Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe raak tegnologie jou huwelik?

Hoe raak tegnologie jou huwelik?

Wanneer tegnologie reg gebruik word, kan dit die verhouding tussen ’n man en vrou wat getroud is, versterk. Byvoorbeeld, dit kan ’n paartjie help om gedurende die dag in kontak met mekaar te bly.

Maar party huweliksmaats laat toe dat die misbruik van tegnologie . . .

  • hulle beroof van kosbare tyd saam.

  • veroorsaak dat hulle onnodig werk huis toe bring.

  • veroorsaak dat hulle mekaar nie vertrou nie en dat hulle selfs dislojaal is aan mekaar.

WAT JY MOET WEET

TYD MET MEKAAR

’n Getroude man met die naam Michael sê: “Partykeer wanneer ek en my vrou saam is, is sy nie regtig ‘daar’ nie. Sy is besig op haar selfoon en sy sê: ‘Ek het nog nie kans gehad om na my foon te kyk nie.’” ’n Getroude man met die naam Jonathan sê dat in sulke gevalle kan “huweliksmaats fisies saam wees, maar tog ver van mekaar af wees”.

IETS OM OOR TE DINK: Hoe gereeld praat jy oor die foon of is jy besig om vir iemand anders ’n boodskap te stuur wanneer jy tyd met jou huweliksmaat kon spandeer het? – EFESIËRS 5:33.

WERK

Sommige mense moet altyd beskikbaar wees as gevolg van die tipe sekulêre werk wat hulle doen. Ander mense se werk is nie so veeleisend nie, maar hulle vind dit nog steeds moeilik om hulle werk by die werk te los. ’n Getroude man met die naam Lee erken: “Gedurende die tyd wat ek opsygesit het om met my vrou te spandeer, vind ek dit moeilik om nie na elke oproep of teksboodskap wat ek van die werk ontvang, te kyk nie.” ’n Getroude vrou met die naam Joy sê: “Ek werk van die huis af, so dis moeilik om op te hou werk. Dit is nie maklik om gebalanseerd te wees nie.”

IETS OM OOR TE DINK: Gee jy jou volle aandag wanneer jou huweliksmaat met jou praat? – LUKAS 8:18.

LOJALITEIT

Baie mense sê dat hulle al met hulle huweliksmaat gestry het oor wat hulle op sosiale media gesit het omdat dit hulle laat twyfel het aan hulle huweliksmaat se lojaliteit. Party het selfs erken dat hulle dinge in die geheim aanlyn gesit het wat hulle van hulle huweliksmaat af wegsteek.

Baie mense glo dat sosiale media vir getroude mense baie gevaarlik kan wees en dat dit vir hulle selfs makliker maak om ontrou te wees aan mekaar. Dit verbaas ons nie dat regsgeleerdes sê dat sosiale media die oorsaak van baie egskeidings is nie.

IETS OM OOR TE DINK: Weet jou huweliksmaat dat jy met iemand van die teenoorgestelde geslag praat, of steek jy dit weg? – SPREUKE 4:23.

WAT JY KAN DOEN

STEL PRIORITEITE

Iemand wat nie eet nie, sal nie gesond bly nie. Net so sal ’n persoon wat nie tyd met sy of haar huweliksmaat spandeer nie, dit moeilik vind om ’n gesonde huwelik te hê. – Efesiërs 5:28, 29.

BYBELWAARHEID: “Maak [seker] van die belangriker dinge.” – FILIPPENSE 1:10.

Bespreek watter voorstelle julle hieronder graag wil toepas, of skryf julle eie idees neer oor hoe om te keer dat tegnologie met julle huwelik inmeng.

  • Eet ten minste een maaltyd per dag saam

  • Besluit wanneer julle nie julle toestelle gaan gebruik nie

  • Reël om een aand iets spesiaals saam te doen

  • Sit julle toestelle af in die aand, en hou dit weg van waar julle slaap

  • Sit elke dag 15 minute opsy om met mekaar te praat sonder dat daar enige toestelle naby is

  • Skakel die Internettoegang op ’n spesifieke tyd af