig. Sy is na Siberië gestuur en is oor ’n tydperk van byna ses jaar van die een strafkamp na die ander oorgeplaas.

Onder die honderde mense wat sonder ’n verhoor gedeporteer is, was nog ’n jong Getuievrou, Hiisi Lember. Sy vertel wat op 1 April 1951 gebeur het: “Hulle het heeltemal onverwags daardie aand gekom en ons beveel: ‘Julle het ’n halfuur. Pak julle goed!’” Onder die sluier van die nag is Hiisi en haar sesjarige dogtertjie na die treinstasie geneem. Die trein het van stasie na stasie gegaan en nog Getuies opgelaai. “Ons is in ’n veewa gegooi. Gelukkig was die dieremis gevries; anders sou dit moeilik gewees het om daarin te staan. Ons was soos diere wat in ’n hok geprop is.”

Die uitmergelende twee week lange treinrit was traumaties. Die veewaens was oorvol en vuil. Jonk en oud is op elke denkbare manier verneder. Sommige van hulle het gehuil en geweier om te eet. Maar die Getuies het mekaar aangemoedig en gehelp deur lofliedere te sing en die kos wat hulle gehad het, met mekaar te deel. Hulle is na ’n “permanente nedersetting” gestuur en daar is vir hulle gesê dat dit ’n “eenrigtingreis” is.

Hiisi Lember en haar dogter, Maaja

Hiisi vertel van die hartverblydende ondersteuning wat medegelowiges haar gedurende hierdie wedervaring gegee het: “By een stasie het ons langs ’n trein van Moldowa gestop. Deur die kante van die veewa het ons ’n man hoor vra wie ons is en waarheen ons op pad is. Ons het vir hom gesê dat ons nie weet waarheen ons op pad is nie en dat ons Jehovah se Getuies van Estland is. Mede-Getuies in die trein van Moldowa het die gesprek gehoor. Deur ’n opening in die veewa het hulle vir ons ’n groot brood en pruimedante gegooi.” Sy sê verder: “Ons het toe eers begin besef hoe uitgebreid die inhegtenisnames van Jehovah se Getuies was—dat dit in al die republieke van die Sowjetunie gebeur het!”

Twee Getuie-tienermeisies—Corinna en haar suster Ene—is meer as ses jaar lank van hulle moeder geskei. Hulle moeder, ook een van Jehovah se Getuies, is vroeër in hegtenis geneem en na ’n strafkamp gestuur. Toe, op daardie rampspoedige nag in April, is die twee meisies eenvoudig van hulle huis af weggeneem en in ’n veewa gelaai. Corinna sê dankbaar: “Op die trein het ’n Getuie met twee kinders aangebied om vir ons te sorg en ons verseker dat ons saam met haar en haar kinders as ’n gesin kan woon.”

Wat het by hulle bestemming gebeur? Die dag nadat hulle in die koue Siberiese wildernis  aangekom het, was daar ’n vernederende “slawemark”. Manne van nabygeleë gemeenskapsplase het gekom om werkers vir hulle plase te kies. Corinna vertel: “Ons het gehoor hoe hulle onder mekaar redekawel: ‘Jy het reeds ’n drywer vir jou trekker. Hierdie een is myne’, of ‘Ek het reeds twee oues gekry. Jy moet ook ’n paar van die oues neem.’”

Ene en haar suster, Corinna

Corinna en Ene was dapper meisies. Hulle het later gesê: “Ons het ons ma baie gemis, en hoe het ons tog daarna verlang om weer in haar liefdevolle arms te wees!” Nogtans het hulle geestelik sterk gebly en nie hulle sin vir humor verloor nie. Corinna sê verder: “Dit was eintlik goed dat ma ons nie gesien het nie, want soms moes ons buite in die bitter koue werk, al was ons nie warm aangetrek nie.”

Ja, onskuldige mense in Estland en elders het groot onregte gely, en Jehovah se Getuies as ’n groep was onder hulle. (Sien die venster “Onbeskryflike ‘omvang van vrees’”.) Ondanks sulke mishandeling en lyding in die verlede is Jehovah se Getuies in Estland nog steeds ’n bedrywige, gelukkige groep mense.

’n Blink toekoms

Die Bybel verseker ons dat Jehovah God ongeregtigheid haat. Dit sê: “Elkeen wat hierdie dinge doen, elkeen wat onreg doen, is vir Jehovah jou God verfoeilik” (Deuteronomium 25:16). Hoewel God goddeloosheid in die verlede geduld het, sal die tyd binnekort aanbreek wanneer hy ongeregtigheid en goddeloosheid sal uitwis. “Nog net ’n klein rukkie”, sê die psalmis, “en die goddelose sal daar nie meer wees nie; en jy sal beslis ag gee op sy plek, en hy sal daar nie wees nie. Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”—Psalm 37:10, 11.

Ja, ’n blink toekoms wag op ons! Hoewel ons nie die verlede kan verander nie, kan ons stappe doen om ons toekoms te verseker. Kom nader aan God en vind uit hoe jy deel kan hê aan die wonderlike toekoms waarin ware regverdigheid sal heers.—Jesaja 11:9.

^ par. 10 Ella Toom se lewensverhaal verskyn in die Ontwaak! van April 2006, bladsye 20-24.