Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Brief uit Benin

Waarin het ek my nou begewe?

Waarin het ek my nou begewe?

DIT was ’n tipiese oggend in Wes-Afrika. Die geur van kokende souse en rys het in die lug gehang. Vroue het verbygeloop met ongelooflike vragte op hulle kop. Die klank van hartlike gelag het gemeng met dié van mense wat geesdriftig oor die prys van artikels kibbel. Die son het gou op die aarde begin neerbak.

Toe ’n groep kinders ’n Yovo, of wit persoon, sien, het hulle weggeval met hulle gebruiklike liedjie en dans. Die liedjie het begin met “Yovo, Yovo, bon soir” en geëindig met “Wat van ietsie vir die liedjie en dans?” Een seuntjie het nie gesing nie. Toe ek verder stap, het hy my gevolg en met sy hande begin beduie. Dit het soos gebaretaal gelyk. In die Verenigde State het ek geleer om in Amerikaanse Gebaretaal (ASL) te spel, maar Benin is ’n Franssprekende land.

Ek het die agt letters van my naam met ’n gesukkel in gebaretaal gespel. ’n Groot glimlag het oor die seuntjie se gesig uitgebreek. Hy het my hand gegryp en my gelei deur ’n paar smal strate na sy huis, ’n tipiese sintelsteengebou met twee vertrekke. Sy gesin het om ons saamgedrom. Almal het tegelyk in gebaretaal gepraat. Wat nou? Ek het my naam in gebaretaal gespel en toe op ’n stukkie papier geskryf dat ek ’n sendeling is wat mense die Bybel leer en dat ek sal terugkom. ’n Paar horende bure het by ons aangesluit en het almal goedkeurend geknik. ‘Waarin het ek my nou begewe?’ het ek gewonder.

Terug by die huis het ek gedink: “Daar moet iemand wees wat hierdie mense kan leer van God se belofte: ‘Die ore van die dowes sal ontsluit word’” (Jesaja 35:5). Ek het ’n bietjie navorsing gedoen. Volgens ’n onlangse sensus was daar 12 000 dowe en hardhorende mense in Benin. My oë het gerek toe ek uitvind dat ASL, nie Franse Gebaretaal nie, in die skole vir dowes gebruik word. Maar ongelukkig het nie één van Jehovah se Getuies hier ASL geken nie. Ek het sugtend vir ’n plaaslike Getuie gesê: “Ek wens iemand wat ASL ken, kan kom help.” Sy het geantwoord: “Maar jy’s mos hier.” Sy was reg! Ek het ’n selfhelpboek bestel, asook die DVD’s in ASL wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word. My gebede om hulp is verhoor toe ’n Getuie wat ASL goed ken, van Kameroen na Benin getrek het.

Die nuus dat ek gebaretaal leer, het versprei. Daar is vir my gesê dat ek Brice, ’n letterskilder, moet besoek. Sy atelier, of werkswinkel, was gemaak van palmblare wat aanmekaargewerk is, en dit was heerlik koel ondanks die bedompige klimaat. Die mure was al die kleure van die reënboog omdat hy al jare lank sy kwaste daarteen skoonmaak. Hy het ’n paar stoeltjies afgestof en my stip aangekyk terwyl hy vir my gewag het om te begin. Ek het ’n DVD in my draagbare speler gesit. Hy het sy stoeltjie nader aan die klein skerm getrek. “Ek verstaan! Ek verstaan!” het hy in gebaretaal gesê. Kinders van die buurt het saamgedrom en hulle nek gerek om te sien. Een het gevra: “Waarom kyk hulle na ’n rolprent sonder klank?”

Elke keer wanneer ek na Brice teruggegaan het, het die groepie om die DVD-speler groter geword. Kort voor lank het Brice en ander ons Christelike vergaderinge begin bywoon. My pogings om vir hulle te tolk, het my gehelp om gebaretaal vinniger te leer. Toe die groep groter geword het, het party selfs na my kom soek. Byvoorbeeld, eendag het my ou motor gesteun en gekreun uit protes wanneer ek deur slaggate gery het in ’n poging om rondloperbokke en -varke te vermy. Toe was daar skielik ’n slag van agter. ‘Ag nee’, het ek gedink, ‘die motor gaan tog nie al weer staan nie!’ Nee, dit was ’n dowe man wat agter my aan gehardloop het en my aandag probeer trek het op die beste manier wat hy kon—deur op my motor te slaan!

ASL-groepe is in ander stede gevorm. Toe gebaretaalsessies by ons jaarlikse streekbyeenkoms gereël is, is ek ook gevra om te tolk. Terwyl ek op die verhoog vir die spreker gewag het om te begin, het my gedagtes vir ’n oomblik teruggegaan na die tyd toe ek in my toewysing begin het. Ek het dikwels gewonder: ‘Wat kan ek nog as ’n sendeling in Afrika doen?’ Terwyl ek na die gehoor gekyk het, het ek geweet dat ek die antwoord gevind het—om ’n sendeling te wees wat die dowes help. Ek vra my nie meer af: ‘Waarin het ek my nou begewe?’ nie.