Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 32

Volg Jehovah na – Wees redelik

Volg Jehovah na – Wees redelik

“Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word.” – FIL. 4:5.

LIED 89 Luister en doen wat God sê

IN HIERDIE ARTIKEL a

Watter soort boom wil jy graag wees? (Sien paragraaf 1)

1. Hoe moet Christene soos ’n boom wees? (Sien ook prent.)

 “DIE wind breek nie ’n boom wat kan buig nie.” Hierdie spreekwoord beklemtoon ’n belangrike eienskap wat sekere bome help om te floreer: buigsaamheid. Om geestelik te floreer, moet Christene buigsaam wees, gereed om te buig. Hoe? Ons moet redelik wees deur aan te pas wanneer ons persoonlike omstandighede verander en deur die beskouings en besluite van ander te respekteer.

2. Watter eienskappe sal ons help om aan te pas wanneer ons omstandighede verander, en wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 As Jehovah se knegte wil ons redelik wees. Ons wil ook nederig en liefdevol wees. In hierdie artikel sal ons sien hoe sulke eienskappe party Christene gehelp het om aan te pas toe hulle omstandighede verander het. Ons sal ook sien hoe hierdie eienskappe ons kan help. Maar kom ons leer eers by Jehovah en Jesus, die perfekte voorbeelde van redelikheid.

JEHOVAH EN JESUS IS REDELIK

3. Hoe weet ons dat Jehovah redelik is?

3 Jehovah word “die Rots” genoem omdat hy standvastig, onbeweeglik, is (Deut. 32:4). Maar hy is ook redelik. Soos dinge in hierdie wêreld verander, hou ons God aan om aan te pas sodat hy sy doel vir die mensdom kan bereik. Jehovah het mense na sy beeld gemaak met die vermoë om aan te pas wanneer omstandighede verander. Hy het duidelike Bybelbeginsels gegee wat ons help om wyse besluite te maak, maak nie saak watter uitdagings ons dalk het nie. Jehovah se eie voorbeeld en die beginsels wat hy vir ons gegee het, wys dat Jehovah ook redelik is, al is hy “die Rots”.

4. Gee ’n voorbeeld van Jehovah se redelikheid. (Levitikus 5:7, 11)

4 Jehovah se weë is perfek en redelik. Hy is nie streng of wreed in sy handelinge met mense nie. Kyk byvoorbeeld hoe Jehovah redelikheid teenoor die Israeliete gewys het. Hy het nie vereis dat almal, ryk of arm, dieselfde offerande moet maak nie. In party gevalle het hy elke persoon toegelaat om offerandes te maak volgens sy omstandighede. – Lees Levitikus 5:7, 11.

5. Gee ’n voorbeeld van Jehovah se nederigheid en meegevoel.

5 Jehovah se nederigheid en meegevoel beweeg hom om redelik te wees. Byvoorbeeld, Jehovah se nederigheid kon duidelik gesien word toe hy op die punt gestaan het om die goddelose mense van Sodom te vernietig. Deur sy engele het Jehovah vir die regverdige Lot gesê om na die bergstreek te vlug. Lot was bang om daarheen te gaan. Daarom het hy Jehovah gesmeek dat hy en sy gesin na Soar kan gaan, ’n klein dorp wat ook vernietig sou word. Jehovah kon daarop aangedring het dat Lot presies moet doen wat Hy vir hom gesê het om te doen. Maar hy het Lot toegelaat om na Soar te gaan, en Hy het nie daardie dorp vernietig nie (Gen. 19:18-22). Honderde jare later het Jehovah meegevoel aan die mense van Nineve betoon. Hy het die profeet Jona gestuur om vir die goddelose mense van Nineve te sê dat hulle en hulle stad vernietig gaan word. Maar toe die Nineviete berou getoon het, het Jehovah jammer gevoel vir hulle en het hy die stad gespaar. – Jona 3:1, 10; 4:10, 11.

6. Noem ’n paar voorbeelde van hoe Jesus Jehovah se redelikheid nagevolg het.

6 Jesus het Jehovah se redelikheid nagevolg. Hy is na die aarde gestuur om vir “die verlore skape van die huis van Israel” te preek. Maar hy het gewys dat hy redelik is terwyl hy daardie toewysing uitgevoer het. Eenkeer het ’n nie-Israelitiese vrou hom gesmeek om haar dogter gesond te maak wat ’n ‘demoon in haar gehad het en verskriklik gely het as gevolg daarvan’. Jesus het meegevoel gewys en gedoen wat die vrou gevra het en haar dogter gesond gemaak (Matt. 15:21-28). Kyk na nog ’n voorbeeld. Vroeër in sy bediening het Jesus gesê: “As iemand . . . sê dat hy my nie ken nie, sal ek . . . sê dat ek hom ook nie ken nie” (Matt. 10:33). Maar het Jesus gesê dat hy Petrus nie ken nie, al het Petrus drie keer gesê dat hy hom nie ken nie? Nee. Jesus het geweet dat Petrus berouvol is en sterk geloof het. Ná Jesus se opstanding het hy aan Petrus verskyn en hom heel moontlik daarvan verseker dat hy hom vergewe het en hom nog steeds liefhet. – Luk. 24:33, 34.

7. Watter reputasie wil ons graag hê volgens Filippense 4:5?

7 Ons het gesien dat Jehovah God en Jesus Christus redelik is. Wat van ons? Jehovah verwag dat ons redelik moet wees. (Lees Filippense 4:5.) Een vertaling stel hierdie vers so: “Staan bekend as iemand wat redelik is.” Ons kan onsself afvra: ‘Sien mense my as iemand wat redelik is, wat toegee en verdraagsaam is? Of sien hulle my as ’n streng, kwaai of hardkoppige persoon? Dring ek daarop aan dat ander dinge op my manier moet doen? Of luister ek na ander en gee ek toe wanneer dit moontlik is?’ Hoe redeliker ons is, hoe meer volg ons Jehovah en Jesus na. Kom ons kyk na twee situasies waarin dit belangrik is om redelik te wees – wanneer ons persoonlike omstandighede verander en wanneer ander se beskouings en besluite anders is as ons s’n.

WEES REDELIK WANNEER OMSTANDIGHEDE VERANDER

8. Wat kan ons help om redelik te wees wanneer omstandighede verander? (Sien ook voetnoot.)

8 Ons moet redelik wees wanneer ons omstandighede verander. Sulke veranderinge kan onverwagse probleme vir ons veroorsaak. Ons ondervind dalk skielik ’n ernstige gesondheidsprobleem. Of skielike veranderinge in die ekonomie of in die politieke stelsel waar ons bly, kan ons lewe baie moeilik maak (Pred. 9:11; 1 Kor. 7:31). Selfs ’n verandering in ’n teokratiese toewysing kan ons toets. Maak nie saak wat die uitdaging is nie, ons kan suksesvol by nuwe omstandighede aanpas as ons die volgende vier stappe neem: (1) aanvaar die realiteit, (2) fokus op die toekoms, (3) fokus op die positiewe en (4) doen dinge vir ander. b Kom ons kyk hoe hierdie stappe party van ons broers en susters al gehelp het.

9. Hoe het een sendelingpaartjie dit hanteer toe hulle onverwags deur ’n moeilike tyd gegaan het?

9 Aanvaar die realiteit. Emanuele en Francesca is as sendelinge na ’n ander land gestuur. Net toe hulle die taal begin leer en die broers in hulle nuwe gemeente begin leer ken, het die COVID-19-pandemie begin en moes hulle hulleself fisies afsonder. Toe is Francesca se ma skielik oorlede. Francesca wou baie graag by haar familie wees, maar as gevolg van die pandemie kon sy nie reis nie. Wat het haar gehelp om al hierdie probleme te hanteer? Eerstens, Emanuele en Francesca het saam gebid vir die wysheid om een dag op ’n slag te vat. Jehovah het hulle gebede op die regte tyd deur sy organisasie beantwoord. Byvoorbeeld, hulle was aangemoedig deur een broer wat in ’n video gesê het: “Hoe vinniger ons die nuwe omstandighede aanvaar, hoe vinniger kry ons ons vreugde terug saam met die geleentheid om die nuwe omstandighede goed te gebruik.” c Tweedens, hulle het besluit om te verbeter wanneer dit by telefoongetuieniswerk kom, en hulle het selfs ’n Bybelstudie begin. Derdens, hulle het die liefdevolle aanmoediging en ondersteuning van die plaaslike broers aanvaar. ’n Liefdevolle suster het elke dag vir ’n jaar lank vir hulle ’n kort boodskap met ’n Bybelvers gestuur. As ons ook ons nuwe omstandighede aanvaar, sal ons tevrede wees met wat ons kan doen.

10. Hoe het een suster by ’n groot verandering in haar lewe aangepas?

10 Fokus op die toekoms, en fokus op die positiewe. Christina, ’n Roemeense suster wat in Japan bly, was teleurgesteld toe die Engelse gemeente waaraan sy behoort het, ontbind was. Maar sy het nie op die verlede gefokus nie. Sy het eerder besluit om haar bes te doen in die plaaslike Japannese gemeente deur ’n goeie aandeel in daardie veld te hê. Sy het ’n vorige werksmaat gevra om haar te help om haar Japannees te verbeter. Die vrou het ingestem om die Bybel en die Geniet die lewe vir ewig!-brosjure te gebruik om Christina Japannees te leer. Christina se Japannees het nie net verbeter nie, maar die vrou het ook in die waarheid begin belangstel. Wanneer ons op die toekoms fokus en positief is, kan onverwagse veranderinge onverwagse seëninge bring.

11. Wat het een paartjie gehelp toe hulle finansiële probleme gehad het?

11 Doen dinge vir ander. ’n Paartjie wat in ’n land bly waar ons werk verbied is, het hulle inkomste verloor toe die ekonomie ineengestort het. Hoe het hulle aangepas? Eerstens, hulle het stappe geneem om hulle lewe te vereenvoudig. Daarna het hulle besluit om nie op hulle eie probleme te fokus nie, maar om eerder daarop te konsentreer om ander te help deur besig te bly in die predikingswerk (Hand. 20:35). Die man het gesê: “Omdat ons besig gebly het in die bediening, het ons minder tyd gehad om aan negatiewe dinge te dink en meer tyd om op God se wil te fokus.” Wanneer ons omstandighede verander, moet ons onthou hoe belangrik dit is om aan te hou om ander te help, veral deur ons Christelike bediening.

12. Hoe kan die apostel Paulus se voorbeeld ons help om aanpasbaar te wees in ons bediening?

12 Ons moet aanpasbaar wees in ons bediening. Ons ontmoet mense met verskillende oortuigings en gesindhede en wat uit ’n verskeidenheid agtergronde kom. Die apostel Paulus was aanpasbaar, en ons kan uit sy voorbeeld leer. Jesus het Paulus as “’n apostel vir die nasies” aangestel (Rom. 11:13). In daardie rol het Paulus vir Jode, Grieke, slim mense, gewone mense, regeringsamptenare en konings gepreek. Om die harte van soveel verskillende mense te bereik, het Paulus “alles vir alle soorte mense” geword (1 Kor. 9:19-23). Hy het aandag geskenk aan die kultuur, agtergrond en oortuigings van sy gehoor en het die manier hoe hy hulle benader het, daarvolgens aangepas. Ons kan ook effektiewer in ons bediening wees as ons aanpasbaar is en probeer dink aan wat die beste manier is om elke persoon te help.

RESPEKTEER ANDER SE BESKOUINGS

As ons redelik is, sal ons ander se beskouings respekteer (Sien paragraaf 13)

13. Watter gevaar kan ons vermy as ons ander se beskouings respekteer volgens 1 Korintiërs 8:9?

13 Redelikheid help ons ook om ander se beskouings te respekteer. Byvoorbeeld, party van ons susters hou daarvan om grimering te dra, terwyl ander verkies om dit nie te dra nie. Party Christene geniet dit om ’n bietjie alkohol te drink, maar ander besluit om glad nie te drink nie. Alle Christene wil graag gesond wees, maar hulle kies verskillende metodes van gesondheidsorg. As ons so sterk voel oor ons eie keuses dat ons dit in die gemeente probeer bevorder, kan ons ander laat struikel en verdeeldheid veroorsaak. Dit is iets wat ons beslis nie wil doen nie! (Lees 1 Korintiërs 8:9; 10:23, 24.) Kom ons kyk na twee voorbeelde wat wys hoe Bybelbeginsels ons kan help om gebalanseerd te wees en om die vrede te behou.

As ons redelik is, sal ons ander se beskouings respekteer (Sien paragraaf 14)

14. Watter Bybelbeginsels moet ons in gedagte hou wanneer dit kom by ons kleredrag en voorkoms?

14 Kleredrag en voorkoms. Jehovah sê nie vir ons presies wat ons moet dra nie, maar hy het vir ons beginsels gegee om te volg. Ons moet op ’n manier aantrek wat God eer en wat wys dat ons redelik en beskeie is en dat ons “gesonde verstand” het (1 Tim. 2:9, 10; 1 Pet. 3:3). Daarom wil ons nie op ’n manier aantrek wat mense se aandag net sal vestig op hoe ons lyk nie. Bybelbeginsels sal ouermanne ook help om nie hulle eie reëls oor kleredrag en haarstyle te maak nie. Byvoorbeeld, in een gemeente het party jong broers ’n gewilde haarstyl nagevolg wat kort maar glad nie netjies was nie, en die ouermanne wou hulle help. Hoe sou die ouermanne dit kon doen sonder om ’n reël te maak? Die kringopsiener het vir die ouermanne gesê om vir die broers te sê: “As julle op die verhoog is en die gehoor meer aandag skenk aan hoe julle lyk as aan wat julle sê, is daar ’n probleem met julle kleredrag en voorkoms.” Hierdie eenvoudige verduideliking het die probleem opgelos sonder dat dit vir die ouermanne nodig was om ’n reël te maak. d

As ons redelik is, sal ons ander se beskouings respekteer (Sien paragraaf 15)

15. Watter Bybelwette en beginsels help ons wanneer ons besluite oor ons gesondheidsorg maak? (Romeine 14:5)

15 Gesondheidsorg. Elke Christen moet besluit hoe om vir sy eie gesondheid te sorg (Gal. 6:5). Net ’n paar spesifieke Bybelwette, soos die gebooie om ons te weerhou van bloed en van spiritisme, het ’n uitwerking op ’n Christen se keuse van mediese behandeling (Hand. 15:20; Gal. 5:19, 20). Maar andersins kan hulle self besluit watter soort behandeling om te aanvaar. Party mense gaan net na die mediese gemeenskap vir hulle gesondheidsorg, terwyl ander alternatiewe vorme van behandeling verkies. Dit maak nie saak hoe sterk ons oor ’n soort behandeling voel nie, ons moet die feit respekteer dat ons broers en susters die reg het om hulle eie besluite te maak wanneer dit kom by hulle gesondheidsorg. So, ons moet hierdie vier punte in gedagte hou: (1) Net God se Koninkryk sal ons heeltemal en permanent gesond maak (Jes. 33:24). (2) Elke Christen moet “heeltemal oortuig” wees van wat die beste vir hom is. (Lees Romeine 14:5.) (3) Ons oordeel nie ander vir hulle besluite nie, en ons doen niks wat hulle kan laat struikel nie (Rom. 14:13). (4) Christene wys liefde en stel nie hulle eie vryheid om persoonlike keuses te maak bo die eenheid van die gemeente nie (Rom. 14:15, 19, 20). As ons hierdie punte in gedagte hou, sal ons ’n sterk verhouding met ons broers en susters behou en bydra tot die vrede van die gemeente.

As ons redelik is, sal ons ander se beskouings respekteer (Sien paragraaf 16)

16. Hoe kan ’n ouerman wys dat hy redelik is wanneer hy met ander ouermanne te doen het? (Sien ook prente.)

16 Ouermanne moet ’n goeie voorbeeld stel wanneer dit by redelikheid kom (1 Tim. 3:2, 3). Byvoorbeeld, ’n ouerman moenie verwag dat sy opinies altyd aanvaar sal word net omdat hy ouer as die ander ouermanne is nie. Hy besef dat Jehovah se gees enige lid van die liggaam kan beweeg om iets te sê wat hulle sal help om ’n wyse besluit te maak. En as die meeste ouermanne saamstem oor ’n besluit wat nie teen Bybelbeginsels is nie, sal ’n redelike ouerman daardie besluit ondersteun, al het hy ’n ander besluit verkies.

DIE VOORDELE VAN REDELIKHEID

17. Watter seëninge geniet Christene wat redelik is?

17 Christene wat redelik is, geniet baie seëninge. Ons het beter verhoudings met ons broers en susters, en daar is vrede in die gemeente. Ons geniet die verskillende persoonlikhede en kulture onder Jehovah se verenigde aanbidders. En die belangrikste van alles, dit maak ons gelukkig om te weet dat ons ons redelike God, Jehovah, navolg.

LIED 90 Bemoedig mekaar

a Jehovah en Jesus is redelik, en hulle wil hê dat ons daardie eienskap moet ontwikkel. As ons redelik is, sal dit vir ons makliker wees om aan te pas by veranderinge in ons omstandighede, soos ’n verandering in ons gesondheid of in ons finansiële situasie. Ons sal ook bydra tot die vrede en eenheid van die gemeente.

b Sien die artikel “Hoe om verandering te hanteer” in die Ontwaak!, nr. 4 2016.

c Kyk na die video Onderhoud met Broer Dmitri Michailof wat verband hou met die artikel “Jehovah verander vervolging in ’n getuienis” in Ons Christelike Lewe en Bediening – Vergaderingwerkboek vir Maart-April 2021.

d Vir meer inligting oor ons kleredrag en voorkoms sien les 52 in die Geniet die lewe vir ewig!-boek.