Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kan die dooies die lewendes help?

Kan die dooies die lewendes help?

Kan die dooies die lewendes help?

TAMBA, ’n jong man in Wes-Afrika, het op die punt gestaan om ’n skooleksamen te skryf. a Sy ma het daarop aangedring dat hy die hulp van afgestorwe familielede nodig het om te slaag. In Palermo, Sisilië, besoek toeriste grafkelders waar honderde sorgvuldig bewaarde lyke ten toon gestel word. Party glo dat hierdie gemummifiseerde stoflike oorblyfsels goddelike beskerming aan die lewendes bied. Elke jaar besoek mense Lily Dale, ’n dorp in die weste van die staat New York, VSA, wat bekend is vir die buitengewoon hoë aantal geestemediums wat daar woon. Besoekers hoop dat hulle met afgestorwe familielede of vriende in aanraking kan kom en hulle hulp kan ontvang.

Regoor die aarde glo mense nog steeds dat die dooies die lewendes kan help. Wat dink jy? Jy is dalk so ’n opvatting geleer of is na aan mense wat hierdie idee koester. Dit is maar net natuurlik om te verlang na geliefdes wat ons aan die dood afgestaan het. Geestemediums belowe om hierdie behoefte te bevredig. Volgens die tydskrif Time het ’n medium gesê dat die geesteryk “altyd beskikbaar is as hulle gevra word om te help”. Is dit waar? Kan die dooies werklik die lewendes help? Die Bybel se duidelike antwoord sal jou dalk verbaas.

Lewe die dooies êrens?

Die Bybel verduidelik in eenvoudige, maklik verstaanbare taal wat die toestand van die dooies is. Let op wat Prediker 9:5 sê: “Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf; maar wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks.” Is dit moontlik dat die dooies gevoelens het? Vers 6 antwoord: “Hulle liefde en hulle haat en hulle jaloesie het reeds vergaan, en hulle het tot onbepaalde tyd geen deel meer aan enigiets wat onder die son gedoen moet word nie.” Let ook op dat vers 10 van dieselfde hoofstuk sê: “Daar is geen werk of beplanning of kennis of wysheid in Sjeool, die plek waarheen jy gaan nie.” Die Hebreeuse woord “Sjeool” wat hier gebruik word, beteken “die mensdom se gemeenskaplike graf”. Dit is interessant dat die Griekse ekwivalent van hierdie woord, “Hades”, in die Skrif gebruik word om aan te dui waar Jesus Christus ná sy dood ’n ruk lank was.—Handelinge 2:31.

Jesus het baie mense gehelp terwyl hy gelewe het, maar hy het geweet dat hy sal moet sterf. Het hy verwag dat hy mense nog steeds sal kan help terwyl hy in die graf is? Nee. Hy het sy eie naderende dood met die nag vergelyk wanneer dit onmoontlik is om te werk (Johannes 9:4). Jesus het goed geweet dat mense “magteloos in die dood” is wanneer hulle ophou lewe.—Jesaja 26:14.

Jesus het ook ’n vergelyking gebruik wat ’n soortgelyke punt oor die dood toegelig het. Toe sy vriend Lasarus gesterf het, het Jesus die dood met slaap vergelyk (Johannes 11:11-13). Ons verwag nie dat ’n slapende persoon ons sal help nie, of hoe? Iemand wat slaap, is in ’n toestand van onbewustheid en kan nie ten behoewe van enigiemand optree nie.

Leef die siel voort ná die dood?

Baie is geleer dat die siel iets skimagtigs is wat ná die dood voortleef. Die Bybel leer iets anders. Die eerste boek in die Bybel, Genesis, toon vir ons wat die siel is. Genesis 2:7 sê dat die eerste mens toe hy geskep is, “’n lewende siel geword” het. Die mens, in sy geheel, is ’n siel; diere is ook siele (Genesis 1:20-25). Dit is dus logies dat die siel sterf wanneer ’n mens of ’n dier sterf. Die Bybel bevestig dit.—Esegiël 18:4.

Maar party vra dalk: ‘Wat van al die stories van mense wat met die dooies in aanraking kom, hulle stemme hoor of hulle selfs sien?’ Sulke verslae is algemeen in baie wêrelddele. Dit vul bedroefde familielede of goeie vriende met hoop en beweeg baie om geestemediums te raadpleeg wat beweer dat hulle met die dooies in aanraking kan kom.

Is hierdie stories waar? Indien wel, weerspreek dit dan nie die bogenoemde Bybelse stellings nie? Christus Jesus het God se Woord as die waarheid beskryf (Johannes 17:17). Die waarheid weerspreek homself nie. Daar is in werklikheid duidelike riglyne in die Bybel oor hoe ons bewerings dat die dooies die lewendes kan help, moet beskou. Die Bybel vertel ons van iemand wat hulp van die dooies probeer kry het. As jy die verslag noukeurig lees, sal die waarheid aan die lig kom.

’n Koning vra die dooies se hulp

Die agtergrond was ’n slagveld in die noorde van Israel. Koning Saul en sy krygsmag het voor ’n vreesaanjaende Filistynse leër te staan gekom. Toe Saul die kamp van die Filistyne sien, het “sy hart . . . baie begin bewe”. Op hierdie stadium van sy koningskap het Saul reeds ware aanbidding versaak. Gevolglik het Jehovah nie sy smekinge verhoor nie. Tot wie sou Saul hom wend vir hulp? God se profeet Samuel was dood.—1 Samuel 28:3, 5, 6.

Saul het ’n geestemedium in En-Dor geraadpleeg. Hy het die medium gesmeek om “Samuel [te laat] opkom” uit die dood. Die medium het ’n gees opgeroep. Hierdie “Samuel” het vir Saul gesê dat die Filistyne sal seëvier en dat Saul en sy seuns in die geveg sal sterf (1 Samuel 28:7-19). Was dit werklik Samuel wat uit die dood teruggekeer het?

Dink hieraan. Die Bybel sê dat ’n mens met sy dood ‘na sy grond terugkeer’ en dat ‘sy gedagtes vergaan’ (Psalm 146:4). Saul sowel as Samuel het geweet dat God kontak met geestemediums veroordeel. Saul het immers vroeër die leiding daarin geneem om die land van spiritistiese gebruike te reinig!—Levitikus 19:31.

Redeneer oor die saak. Sou die getroue Samuel, as hy nog lewend was as ’n gees, God se wet oortree het en met ’n geestemedium saamgewerk het om Saul te ontmoet? Jehovah het geweier om met Saul te praat. Kon ’n medium God die Almagtige as ’t ware dwing om deur middel van afgestorwe Samuel met Saul te kommunikeer? Nee. Dit is duidelik dat hierdie “Samuel” geensins God se getroue profeet was nie. Dit was ’n gees—’n bose demoon wat voorgegee het dat hy die afgestorwe Samuel is.

Demone is engele wat vroeg in die mensegeskiedenis teen God se gesag in opstand gekom het (Genesis 6:1-4; Judas 6). Hierdie demone kan mense dophou terwyl hulle lewe; hulle weet hoe elkeen gepraat, gelyk en opgetree het. Hulle is gretig om die idee te bevorder dat wat die Bybel sê, onwaar is. Geen wonder dat die Bybel ons waarsku teen enige kontak met sulke geesmagte nie! (Deuteronomium 18:10-12). Hierdie bose geeste is vandag nog steeds bedrywig.

Nou besef ons moontlik waarom baie mense vertel dat hulle hulle afgestorwe dierbares “hoor” of “sien”. Hoewel hierdie gedaantes soms dalk vriendelik voorkom, is bose geesmagte daarop uit om mense te mislei (Efesiërs 6:12). b Dink ook hieraan: Jehovah is ’n liefdevolle God wat vir ons omgee. As die dooies êrens gelewe het en hulle vriende en familie kon help, sou ons liefdevolle Skepper dan sulke kontak verbied het en daarna verwys het as “verfoeilik”? Beslis nie! (1 Petrus 5:7). Is daar dan enige betroubare bron van hulp?

Ware hulp vir die lewendes en die dooies

Ons sien uit die voorgaande dat die dooies magteloos is om die lewendes te help. Wat meer is, pogings om die hulp van die dooies te kry, is nie net nutteloos nie; dit is uiters gevaarlik, omdat dit ’n oortreding van God se wet is en ons aan demoniese invloed blootstel.

Die Bybel verwys ons na die beste Bron van hulp—ons Skepper, Jehovah. Hy kan ons van die dood verlos (Psalm 33:19, 20). Hy is selfs vandag beskikbaar om ons te help. Hy bied dus ware hoop, in teenstelling met die valse verwagtinge wat geestemediums skep.

Tamba, wat in die inleiding genoem is, het uit eie ondervinding geleer wat die verskil is tussen die valse verwagtinge wat geestemediums skep en die waarheid wat Jehovah ons bied. Mediums het gesê dat hy die skooleksamen sal druip as hy nie ’n offerande aan sy afgestorwe voorvaders bring nie. Tamba het reeds die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Hy het geleer wat die ware toestand van die dooies is, asook wat die bose oorsprong is van dié wat voorgee dat hulle afgestorwe voorvaders is. Ondanks groot druk van sy ma om hulp by ’n medium te kry, het Tamba geweier en vir haar gesê: “As ek druip, sal ek volgende jaar harder probeer.”

Wat was die resultaat? Hy het die beste punte in die eksamen behaal! Sy ma was verbaas, het geloof in die mediums verloor en nooit weer hierdie soort offerandes genoem nie. Tamba het geleer dat Jehovah ons waarsku om ons nie te “wend tot die dooies ten behoewe van die lewendes” nie (Jesaja 8:19). Bybelstudie het Tamba die vertroue gegee dat hy suksesvol sal wees as hy behae skep in God se wet.—Psalm 1:1-3.

Maar wat van die geliefdes wat ons aan die dood afgestaan het? Is daar geen hoop vir hulle nie? Jehovah help nie net dié wat lewe nie, maar hy het belowe om ook diegene in die graf te help. Let op wat die profeet Jesaja in hoofstuk 26, vers 19, sê nadat hy beskryf het hoe magteloos die dooies is: “U dooies sal lewe. . . . Word wakker en roep met vreugde uit, julle wat in die stof woon!” Die profesie sê verder dat “dié wat magteloos is in die dood”, weer sal lewe.

Stel jou net voor! Die hulpelose miljarde wat in die graf slaap, sal weer lewend gemaak word! Trouens, die Bybel toon dat Jehovah “vurig verlang” om die dooies weer te laat lewe (Job 14:14, 15). Klink hierdie beloftes te goed om te glo? Jesus Christus was so seker van hierdie hoop dat hy gesê het dat die dooies reeds lewend is in Jehovah se oë.—Lukas 20:37, 38.

Wil jy hierdie hoop jou eie maak? c Hou aan om juiste kennis van die Bybel in te neem. Terwyl jy studeer, sal jy oortuig raak dat Jehovah die lewendes en die dooies kan help en dat sy beloftes “betroubaar en waaragtig” is.—Openbaring 21:4, 5.

[Voetnote]

a Die naam is verander.

b Vir meer inligting oor hierdie onderwerp, sien die brosjure Geeste van die dooies—Kan hulle jou help of jou skaad? Bestaan hulle werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

c Vir meer inligting oor die Bybel se belofte van ’n opstanding, sien hoofstuk 7 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Lokteks op bladsy 19]

Dit is maar net natuurlik om te verlang na geliefdes wat ons aan die dood afgestaan het

[Prent op bladsy 20]

Het die profeet Samuel uit die dood teruggekeer en met koning Saul gekommunikeer?