Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL SE BESKOUING

Diere

Diere

Byna almal se lewe word op die een of ander manier deur diere geraak. Is ons aanspreeklik vir die manier waarop ons hulle behandel?

Hoe moet mense diere behandel?

WAT MENSE SÊ

Party glo dat mense diere kan gebruik op enige manier wat hulle goeddink. Ander dink dat diere net soos mense behandel moet word.

  • ’n Vername kampvegter vir diereregte het gesê dat diere die “basiese reg [moet hê] om nie uitsluitlik as hulpbronne of handelsitems gebruik te word nie”. Hy het bygevoeg: “Ons moet ophou om diere soos ons eiendom te behandel.”

  • In wat baie as ’n uiterste geval beskou, het die miljardêr Leona Helmsley ’n trustfonds van $12 miljoen (R129 600- 000) aan haar hond bemaak en in haar testament gesê dat die hond langs haar begrawe moet word wanneer hy doodgaan.

Iets om oor te dink: Hoe dink jy moet diere behandel word?

WAT DIE BYBEL SÊ

Die Skepper van lewe, Jehovah God, het vir die mens gesê: “Die visse van die see en die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde kruip, moet aan julle onderworpe wees” (Genesis 1:28). Dit is dus redelik om tot die slotsom te kom dat God mense as verhewe bo diere beskou.

Hierdie gevolgtrekking word bevestig deur ’n betekenisvolle stelling wat die bogenoemde teks voorafgaan. Die Bybel sê: “God het die mens na sy beeld begin skep, na God se beeld het hy hom geskep; man en vrou het hy hulle geskep.”—Genesis 1:27.

Aangesien die mens “na God se beeld” geskep is, is ons uniek omdat ons godvrugtige eienskappe, soos wysheid, geregtigheid en liefde, openbaar. Mense het ook die ingebore vermoë om sedelikheid en geestelikheid te openbaar. Diere het nie hierdie menslike vermoëns nie, want hulle is nie “na God se beeld” geskep nie. Hulle is laer as mense en is nie veronderstel om op dieselfde manier as mense behandel te word nie.

Beteken dit dat mense die reg het om diere te mishandel? Nee.

  • God het in sy Wet aan die Israeliete voorsiening gemaak dat diere rus en kos moet kry, gehelp moet word wanneer hulle dit nodig het en teen besering beskerm moet word.—Eksodus 23:4, 5; Deuteronomium 22:10; 25:4.

“Ses dae moet jy jou werk doen; maar op die sewende dag moet jy jou daarvan onthou, sodat jou bul en jou esel kan rus.”Eksodus 23:12.

Is dit verkeerd om diere dood te maak?

WAT MENSE SÊ

Party jagters en visserman- ne maak diere dood vir sport—dit is vir hulle opwindend om diere te jag en dood te maak. Ander stem saam met die Russiese skrywer Leo Tolstoy, wat geskryf het dat dit “eenvoudig gewetenloos” is om diere dood te maak en te eet.

WAT DIE BYBEL SÊ

God laat mense toe om diere dood te maak om menselewe te beskerm of om klere te voorsien (Eksodus 21:28; Markus 1:6). Die Bybel sê ook dat mense diere vir voedsel mag doodmaak. “Al die diere wat beweeg en lewe, mag vir julle as voedsel dien”, sê Genesis 9:3. Selfs Jesus het sy dissipels gehelp om vis te vang, wat hulle later geëet het.—Johannes 21:4-13.

Die Bybel sê nogtans van God: “Sy siel haat beslis elkeen wat geweld liefhet” (Psalm 11:5). Dit is dus duidelik dat God nie wil hê dat ons diere net vir plesier of sport moet seermaak of doodmaak nie.

Die Bybel toon dat God groot waarde aan dierelewe heg.

  • Volgens die Bybel het God gedurende die skepping “die wilde diere van die aarde volgens hulle soorte en die mak diere volgens hulle soorte en al die kruipende diere van die aarde volgens hulle soorte begin maak. En God het gesien dat dit goed is.”Genesis 1:25.

  • Die Bybel sê van Jehovah: “Aan die diere gee hy hulle voedsel” (Psalm 147:9). God het ekosisteme geskep wat meer as genoeg voedsel en skuiling vir diere voorsien.

  • Koning Dawid van Israel het in gebed gesê: “U red mens en dier, o Jehovah” (Psalm 36:6). Gedurende die wêreldwye Vloed het Jehovah byvoorbeeld reëlings getref om agt individue en alle soorte diere te bewaar voordat hy die goddelose mense vernietig het.—Genesis 6:19.

Dit is duidelik dat Jehovah lief is vir sy diereskepping en dat hy verwag dat mense die gepaste agting vir dierelewe moet toon.

“Die regverdige sorg vir die siel van sy mak dier.”Spreuke 12:10.