Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer ’n geliefde Jehovah verlaat

Wanneer ’n geliefde Jehovah verlaat

Wanneer ’n geliefde Jehovah verlaat

MARK en Louise is Jehovah se Getuies. a Hulle het hulle kinders met liefde en sorg die Skrif geleer, soos die Bybel Christenouers vermaan om te doen (Spreuke 22:6; 2 Timoteus 3:15). Ongelukkig het nie al hulle kinders aangehou om Jehovah te dien toe hulle jong volwassenes geword het nie. “Ek voel baie hartseer oor die kinders wat afgedwaal het”, sê Louise. “Hoe kan ek voorgee dat dit my nie van dag tot dag verskriklik seermaak nie? Wanneer ander van hulle seuns praat, trek my keel toe en moet ek die trane terughou.”

Ja, wanneer iemand kies om Jehovah en die lewenswyse wat in die Skrif uiteengesit word, te verlaat, ondervind getroue gesinslede gewoonlik diep smart. “Ek is baie lief vir my suster”, sê Irene. “Ek sal enigiets doen om te sien dat sy tot Jehovah terugkeer!” Maria, wie se broer sy rug op Jehovah gedraai het om ’n onsedelike weg in te slaan, sê: “Dit is vir my baie moeilik, want hy was in elke ander opsig vir my ’n wonderlike broer. Ek mis hom veral by groot familiegesellighede.”

Waarom is dit so moeilik?

Waarom veroorsaak die geestelike verlies van ’n kind of ander geliefde soveel pyn vir Christengesinslede? Omdat hulle weet dat die Skrif ewige lewe op ’n paradysaarde beloof vir diegene wat aan Jehovah lojaal bly (Psalm 37:29; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3-5). Hulle sien daarna uit om hierdie seëninge saam met hulle huweliksmaat, kinders, ouers, broers en susters en kleinkinders te geniet. Hoe seer maak dit hulle tog om te dink dat hulle geliefdes wat opgehou het om Jehovah te dien, dalk nie hierdie dinge gaan ondervind nie! Christene besef dat Jehovah se wette en beginsels hulle selfs in hulle teenswoordige lewe tot voordeel strek. Dit is dus hartverskeurend vir Christene om te sien dat die wyse waarop hulle geliefdes saai, ’n bittere oes tot gevolg gaan hê.—Jesaja 48:17, 18; Galasiërs 6:7, 8.

Dit is vir party wat nog nooit so ’n verlies ervaar het nie, miskien moeilik om te besef hoe verpletterend dit kan wees. Feitlik elke aspek van die lewe word daardeur geraak. “Dit word al hoe moeiliker om by Christelike vergaderinge te sit en te sien hoe ouers met hulle kinders lag en gesels”, sê Louise. “Enige vreugdevolle geleentheid word oorskadu deur ’n gevoel van leegheid weens dié wat nie daar is nie.” ’n Christen- ouer man onthou die vier jaar waartydens sy vrou se dogter nie met hulle geassosieer het nie. Hy sê: “Selfs die ‘goeie tye’ was dikwels moeilik. Wanneer ek vir my vrou ’n geskenk gegee het of haar vir ’n naweek na ’n mooi plek geneem het, het sy begin huil omdat haar dogter nie in ons geluk deel nie.”

Oorreageer sulke Christene? Nie noodwendig nie. Trouens, hulle weerspieël moontlik in sekere mate die eienskappe van Jehovah, na wie se beeld die mens gemaak is (Genesis 1:26, 27). Wat beteken dit? Wel, hoe het Jehovah gevoel toe sy volk Israel teen hom in opstand gekom het? In Psalm 78:38-41 sien ons dat Jehovah gekrenk en bedroef gevoel het. Tog het hy hulle geduldig gewaarsku en gedissiplineer en hulle keer op keer vergewe wanneer hulle berou getoon het. Dit is duidelik dat Jehovah persoonlik geheg voel aan sy skepsele, ‘die werk van sy hande’, en nie maklik moed opgee met hulle nie (Job 14:15; Jona 4:10, 11). Hy het mense geskep met die vermoë om ook sulke lojale bande te hê, en die band tussen gesinslede kan besonder sterk wees. Dit is dus nie verbasend dat mense oor die geestelike verlies van ’n geliefde gesinslid sal treur nie.

Ja, om ’n geliefde in geestelike sin te verloor, is een van die moeilikste beproewinge waarvoor ware aanbidders te staan kom (Handelinge 14:22). Jesus het gesê dat dit verdeeldheid in sommige gesinne sou veroorsaak as hulle sy boodskap aanneem (Matteus 10:34-38). Dit is nie omdat die Bybel se boodskap op sigself verdeeldheid in gesinne veroorsaak nie. Dit is eerder ongelowige of ontroue gesinslede wat ’n skeuring veroorsaak deur die Christelike weg te verwerp, te verlaat of selfs teë te staan. Ons kan egter dankbaar wees dat Jehovah sy getroue knegte nie sonder hulp laat om die beproewinge wat hulle ondervind, die hoof te bied nie. Watter Bybelbeginsels kan jou help om die droefheid te verduur en ’n mate van vreugde en gemoedsrus te vind as jy tans oor die geestelike verlies van ’n geliefde treur?

Hoe om dit te verwerk

‘Bou julle op en hou julle in God se liefde’ (Judas 20, 21). Miskien laat jou spesifieke omstandighede jou nie toe om nou iets te doen om ’n gesinslid te help wat opgehou het om Jehovah te dien nie. Nietemin kan en moet jy jouself sowel as enige ander getroue gesinslede opbou. Veronica, wat gesien het hoe twee van haar drie seuns die waarheid verlaat, sê: “Ek en my man is daaraan herinner dat ons geestelik sterk moet bly, want dan sal ons in die beste posisie wees om ons seuns terug te verwelkom wanneer hulle tot hulle sinne kom. Waar sou die verlore seun gewees het as sy vader nie in ’n posisie was om hom terug te ontvang nie?”

Om sterk te bly, moet jy jou verdiep in geestelike bedrywighede. Dit sal ’n vaste rooster vir diep Bybelstudie en die bywoning van Christelike vergaderinge insluit. Stel jou beskikbaar om ander in die gemeente te help in die mate wat jou omstandighede toelaat. Aanvanklik sal dit dalk vir jou moeilik wees om aan sulke bedrywighede deel te neem. Veronica vertel: “Ek wou my instinktief van ander afsonder, soos ’n gewonde dier. Maar my man het daarop aangedring dat ons ’n goeie geestelike roetine handhaaf. Hy het seker gemaak dat ons na die vergaderinge gaan. Toe die tyd aangebreek het om ’n streekbyeenkoms by te woon, het dit baie moed van my geverg om te gaan en ander in die oë te kyk. Maar die program het ons nader aan Jehovah laat kom. Ons seun wat getrou gebly het, het daardie byeenkoms besonder opbouend gevind.”

Maria, wat vroeër genoem is, vind dat dit veral help om besig te bly in die veldbediening, en sy help tans vier persone om van die Bybel te leer. Laura sê eweneens: “Hoewel ek nog steeds elke dag huil, en al het ek my kinders nie so suksesvol soos ander ouers grootgemaak nie, dank ek Jehovah dat ek wel die Bybel se volmaakte boodskap het, wat gesinne in hierdie laaste dae kan help.” Ken en Eleanor, wie se volwasse kinders die gemeente verlaat het, het hulle sake so gereël dat hulle na ’n gebied kon trek waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig is en die voltydse bediening kon betree. Dit het hulle gehelp om sake in perspektief te hou en te sorg dat hulle nie deur droefheid oorweldig word nie.

Moenie hoop opgee nie. Die liefde “hoop alles” (1 Korintiërs 13:7). Ken, wat so pas genoem is, sê: “Toe ons kinders die weg van die waarheid verlaat het, was dit vir my asof hulle gesterf het. Maar ná my suster se dood, het my beskouing verander. Ek is dankbaar dat my kinders nie letterlik dood is nie en dat Jehovah die weg ooplaat sodat hulle tot hom kan terugkeer.” Ja, ondervinding het al getoon dat baie wat die waarheid verlaat, uiteindelik wel terugkeer.—Lukas 15:11-24.

Vermy selfverwyt. Veral ouers kan geneig wees om terug te kyk en spyt te voel dat hulle sekere situasies nie anders hanteer het nie. Maar die hoofgedagte wat in Esegiël 18:20 oorgedra word, is dat Jehovah die oortreder, nie sy ouers nie, verantwoordelik hou vir sy verkeerde keuse. Interessant genoeg, hoewel die boek Spreuke baie kommentaar lewer oor ouers se verpligting om hulle kinders in die regte weg groot te maak, bevat dit vier keer meer raad vir jongmense om na hulle ouers te luister en hulle te gehoorsaam. Ja, kinders het die verantwoordelikheid om te reageer op die Bybelse opleiding wat hulle onvolmaakte ouers gee. Jy het sake waarskynlik so goed hanteer as wat jy op daardie tydstip kon. En selfs as jy voel dat jy sekere foute gemaak het waarvoor jy beslis die skuld dra, beteken dit nie noodwendig dat jou foute veroorsaak het dat jou geliefde die waarheid verlaat nie. Hoe dit ook al sy, ’n mens baat niks daarby om jou heeltyd met “as ek maar” te verwyt nie. Leer uit jou foute, wees vasbeslote om dit nie te herhaal nie en bid tot Jehovah om vergifnis (Psalm 103:8-14; Jesaja 55:7). Konsentreer dan op die toekoms, nie die verlede nie.

Wees geduldig met ander. Party weet dalk nie presies hoe om jou aan te moedig of te vertroos nie, veral as hulle nooit self so ’n ondervinding gehad het nie. Wat meer is, mense verskil in wat hulle as aanmoedigend en vertroostend beskou. As party dus dinge sê wat jou ontstel, moet jy die apostel Paulus se raad in Kolossense 3:13 toepas: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het.”

Respekteer Jehovah se reëling om dissipline te gee. As een van jou gesinslede dissipline van die gemeente ontvang het, moet jy onthou dat dit deel van Jehovah se reëling is en tot almal se voordeel strek, ook tot die oortreder s’n (Hebreërs 12:11). Weerstaan dus enige versoeking om fout te vind met die betrokke ouer manne of die besluite wat hulle geneem het. Onthou, die beste resultate word verkry as ’n mens dinge op Jehovah se manier doen, terwyl dit net meer pyn meebring as ’n mens teen Jehovah se reëlings skop.

Ná Israel se verlossing uit Egipte het Moses gereeld as regter opgetree (Eksodus 18:13-16). Aangesien ’n beslissing ten gunste van een persoon waarskynlik tot nadeel van ’n ander was, is dit nie moeilik om jou voor te stel dat party teleurgesteld was met Moses se besluite nie. Foutvindery met Moses se beslissings het dalk daartoe bygedra dat party soms teen sy leierskap in opstand gekom het. Jehovah het Moses egter gebruik om Sy volk te lei, en Hy het nie Moses gestraf nie, maar die opstandelinge en hulle gesinne wat hulle ondersteun het (Numeri 16:31-35). Ons kan hieruit leer deur daarna te streef om die besluite van diegene wat vandag teokratiese gesag het, te respekteer en daarmee saam te werk.

In hierdie verband onthou Delores hoe moeilik dit vir haar was om ’n gebalanseerde beskouing te behou toe haar dogter deur die gemeente gedissiplineer is. “Wat my gehelp het”, sê sy, “was om artikels wat oor die redelikheid van Jehovah se reëlings handel, oor en oor te lees. Ek het gedagtes uit toesprake en artikels wat my sou help om moed te hou en voort te gaan, in ’n spesiale notaboek geskryf.” Dit bring ons by nog ’n belangrike manier om so ’n situasie te verwerk.

Praat oor jou gevoelens. Jy sal dit dalk nuttig vind om met een of twee vertroude en simpatieke vriende te praat. Wanneer jy dit doen, moet jy vriende kies wat jou sal help om ’n positiewe gesindheid te behou. Dit sal beslis baie help om ‘jou hart uit te stort’ in gebed tot Jehovah (Psalm 62:7, 8). b Waarom? Omdat hy jou diepste gevoelens ten volle verstaan. Byvoorbeeld, jy voel miskien dat dit onregverdig is dat jy hierdie emosionele pyn moet deurmaak. Dit was immers nie jy wat Jehovah verlaat het nie. Vertel Jehovah hoe jy voel, en vra hom om jou te help om die situasie op ’n manier te beskou wat minder pynlik is.—Psalm 37:5.

Met verloop van tyd sal jy jou gevoelens waarskynlik beter kan verwerk. Intussen moet jy nie verslap in jou pogings om jou hemelse Vader te behaag nie, en jy moet nooit voel dat dit nutteloos is nie (Galasiërs 6:9). Onthou, selfs as ons Jehovah sou verlaat, sal ons nog steeds probleme hê. As ons daarenteen lojaal aan hom bly, kan ons staatmaak op sy hulp tydens ons beproewinge. Wees dus verseker dat Jehovah jou situasie ten volle verstaan en sal voortgaan om jou die nodige krag op die regte tyd te gee.—2 Korintiërs 4:7; Filippense 4:13; Hebreërs 4:16.

[Voetnote]

a Party name is verander.

b Sien Die Wagtoring van 1 Desember 2001, bladsye 30-1, aangaande gebed ten behoewe van ’n uitgesette persoon.

[Venster op bladsy 19]

Hoe om dit te verwerk

◆ Bou julle op en hou julle in God se liefde.’—Judas 20, 21.

◆ Moenie hoop opgee nie.—1 Korintiërs 13:7.

◆ Vermy selfverwyt.—Esegiël 18:20.

◆ Wees geduldig met ander.—Kolossense 3:13.

◆ Respekteer Jehovah se reëling om dissipline te gee.—Hebreërs 12:11.

◆ Praat oor jou gevoelens.—Psalm 62:7, 8.

[Venster/Prent op bladsy 21]

Het jy Jehovah verlaat?

Indien wel, en ongeag die rede, jou verhouding met Jehovah en jou vooruitsigte op ewige lewe is op die spel. Dalk is jy van plan om na Jehovah terug te keer. Streef jy hierdie doelwit tans ywerig na? Of stel jy dit uit tot “die regte tyd”? Onthou, die onweerswolke van Armageddon kom vinnig nader. Daarbenewens is die lewe in hierdie stelsel kort en onseker. Jy weet nie eens of jy môre nog sal lewe nie (Psalm 102:3; Jakobus 4:13, 14). ’n Man wat met ’n ongeneeslike siekte gediagnoseer is, het gesê: “Hierdie siekte het my oorval terwyl ek Jehovah voltyds gedien het; ek het geen geheime sondes gehad nie. En dit is op hierdie stadium ’n goeie gevoel om te hê.” Stel jou egter voor hoe hy sou gevoel het as hierdie siekte hom oorval het terwyl hy nog gesê het: “Ek sal eendag na Jehovah terugkeer!” As jy Jehovah verlaat het, is nou die beste tyd om terug te keer.

[Prente op bladsy 18]

As jy jou in geestelike bedrywighede verdiep, kan dit jou help om die regte perspektief te behou