Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gebruik jy digitale tegnologie wyslik?

Gebruik jy digitale tegnologie wyslik?

Jenni is verslaaf aan ’n videospeletjie. “Ek speel dit nou al agt uur per dag, en dit het ’n groot probleem geword”, sê sy.

Dennis het probeer om sewe dae lank sonder sy elektroniese toestelle en Internettoegang klaar te kom. Hy kon dit net 40 uur uithou.

Jenni en Dennis is nie tieners nie. Jenni, ’n ma van vier, is 40 jaar oud. Dennis is 49.

GEBRUIK jy digitale tegnologie? * Baie sal ja sê, en met goeie rede. Elektroniese toestelle speel ’n groot en nuttige rol wanneer dit kom by sekulêre werk, mense se sosiale lewe en vermaak.

Maar soos Jenni en Dennis, is baie mense blykbaar te geheg aan sekere vorme van tegnologie. Byvoorbeeld, die 20-jarige Nicole sê: “Ek voel sleg om dit te sê, maar my selfoon is my beste maatjie. Ek maak seker dat dit te alle tye naby my is. Ek raak van my kop af as ek in ’n gebied is waar daar geen sein is nie, en ná ’n halfuur kan ek nie wag totdat ek weer kan kyk of ek boodskappe ontvang het nie. Dit is nogal belaglik!”

Party mense kyk selfs gedurende die nag of hulle boodskappe ontvang het. Hulle ondervind moontlik onttrekkingsimptome wanneer hulle van hulle digitale metgesel geskei is. Party navorsers beskryf hierdie soort gedrag as ’n verslawing—hetsy aan digitale tegnologie oor die algemeen of aan die Internet of ’n spesifieke toestel, soos ’n slimfoon. Ander huiwer om die term “verslawing” te gebruik en verkies om sulke gedrag as problematies, kompulsief of obsessief te beskryf.

Ongeag wat dit genoem word, die onwyse gebruik van digitale tegnologie kan ’n probleem wees. In party gevalle het dit veroorsaak dat gesinslede uitmekaardryf. Byvoorbeeld, ’n 20-jarige meisie kla: “My pa weet glad nie wat in my lewe aangaan nie. Hy sit in die sitkamer en skryf e-posse terwyl hy met my praat. Hy kan nie sy selfoon neersit nie. My pa gee seker vir my om, maar soms lyk dit net nie so nie.”

“Digitale rehabilitasie”

Lande soos China, Suid-Korea, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State het “digitale rehabilitasiesentrums” gestig, waar ’n persoon wat tegnologie misbruik, ’n ruk lank nie toegelaat word om die Internet en digitale toestelle te gebruik nie. Neem byvoorbeeld Brett, ’n jong volwassene wat sê dat hy op een stadium elke dag 16 uur lank ’n speletjie op die Internet gespeel het. “Wanneer ek aanlyn gegaan het, was dit werklik asof ek onder die invloed van dwelms was”, sê hy. Teen die tyd dat Brett hom by ’n digitale rehabilitasiesentrum laat opneem het, was hy werkloos, het hy sy higiëne verwaarloos en het hy sy vriende verloor. Hoe kan jy verhoed dat so iets met jou gebeur?

ONDERSOEK JOU GEBRUIK VAN TEGNOLOGIE. Bepaal watter invloed tegnologie op jou lewe het. Vra jou vrae soos die volgende af:

  • Raak ek baie geïrriteerd, dalk selfs buierig, wanneer ek nie toegang tot die Internet het nie of nie my elektroniese toestel kan gebruik nie?

  • Hou ek aan om die Internet of die toestel te gebruik, al het die tyd wat ek daarvoor opsygesit het, verstryk?

  • Verloor ek slaap omdat ek nie kan ophou kyk of ek boodskappe ontvang het nie?

  • Veroorsaak my gebruik van tegnologie dat ek my gesin verwaarloos? Sal my gesinslede saamstem met my antwoord op hierdie vraag?

As jou gebruik van tegnologie veroorsaak dat jy “die belangriker dinge” verwaarloos—insluitende jou gesin en ander verantwoordelikhede—is dit nou die tyd om veranderinge aan te bring (Filippense 1:10). Hoe?

LEER OM REDELIKE PERKE TE STEL. Te veel van selfs ’n goeie ding kan skadelik wees. Hetsy jy digitale tegnologie vir besigheid of plesier gebruik, jy moet beperk hoeveel tyd jy daaraan sal bestee en dan by daardie perke bly.

Wenk: Vra gerus ’n gesinslid of ’n vriend om jou te help. Die Bybel sê: “Twee is beter as een, . . . want as een van hulle val, kan die ander sy metgesel ophelp.”—Prediker 4:9, 10.

Moenie toelaat dat iets goeds tot “verslawing” lei nie

Aangesien nuwe toestelle dit makliker en vinniger maak om toegang tot data te verkry en dit aan te stuur, sal die onwyse gebruik van tegnologie ongetwyfeld toeneem. Maar moenie toelaat dat iets goeds tot “verslawing” lei nie. Deur ‘die geleë tyd vir jou uit te koop’, kan jy die misbruik van digitale tegnologie vermy.—Efesiërs 5:16.

^ par. 5 In hierdie artikel verwys die term “digitale tegnologie” na elektroniese toestelle wat digitale data stuur of ’n mens daartoe toegang gee. Digitale data sluit e-posse, oproepe, teksboodskappe, video’s, musiek, speletjies en foto’s in.