Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Was Jesus verwant aan enige van sy 12 apostels?

Die Skrif verskaf nie ’n definitiewe antwoord op hierdie vraag nie. Maar indirekte getuienis en tradisie dui daarop dat party van die 12 aan Jesus verwant was.

Die Evangelieskrywers verstrek die name van die vroue wat toegekyk het terwyl Jesus aan die folterpaal gesterf het. Johannes 19:25 noem vier van hulle: “Sy moeder [Maria] en die suster van sy moeder . . . ; Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena.” As ons hierdie vers met Matteus en Markus se beskrywings van dieselfde toneel vergelyk, kan ons tot die gevolgtrekking kom dat Salome die suster van Jesus se moeder was. En hierdie Salome was blykbaar die moeder van die seuns van Sebedeus (Matteus 27:55, 56; Markus 15:40). Haar seuns, wat elders as Jakobus en Johannes geïdentifiseer word, sou dus Jesus se neefs gewees het. Jesus het hierdie twee broers, wat vissermanne was, genooi om sy dissipels te wees.—Matteus 4:21, 22.

Volgens nie-Bybelse tradisie was Klopas, of Alfeus, die man van een van die vroue wat in Johannes 19:25 genoem word, die broer van Josef, Jesus se pleegvader. As hierdie tradisie op feite gegrond is, dan was Jakobus, die seun van Alfeus en een van die 12 apostels, ook Jesus se neef.—Matteus 10:3.

Hoe was Jesus en Johannes die Doper verwant aan mekaar?

Party glo dat die twee mans kleinneefs was. Hierdie opvatting is gegrond op ’n onakkurate vertaling van Lukas 1:36. In hierdie vers sê die King James Version byvoorbeeld dat Johannes se moeder, Elisabet, en Jesus se moeder, Maria, niggies was.

Maar in werklikheid is die woord wat in die oorspronklike Grieks in hierdie vers gebruik word, nie so spesifiek nie. Dit dui bloot aan dat die twee vroue aan mekaar verwant was, nie dat hulle noodwendig niggies was nie. Volgens The Interpreter’s Dictionary of the Bible “het die woord ’n te breë betekenis om enigsins te help om hulle presiese verwantskap te bepaal”. Waar kom die idee dan vandaan dat Jesus en Johannes neefs was? The Catholic Encyclopedia antwoord: “Al ons inligting oor . . . Maria se ouers . . . kom uit apokriewe geskrifte.”

Jesus en Johannes was dus ten minste verlangs verwant, hoewel nie noodwendig kleinneefs nie.