Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrees jy die toekoms?

Vrees jy die toekoms?

Vrees jy die toekoms?

VREES het baie oorsake. Party mense is byvoorbeeld bang vir wat met die aarde gaan gebeur. “Hittegolwe, storms, oorstromings, brande, grootskaalse gletsersmelting, al dié dinge laat dit lyk of die wêreldklimaat om ons ineenstort”, sê die tydskrif Time van 3 April 2006.

In Mei 2002 het die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram ’n verslag vrygestel met die titel “Global Environment Outlook-3”. Dit is opgestel met die samewerking van meer as 1 000 mense. Volgens ’n nuusberig het dit gesê: “Die planeet het by ’n uiters belangrike kruispad gekom waar die besluite wat vandag gemaak word, van kritieke belang sal wees vir die woude, oseane, riviere, berge, natuurlewe en ander lewensonderhoudende stelsels waarop huidige en toekomstige geslagte staatmaak.”

Die huidige toestand van die wêreldomgewing is maar een rede tot kommer. Regoor die wêreld lewe mense nou in vrees vir terreuraanvalle. Die adjunkdirekteur van operasies vir Kanada se topspioenasieagentskap het gesê: “Snags lê ons wakker oor die bedreigings waarvan ons nie weet nie.” Trouens, net om na die aandnuus op TV te kyk, kan angswekkend wees!

Talle hardwerkende volwassenes is bang dat hulle hulle werk sal verloor. Afdankings, die sluiting van fabrieke, mededinging in die werksplek en buitensporige eise deur werkgewers kan ’n klimaat van werksonsekerheid skep. Tieners is bang dat hulle portuurs hulle sal verwerp. Jong kinders is dalk bang dat hulle ouers hulle nie regtig liefhet nie. Maar wat van toestande in die wêreld om hulle? “Vir die jonges en die onskuldiges lyk die wêreld buitekant hulle huis sekerlik met tye na ’n groot, skrikwekkende plek”, sê een bekommerde moeder. En baie ouers is besorg oor die uitwerking wat die wêreld se sedelike verval op hulle geliefdes het, veral op hulle kinders.

Bejaardes is dikwels bang dat hulle op ’n trap sal val of op straat aangerand sal word. Ja, “hulle [het] bang geword bloot vir wat hoog is, en daar is verskrikkinge op die weg” (Prediker 12:5). Daar is die vrees vir ernstige siekte. Berigte van dodelike griepvirusse, kanker en aansteeklike siektes maak ons dalk bang dat ons ’n nuwe en vreemde siekte sal opdoen wat ons en ons familie kan vermink of doodmaak. Trouens, wanneer ons gesonde, lewenslustige mense sien siek en swak word, is dit moeilik om nie bekommerd te wees dat dieselfde met ons of met ons geliefdes sal gebeur nie. En hoe hartseer is dit tog om in ’n siek persoon se oë te kyk en net wanhoop daarin te sien!

Het ons, as ons kyk na die talle oorsake van vrees waardeur ons geraak word, enige gegronde rede om optimisties oor die toekoms te wees? Kan enigiets ons help om ’n positiewe uitkyk te behou? Die volgende artikel sal hierdie vrae beantwoord.

[Foto-erkenning op bladsy 3]

© Jeroen Oerlemans/Panos Pictures