Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kan ek my kinders help om die beste opvoeding te ontvang?

Hoe kan ek my kinders help om die beste opvoeding te ontvang?

Hoe kan ek my kinders help om die beste opvoeding te ontvang?

DIE opvoeding van ’n kind kan vergelyk word met ’n opwindende reis vol uitdagings. Dit is ’n reis wat jy en jou kinders saam onderneem. Jy moedig hulle aan en voorsien liefdevolle leiding terwyl jy hulle help om vooruitgang te maak op hulle lewenspad. Daar is so baie wat hulle moet leer!

Om werklik suksesvol en gelukkig te wees in die lewe, moet kinders sedelike en geestelike waardes ontwikkel en leer om tussen reg en verkeerd te onderskei. As hulle Jehovah leer ken en liefkry, sal hulle opvoeding werklik lonend wees en sal die onderrigting wat hulle ontvang, hulle vir ewig bybly. As ’n ouer speel jy ’n belangrike rol in wat jou kinders leer en hoe hulle die dinge wat hulle leer, beoordeel en verstaan.

Op hierdie reis is daar uitdagings wat die hoof gebied moet word. Kinders is vatbaar vir indrukke, en hulle kan baie dinge wat glad nie heilsaam is nie, buite die gesin leer. Ons lewe in ’n wêreld waaroor Satan die Duiwel heers (1 Johannes 5:19). Hy stel belang in die opvoeding van jou kinders, maar om heeltemal ander redes. Satan is ’n bedrewe en baie ervare—maar beslis bose—onderrigter. Hoewel hy voorgee dat hy “’n engel van lig” is, is die verligting wat hy bied, bedrieglik en in stryd met Jehovah se Woord en wil (2 Korintiërs 4:4; 11:14; Jeremia 8:9). Die Duiwel sowel as sy demone is meesterlike bedrieërs, wat selfsug, oneerlikheid en sedelike verdorwenheid bevorder.—1 Timoteus 4:1.

Wat kan jy doen om te verhoed dat jou kinders mislei word? Hoe kan jy hulle leer om aan te neem wat waar en nuttig is? ’n Belangrike stap is om jouself noukeurig te ondersoek. Jy moet ’n goeie voorbeeld stel. Dit is ook noodsaaklik dat jy jou verantwoordelikheid om jou kinders op te lei, aanvaar en die nodige tyd neem om dit te doen. Maar voordat ons na hierdie punte kyk, laat ons eers die grondslag van ’n voordelige opvoeding identifiseer.

Die grondslag van die beste opvoeding

Ons kan by Israel se koning Salomo leer, wat een van die wysste manne was wat ooit gelewe het. Die Bybel sê vir ons: “God het aan Salomo wysheid en begrip in baie groot mate bly gee, en ruimheid van hart, soos die sand wat aan die seestrand is. En Salomo se wysheid was oorvloediger as die wysheid van al die Oosterlinge en as al die wysheid van Egipte.” Salomo “kon drieduisend spreuke uitspreek, en sy liedere was duisend-en-vyf”. Hy het ’n omvattende kennis van die plante- en diereryk gehad (1 Konings 4:29-34). Koning Salomo het ook toesig gehou oor Israel se bouprojekte, met inbegrip van die bou van Jehovah se luisterryke tempel in Jerusalem.

Die dinge wat Salomo geskryf het, soos dié in die boek Prediker, toon dat hy ’n diep begrip van die menslike natuur gehad het. Hy is deur God geïnspireer om die grondslag van die beste opvoeding te beklemtoon. Salomo het gesê: “Die vrees van Jehovah is die begin van kennis.” Die wyse koning het ook gesê: “Die vrees van Jehovah is die begin van wysheid, en die kennis van die Allerheiligste is verstand.”—Spreuke 1:7; 9:10.

As ons God vrees, het ons eerbiedige agting vir hom en waak ons daarteen om hom te mishaag. Ons erken dat hy die Allerhoogste is en dat ons aan hom onderworpe is. Diegene wat die een verontagsaam van wie ons lewe afhang, word dalk deur mense as wys beskou, maar sulke wysheid is “dwaasheid by God” (1 Korintiërs 3:19). Jou kinders het ’n opvoeding nodig wat gegrond is op “die wysheid wat van bo neerdaal”.—Jakobus 3:15, 17.

Vrees om Jehovah te mishaag, hou ten nouste verband met liefde vir hom. Jehovah wil hê dat sy knegte hom moet vrees en moet liefhê. Moses het gesê: “O Israel, wat anders vra Jehovah jou God van jou as om Jehovah jou God te vrees, om in al sy weë te wandel en hom lief te hê en Jehovah jou God te dien met jou hele hart en jou hele siel; om die gebooie van Jehovah en sy insettinge te onderhou wat ek jou vandag beveel, sodat dit met jou goed kan gaan?”—Deuteronomium 10:12, 13.

As ons eerbiedige vrees vir Jehovah by ons kinders inprent, sal ons die grondslag lê vir ’n opvoeding wat ons kinders werklik wys sal maak. Namate hulle op dié grondslag bou, sal hulle waardering vir hulle Skepper, die Bron van alle ware kennis, toeneem. Dit sal ons kinders help om wat hulle leer, in die regte perspektief te sien en nie verkeerde gevolgtrekkings te maak nie. Hulle sal die vermoë ontwikkel om “te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Hebreërs 5:14). So ’n grondslag sal hulle ook help om nederig te bly en niks te doen wat sleg is nie.—Spreuke 8:13; 16:6.

Jou kinders hou jou dop!

Maar hoe kan ons ons kinders help om Jehovah lief te hê en te vrees? Die antwoord op hierdie vraag word gevind in die Wet wat Jehovah deur die profeet Moses aan die volk Israel gegee het. Daar is vir Israelitiese ouers gesê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en al jou lewenskrag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit by jou kind inskerp en daaroor praat wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op die pad loop en wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan.”—Deuteronomium 6:5-7.

Hierdie gedeelte leer ouers belangrike lesse. Een is: As ’n ouer moet jy ’n goeie voorbeeld stel. Om jou kinders te kan leer om Jehovah lief te hê, moet jý God liefhê, en sy woorde moet in jóú hart wees. Waarom is dit so belangrik? Omdat jy jou kinders se vernaamste onderrigter is. Wat hulle uit jou voorbeeld leer, sal ’n diepgaande uitwerking op hulle hê. En niks het ’n groter invloed op ’n kind se lewe as ’n ouer se voorbeeld nie.

Jou drome, ideale, waardes en belangstellings word nie net weerspieël in wat jy sê nie, maar ook in wat jy doen (Romeine 2:21, 22). Kinders leer van kleins af deur hulle ouers noukeurig dop te hou. Hulle sien wat vir hulle ouers belangrik is, en dit is die dinge wat dikwels vir kinders belangrik word. As jy Jehovah werklik liefhet, sal jou kinders dit opmerk. Hulle sal byvoorbeeld sien dat Bybellees en -studie vir jou belangrik is. Hulle sal besef dat jy Koninkryksbelange eerste stel in jou lewe (Matteus 6:33). Jou gereelde teenwoordigheid by Christelike vergaderinge en deelname aan die Koninkrykspredikingswerk sal vir hulle toon dat dit vir jou baie belangrik is om heilige diens aan Jehovah te verrig.—Matteus 28:19, 20; Hebreërs 10:24, 25.

Aanvaar jou verantwoordelikheid

’n Ander les wat ouers uit Deuteronomium 6:5-7 kan leer, is: Dit is jou verantwoordelikheid om jou kinders op te lei. Onder Jehovah se eertydse volk het ouers na die opvoeding van hulle kinders omgesien. Onder eerste-eeuse Christene het ouers nog steeds ’n baie belangrike rol in die opvoeding van hulle kinders gespeel (2 Timoteus 1:5; 3:14, 15). In ’n brief aan mede-Christene het die apostel Paulus aangedui dat veral vaders moes “[aanhou] om hulle [kinders] in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed”.—Efesiërs 6:4.

Die eise van die hedendaagse lewe, werk en ander mededingende belange bring ouers dalk in die versoeking om die opvoeding van hulle kinders aan ander mense oor te laat, soos onderwysers en ander professionele kinderopvoeders. Maar niemand kan die plek van ’n liefdevolle, sorgsame ouer inneem nie. Moet nooit jou belangrikheid en invloed onderskat nie. As jy hulp nodig het, moet jy dit wyslik kies, maar moet nooit van jou heilige plig afstand doen nie.

Neem die tyd om jou kinders op te lei

Nog ’n les wat ouers uit Deuteronomium 6:5-7 leer, is: Dit verg tyd en inspanning om kinders op te lei. Israelitiese ouers moes God se waarheid by hulle kinders “inskerp”. Die oorspronklike Hebreeus wat met “inskerp” weergegee word, beteken “om te herhaal”, “om oor en oor te sê”. Dit moes dwarsdeur die dag gedoen word, ja, van die oggend tot die aand, “in jou huis” en “op die pad”. Dit verg tyd en inspanning om kinders te leer en hulle gesindheid en gedrag te vorm sodat hulle God sal behaag.

Wat kan jy dan doen om jou kinders te help om die beste opvoeding te ontvang? Baie. Leer hulle om Jehovah lief te hê en te vrees. Stel ’n goeie voorbeeld. Aanvaar jou verantwoordelikheid om jou kinders te leer, en neem die nodige tyd om hulle op te lei. Jy is nie volmaak nie, en jy sal foute begaan. Maar as jy opreg probeer om God se wil te doen, sal jou kinders heel waarskynlik jou pogings waardeer en daarby baat vind. “Lei ’n seun op volgens die weg vir hom”, sê Spreuke 22:6. “Ook as hy oud word, sal hy nie daarvan afwyk nie.” Dieselfde beginsel geld vir meisies.

Opvoeding is ’n lewenslange reis. As jy en jou kinders God liefhet, is dit ’n reis wat julle tot in ewigheid sal kan geniet. Dit is omdat daar altyd meer sal wees om te leer van Jehovah en hoe ons in ooreenstemming met sy voorneme kan optree.—Prediker 3:10, 11.

[Prent op bladsy 15]

Lees jy die Bybel vir jou kinders?

[Prent op bladsy 16]

Neem die tyd om jou kinders van die Skepper te leer