Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waar het Kain sy vrou gekry?

Waar het Kain sy vrou gekry?

Ons lesers vra . . . 

Waar het Kain sy vrou gekry?

▪ “As Adam en Eva twee seuns, Kain en Abel, gehad het, waar het Kain se vrou dan vandaan gekom?” Hoewel dit dikwels deur Bybelskeptici as ’n strikvraag gevra word, voorsien die Bybel genoeg besonderhede om ’n bevredigende antwoord te gee.

Genesis hoofstukke 3 en 4 verstrek die volgende inligting: (1) Eva was “die moeder . . . van almal wat lewe”. (2) Tyd het verloop tussen Kain se geboorte en die geleentheid toe hy die offerande gebring het wat deur God verwerp is. (3) Nadat Kain verdryf is om “’n swerwer en ’n vlugteling” te word, was hy bekommerd dat ‘enigiemand wat hom vind’, hom sal probeer doodmaak. (4) God het ’n teken vasgestel om Kain te beskerm, wat daarop dui dat sy broers of ander familielede hom dalk sou probeer doodmaak het. (5) “Daarna” het Kain gemeenskap gehad met sy vrou “in die land van Vlugtelingskap”.—Genesis 3:20; 4:3, 12, 14-17.

In die lig van die bogenoemde kan ons tereg tot die slotsom kom dat Kain se vrou ’n nakomeling van Eva was wie se geboortedatum onbekend is. Genesis 5:4 openbaar dat Adam, gedurende die 930 jaar van sy leeftyd, “die vader van seuns en dogters geword” het. Die Bybel sê natuurlik nie spesifiek dat Kain se vrou Eva se dogter was nie. Trouens, die feit dat sy genoem word nadat Kain verdryf is, dui aan dat genoeg tyd verloop het dat sy selfs een van Adam en Eva se kleindogters kon gewees het. Gevolglik beskryf The Amplified Old Testament Kain se vrou eenvoudig as “een van Adam se nageslag”.

Die 19de-eeuse Bybelkommentator Adam Clarke het bespiegel dat God as gevolg van Kain se vrees ’n teken vasgestel het omdat etlike geslagte van Adam se nakomelinge reeds bestaan het—genoeg “om etlike dorpies te stig”.

Die gedagte dat Kain getrou het met sy suster of met ’n ander vroulike nakomeling van Adam wat uit die huwelik van enigeen van Adam se seuns of dogters gebore is, is vir party gemeenskappe van vandag ondenkbaar. Dit is gewoonlik weens die taboes van ’n gemeenskap of vrees vir genetiese afwykings. Nietemin sê F. LaGard Smith in The Narrated Bible in Chronological Order: “Dit is heel waarskynlik dat hierdie eerste broers en susters met mekaar getrou het, al sou latere geslagte dit as onvanpas beskou as so iets sou gebeur.” Dit is ook opmerkenswaardig dat geslagsomgang tussen sulke naverwante eers in 1513 VHJ spesifiek verbied is toe Moses God se wette vir die nasie Israel ontvang het.—Levitikus 18:9, 17, 24.

Vandag is ons millenniums van die volmaaktheid af wat ons eerste ouers aanvanklik gehad het. Die uitwerking wat erflikheidswette op ons het, het hulle moontlik nie geraak nie. Daarbenewens toon onlangse studies, soos die een wat in die Journal of Genetic Counseling gepubliseer is, dat die risiko dat geslagsomgang tussen neefs en niggies kinders met geboortegebreke sal voortbring, laer is as wat algemeen geglo word. Hierdie kwessies sou redelikerwys nie gedurende Adam se lewe of selfs voor Noag se dag belangrik gewees het nie. Ons kan dus tot die gevolgtrekking kom dat Kain se vrou een van sy vroulike familielede was.