Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die dood word oorwin – Hoe?

Die dood word oorwin – Hoe?

AL HET die ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en Eva, sonde en die dood oor die hele mensdom gebring, het dit nie God se doel vir die mensdom verander nie. Regdeur die Bybel verseker God ons herhaaldelik dat sy doel vir die mensdom nie verander het nie.

  • “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.” – Psalm 37:29.

  • “Hy sal die dood vir ewig verswelg [of, vernietig], en die Soewereine Heer Jehovah sal beslis die trane van alle gesigte afvee.” – Jesaja 25:8.

  • “As die laaste vyand gaan die dood tot niet gemaak word.” – 1 Korintiërs 15:26.

  • “Die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie.” – Openbaring 21:4.

Hoe sal God ons vyand, die dood, vernietig? Die Bybel sê duidelik: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.” Maar dit sê ook: “Daar is geen mens regverdig op die aarde wat voortdurend goed doen en nie sondig nie” (Prediker 7:20). Hoe sal God dan die dood oorwin? Sal hy ophou om by sy standaarde te bly? Beslis nie! Hy sal dit nooit doen nie, want ‘God kan nie lieg nie’ (Titus 1:2). Wat sal God dan doen sodat sy doel vir die mens ’n werklikheid kan word?

GOD SAL DIE DOOD VIR EWIG VERNIETIG. – JESAJA 25:8

GOD OORWIN DIE DOOD DEUR DIE LOSPRYS

Jehovah God het ’n losprys voorsien om die mensdom van die dood te bevry. ’n Losprys verwys basies na iets wat in ruil gegee word vir iets anders met dieselfde waarde om te vergoed vir skade of om aan die vereistes van regverdigheid te voldoen. Omdat alle mense sondaars is wat tot die dood veroordeel is, sê die Bybel reguit: “Nie een van hulle kan ooit selfs ’n broer loskoop of aan God ’n losprys vir hom gee nie (en die loskoopprys vir hulle siel is so kosbaar dat dit tot onbepaalde tyd ontbreek).” – Psalm 49:7, 8

Wanneer ’n onvolmaakte mens sterf, kan hy net vir sy eie sondes betaal. Hy kan homself nie loskoop of vir die sondes van enigiemand anders betaal nie (Romeine 6:7). Ons het ’n volmaakte persoon nodig gehad wat geen sondes het nie, wat sy lewe kon gee, nie vir sy eie sondes nie, maar vir ons s’n. – Hebreërs 10:1-4.

Dit is presies wat God vir ons gereël het. Hy het sy Seun, Jesus, uit die hemel gestuur om as ’n volmaakte mens sonder sonde gebore te word (1 Petrus 2:22). Jesus het gesê dat hy gekom het “om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Markus 10:45). Hy het gesterf sodat hy ons vyand, die dood, kan oorwin en sodat ons die lewe kan hê. – Johannes 3:16.

WANNEER SAL DIE DOOD OORWIN WORD?

Vandag lewe ons in “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”, net soos die Bybel voorspel het. Dit bewys dat ons in die “laaste dae” van hierdie goddelose stelsel lewe (2 Timoteus 3:1). Die laaste dae sal eindig met “die dag van die oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense” (2 Petrus 3:3, 7). Maar mense wat lief is vir God, sal daardie vernietiging oorleef en geseën word met “die ewige lewe”. – Matteus 25:46.

Jesus het gekom “om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie”. – Markus 10:45

En miljoene sal die geleentheid hê om die ewige lewe te kry wanneer hulle uit die dood opgewek word. Jesus het iemand uit die dood opgewek toe hy die stad Nain besoek het. Die enigste seun van ’n weduwee het gesterf, en Jesus is “deur innige jammerte” beweeg om hom weer lewend te maak (Lukas 7:11-15). En die apostel Paulus het gesê: “Ek het die hoop op God, . . . dat daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges sal wees.” Die feit dat God ons hierdie vaste hoop gegee het, is ’n duidelike bewys van sy groot liefde vir mense. – Handelinge 24:15.

Miljoene mense kan daarna uitsien om vir ewig te lewe. Die Bybel sê: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.” (Psalm 37:29). Dit sal vir hulle baie aanmoedigend en vertroostend wees om die vervulling te ondervind van die apostel Paulus se woorde, wat hy omtrent 2 000 jaar gelede geskryf het: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” (1 Korintiërs 15:55). Die mensdom se magtige vyand, die dood, sal iets van die verlede wees!