Spring na inhoud

HULP VIR DIE GESIN | DIE HUWELIK

Hoe om tegnologie op sy plek te hou

Hoe om tegnologie op sy plek te hou

 Tegnologie kan goed of sleg wees vir jou huwelik. Hoe raak dit jou huwelik?

 Wat jy moet weet

  •   Wanneer tegnologie reg gebruik word, kan dit goed wees vir die huwelik. Byvoorbeeld, party paartjies gebruik dit om in kontak te bly wanneer hulle gedurende die dag nie bymekaar is nie.

     “’n Eenvoudige boodskap wat sê ‘Ek is lief vir jou’ of ‘Ek dink aan jou’, kan baie beteken.” – Jonathan.

  •   Wanneer tegnologie verkeerd gebruik word, kan dit sleg wees vir die huwelik. Byvoorbeeld, party mense gebruik die heeltyd hulle toestelle wat maak dat hulle minder tyd of aandag vir hulle huweliksmaat het.

     “Ek is seker daar was al tye wanneer my man meer geneig sou wees om met my te praat as ek nie op my foon besig was nie.” – Julissa.

  •   Party mense sê dat hulle betekenisvolle gesprekke met hulle huweliksmaat kan hê terwyl hulle hulle toestelle op dieselfde tyd gebruik. Die sosioloog Sherry Turkle dink dat dit onmoontlik is om meer as een ding op ’n slag goed te doen. Al dink mense dat dit goed is, is dit eintlik ’n slegte ding. Sy sê dat wanneer ons baie dinge op dieselfde tyd probeer doen, ons in werklikheid dit nie goed kan doen nie. a

     “Dis lekker wanneer ek en my man gesels, maar nie wanneer hy met ander dinge besig is nie. Wanneer hy dit doen, laat dit my voel asof hy nie omgee of ek daar is of nie.” – Sarah.

 Die slotsom: Die manier hoe jy tegnologie gebruik, kan goed of sleg wees vir jou huwelik.

 Wat jy kan doen

 Stel prioriteite. Die Bybel sê om “seker [te] maak van die belangriker dinge” (Filippense 1:10). Vra jou af: ‘Spandeer ek en my huweliksmaat meer tyd op ons toestelle as met mekaar?’

 “Dis hartseer om te sien hoe ’n man en vrou heeltyd op hulle foon is wanneer hulle uiteet. Ons wil nie aan tegnologie verslaaf wees en van die belangrikste ding vergeet nie – ons verhouding met mekaar.” – Matthew.

 Stel perke. Die Bybel sê: “Hou . . . aan om noukeurig te let op hoe julle julle gedra, dat dit nie as onwyse persone is nie, maar as wyse persone, en maak die beste gebruik van julle tyd” (Efesiërs 5:15, 16). Vra jou af: ‘Kan ek ’n spesifieke tyd opsysit om boodskappe te antwoord wat nie ’n noodgeval is nie, eerder as om onmiddellik daarna te kyk?’

 “Dit help my om my foon se klank af te sit en dan later op boodskappe te reageer wanneer ek tyd het. Dis min dat ’n oproep, ’n boodskap of ’n epos so dringend is dat jy dit dadelik moet antwoord.” – Jonathan.

 Los jou werk by die werk. Die Bybel sê: “Daar is vir alles ’n vasgestelde tyd” (Prediker 3:1). Vra jou af: ‘Laat ek toe dat my werk my gesinslewe affekteer omdat ek my werk by die huis op my slimfoon doen? As dit die geval is, hoe raak dit my huwelik? Wat sal my huweliksmaat sê?’

 “Tegnologie veroorsaak dat ons enige tyd kan werk. Ek moes hard probeer om nie die heeltyd na my selfoon te kyk en werksituasies te hanteer wanneer ek en my vrou bymekaar is nie.” – Matthew.

 Praat met jou huweliksmaat oor die gebruik van tegnologie. Die Bybel sê: “Laat elkeen nie sy eie voordeel bly soek nie, maar dié van die ander persoon” (1 Korintiërs 10:24). Praat met jou huweliksmaat oor hoe elkeen van julle tegnologie gebruik en watter veranderinge julle moet maak, as dit nodig is. Jy kan die deel punte om te bespreek in hierdie artikel gebruik om mee te begin.

 “Ek en my man is baie eerlik met mekaar, en ons sê vir mekaar as ons voel dat die ander een te veel hulle selfoon of tablet gebruik. Ons albei besef dat dit ’n probleem kan wees, en daarom neem ons mekaar se gevoelens in ag.” – Danielle.

 Die slotsom: Maak seker dat jy tegnologie gebruik om jou lewe makliker te maak en dat dit nie jou lewe beheer nie.

a Uit die boek Reclaiming Conversation—The Power of Talk in a Digital Age.