Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hy gee ons wilsvryheid

Hy gee ons wilsvryheid

Kom nader aan God

Hy gee ons wilsvryheid

2 KONINGS 18:1-7

OUERS is veronderstel om ’n goeie voorbeeld vir hulle kinders te stel. As ouers ’n positiewe invloed uitoefen, kan dit ’n kind help om innemende eienskappe te ontwikkel en om wyse keuses in die lewe te maak. Ongelukkig stel baie ouers ’n swak voorbeeld vir hulle kinders. Is hierdie kinders tot mislukking gedoem? Ons vind die antwoord in ’n baie gerusstellende waarheid—Jehovah God het aan elkeen van ons die gawe van wilsvryheid gegee. Beskou die geval van Hiskia, soos opgeteken in 2 Konings 18:1-7.

Hiskia was “die seun van Agas, die koning van Juda” (vers 1). Agas het sy onderdane weggelei van Jehovah se rein aanbidding. Hierdie goddelose koning het Baälaanbidding beoefen, wat met rites van menseoffers gepaardgegaan het. Hy het een of meer van Hiskia se broers as sodanig geoffer. Agas het die deure van die tempel laat toemaak en “op elke hoek in Jerusalem vir hom altare gemaak”. Hy het “Jehovah . . . aanstoot gegee” (2 Kronieke 28:3, 24, 25). Dit is duidelik dat Hiskia nouliks ’n slegter vader kon gehad het. Maar was Hiskia bestem om sy vader se foute te herhaal?

Nadat hy Agas as koning opgevolg het, het Hiskia weldra getoon dat hy nie die hulpelose slagoffer van sy vader se swak voorbeeld was nie. Hiskia “het bly doen wat reg was in Jehovah se oë” (vers 3). Hiskia het op Jehovah vertrou, en “daar [was] niemand soos hy onder al die konings van Juda nie” (vers 5). In die eerste jaar van sy heerskappy het die jong koning begin met ’n geestelike hervorming wat gelei het tot die verwydering van die hoogtes, waar heidense afgode aanbid is. Die tempel is heropen, en rein aanbidding is herstel (vers 4; 2 Kronieke 29:1-3, 27-31). Hiskia “het Jehovah bly aankleef . . . , en Jehovah was met hom”.—Verse 6, 7.

Wat het Hiskia in staat gestel om bo sy vader se swak voorbeeld uit te styg? Is dit moontlik dat sy moeder, Abia—van wie ons min weet—’n positiewe invloed op haar seun uitgeoefen het? Het die goeie voorbeeld van Jesaja, wat voor Hiskia se geboorte as profeet begin dien het, ’n vormende invloed op die jong prins gehad? a Die Bybel sê nie. Hoe dit ook al sy, een ding is seker: Hiskia het ’n weg gekies wat lynreg in teenstelling was met dié van sy vader.

Hiskia se voorbeeld is bemoedigend vir almal wat dalk moeilike kinderjare gehad het weens die swak voorbeeld van hulle ouers. Die verlede kan nie verander word nie; ons kan nie die pynlike ondervindinge van die verlede uitwis nie. Maar hierdie ondervindinge doem ons nie tot mislukking nie. Ons kan nou keuses maak wat tot ’n gelukkige toekoms kan lei. Soos Hiskia, kan ons kies om die ware God, Jehovah, lief te hê en te aanbid. Hierdie keuse bring nou ’n bevredigende lewe mee en kan tot ewige lewe in God se nuwe wêreld lei (2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4). Hoe dankbaar moet ons tog wees teenoor die liefdevolle God wat aan elkeen van ons ’n baie kosbare gawe gegee het—wilsvryheid!

[Voetnoot]

a Jesaja het van omstreeks 778 VHJ tot die een of ander tyd ná 732 VHJ geprofeteer. Hiskia het in 745 VHJ begin heers, toe hy 25 jaar oud was.