Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Was die modifisering van gene die sleutel tot ’n langer lewe?

Die soeke na ’n lang lewe

Die soeke na ’n lang lewe

“Ek het die bedrywigheid gesien wat God aan die mensekinders gegee het om hulle mee besig te hou. Alles het hy mooi gemaak op die tyd daarvoor. Selfs onbepaalde tyd [of, die ewigheid] het hy in hulle hart gesit.” – Prediker 3:10, 11.

HIERDIE woorde van die wyse koning Salomo is ’n goeie beskrywing van hoe mense voel. Omdat die lewe kort is en niemand die dood kan vryspring nie, het mense nog altyd gesmag na iets beters. Dwarsdeur die geskiedenis vind ons baie stories en legendes oor die mens se soeke na die geheim om langer te lewe.

Daar is byvoorbeeld baie legendes oor die Sumeriese koning Gilgamesj. Een van hulle word gevind in die Gilgamesj-epos. Dit vertel hoe hy op ’n gevaarlike reis gegaan het om uit te vind hoe hy die dood kan vryspring. Maar hy het toe nooit uitgevind hoe om dit te doen nie.

’n Middeleeuse alchemis in sy laboratorium

In die vierde eeu voor die huidige jaartelling het alchemiste in China probeer om ’n drankie te maak wat mense langer sou laat lewe. Maar hulle konkoksie het ’n bietjie kwik en arseen bevat. Dit het glo die dood van ’n hele paar Chinese keisers veroorsaak. In die Middeleeue het party alchemiste in Europa geglo dat goud nie vernietig kan word nie en dat dit mense dus langer kon laat lewe, en daarom het hulle probeer om goud verteerbaar te maak.

Vandag probeer party bioloë en genetikusse om uit te vind hoekom mense verouder. Hulle navorsing bewys dat mense nog steeds die hoop het dat hulle ’n manier sal vind om nie oud te word en te sterf nie. Maar wat het hulle uitgevind?

GOD HET ‘ONBEPAALDE TYD [OF, DIE EWIGHEID] IN HULLE HART GESIT.’ – PREDIKER 3:10, 11

DIE SOEKE NA DIE OORSAAK VAN VEROUDERING

Wetenskaplikes wat die mensesel studeer, het al meer as 300 teorieë voorgestel om te probeer verduidelik hoekom ons oud word en sterf. In onlangse jare het molekulêre bioloë dit reggekry om laboratoriumdiere en menseselle langer te laat lewe deur gene en proteïene te modifiseer. Sulke vooruitgang het party ryk mense aangespoor om geld aan wetenskaplikes te skenk sodat hulle navorsing kan doen om uit te vind hoekom ons doodgaan. Watter soort navorsing het hulle gedoen?

’n Poging om die verouderingsproses uit te stel. Party bioloë glo dat ’n groot deel van die verouderingsproses te doen het met die eindpunte van ons chromosome, wat telomere genoem word. Telomere beskerm die genetiese inligting in ons selle wanneer die selle verdeel. Maar elke keer wanneer die selle verdeel, word die telomere korter. Uiteindelik hou die selle op om te verdeel, en dan begin die verouderingsproses.

Elizabeth Blackburn, wat die Nobelprys in 2009 gewen het, het met behulp van haar span, ’n ensiem  gevind wat die verkorting van die telomere, sowel as die verouderingsproses vertraag. Maar hulle erken dat telomere ons nie in staat stel om langer te lewe as die mens se normale lewensduur nie.

Die herprogrammering van selle. Nog ’n manier waarop mense die verouderingsproses probeer beperk, is deur selle te herprogrammeer. Wanneer ons selle te oud word om te repliseer, stuur hulle dalk verkeerde seine aan nabygeleë immuunselle, en dit veroorsaak dan inflammasie, chroniese pyn en siektes. Onlangs het wetenskaplikes in Frankryk selle van bejaarde mense herprogrammeer. Van hierdie mense is meer as 100 jaar oud. Die spanleier, professor Jean-Marc Lemaître, het gesê dat hulle navorsing bewys dat die verouderingsproses in selle teruggedraai kan word.

KAN DIE WETENSKAP ONS LANGER LAAT LEWE?

Al is daar verskillende behandelings om veroudering te probeer keer, sê baie wetenskaplikes dat mense nie baie langer kan lewe as wat ons nou lewe nie. Dit is waar dat mense nou langer lewe as wat hulle in die 19de eeu gelewe het. Maar dit is hoofsaaklik te danke aan die feit dat ons nou beter higiëne, beter behandelings, antibiotika en entstowwe het om siektes te bestry. Party genetikusse glo dat mense nou hulle maksimum lewensduur bereik het.

Ongeveer 3 500 jaar gelede het die Bybelskrywer Moses gesê: “Die dae van ons jare is . . . sewentig jaar; en as dit weens besondere krag tagtig jaar is, is dit nietemin vol moeite en skadelike dinge; want gou sal dit verbygaan, en ons vlieg daarheen” (Psalm 90:10). Ten spyte van mense se pogings om ons langer te laat lewe, bly ons lewensduur soos wat Moses dit beskryf het.

Maar party diere, soos sekere soorte seekastaiings en gapermossels, kan meer as 200 jaar lewe, en sekere sequoia-bome kan duisende jare lewe. Wanneer ons ons lewensduur vergelyk met die lewensduur van hierdie en ander lewende dinge, wonder ons dalk: ‘Is hierdie lewe van 70 of 80 jaar al wat daar is?’