Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die huwelik​​—⁠Die oorsprong en doel daarvan

Die huwelik​​—⁠Die oorsprong en doel daarvan

“Jehovah God het . . . gesê: ‘Dit is nie goed dat die mens alleen bly nie. Ek gaan vir hom ’n helper maak.’”—GEN. 2:18.

LIEDERE: 36, 11

1, 2. (a) Hoe het die huwelik ontstaan? (b) Wat het die eerste man en vrou moontlik oor die huwelik besef? (Sien prent aan begin van artikel.)

DIE huwelik is deel van die lewe. ’n Hersiening van die oorsprong en doel van die huwelik kan ons help om die regte beskouing van hierdie verhouding te hê en om die seëninge wat dit kan bring, in voller mate te geniet. Nadat God die eerste man, Adam, geskep het, is die diere na hom toe gebring sodat hy hulle name kon gee. Maar “vir die mens is daar geen helper as ’n komplement van hom gevind nie”. God het derhalwe ’n diep slaap oor Adam laat kom, een van sy ribbebene geneem, dit tot ’n vrou gebou en haar na die man toe gebring. (Lees Genesis 2:20-24.) Die huwelik kom dus van God af.

2 Jesus het bevestig dat dit Jehovah was wat gesê het: “’n Man [sal] sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en die twee sal een vlees wees” (Matt. 19:4, 5). Die feit dat God ’n ribbebeen van Adam gebruik het om die eerste vrou te skep, het die eerste mensepaar moontlik laat besef hoe heg die band tussen hulle is. God het geen voorsiening gemaak vir egskeiding of dat ’n mens meer as een huweliksmaat op dieselfde tyd mag hê nie.

DIE HUWELIK EN GOD SE VOORNEME

3. Wat was ’n belangrike doel van die huwelik?

3 Adam was verheug oor sy pragtige vrou, wat hy later Eva genoem het. As “’n komplement” van hom, sou sy “vir hom ’n helper” wees. Hulle sou mekaar elke dag gelukkig maak as man en vrou (Gen. 2:18). ’n Belangrike doel van die huwelik was om die aarde te vul (Gen. 1:28). Al sou seuns en dogters lief wees vir hulle ouers, sou hulle hulle ouers verlaat om te trou en hulle eie gesinne te begin. Mense sou die aarde vul en die hele aarde ’n paradys maak.

4. Wat het met die eerste huwelik gebeur?

4 Rampspoed het die eerste huwelik getref omdat Adam en Eva hulle vrye wil misbruik het deur ongehoorsaam aan Jehovah te wees. “Die oorspronklike slang”, Satan die Duiwel, het Eva mislei en haar laat glo dat sy spesiale kennis sou verkry as sy van die vrugte van “die boom van die kennis van goed en kwaad” eet en dat dit haar in staat sou stel om te besluit wat goed en wat sleg is. Sy het nie respek vir haar man se hoofskap getoon deur eers met hom daaroor te praat nie. En pleks van God te gehoorsaam, het Adam die vrug geëet wat Eva hom gegee het.—Op. 12:9; Gen. 2:9, 16, 17; 3:1-6.

5. Wat kan ons leer uit Adam en Eva se antwoorde aan Jehovah?

5 Toe God Adam hieroor uitgevra het, het hy sy vrou blameer deur te sê: “Die vrou wat u gegee het om by my te wees, sy het vir my vrugte van die boom gegee, en daarom het ek geëet.” Eva het die slang blameer omdat hy haar mislei het (Gen. 3:12, 13). Dit was flou verskonings! Die eerste mensepaar was veroordeelde rebelle in Jehovah se oë omdat hulle ongehoorsaam aan hom was. Wat ’n waarskuwing vir ons! Om sukses in die huwelik te behaal, moet elke maat verantwoordelikheid vir sy dade aanvaar en Jehovah gehoorsaam.

6. Hoe sal jy Genesis 3:15 verduidelik?

6 Ten spyte van wat Satan in Eden gedoen het, het Jehovah hoop vir die mensdom gebied in die eerste Bybelprofesie. (Lees Genesis 3:15.) Die oorspronklike opstandige geesskepsel sou deur die “saad” van “die vrou” vermorsel word. Jehovah het mense sodoende insig gegee in die spesiale verhouding wat tussen hom en die groot aantal regverdige geesskepsele bestaan wat hom in die hemel dien. Hulle is soos ’n vrou vir Jehovah. Die Skrif het later getoon dat hy iemand uit hierdie groep geesskepsele sou stuur wat die Duiwel sou “vermorsel” en wat dit vir die gehoorsame mensdom moontlik sou maak om die vooruitsig te geniet wat die eerste mensepaar verloor het—om vir ewig op die aarde te lewe soos Jehovah oorspronklik wou hê.—Joh. 3:16.

7. (a) Wat het sedert die opstand van Adam en Eva met die huwelik gebeur? (b) Wat vereis die Bybel van mans en vrouens?

7 Die opstand van Adam en Eva het ’n invloed gehad op hulle huwelik en alle huwelike daarna. Byvoorbeeld, Eva en haar vroulike nakomelinge sou baie pyn ervaar wanneer hulle geboorte gee. Vrouens sou ’n begeerte na hulle man hê, maar mans sou oor hulle vrou heers, en hulle selfs mishandel, soos ons vandag in baie huwelike sien (Gen. 3:16). Die Bybel vereis dat mans hulle hoofskap op ’n liefdevolle manier uitoefen. En vrouens moet hulle onderwerp aan die hoofskap van hulle man (Ef. 5:33). Wanneer godvresende huweliksmaats met mekaar saamwerk, kan baie probleme vermy word.

DIE HUWELIK—VAN ADAM SE TYD TOT DIE VLOED

8. Wat is die geskiedenis van die huwelik van Adam se tyd tot die Vloed?

8 Adam en Eva het seuns en dogters voortgebring voordat hulle weens sonde en onvolmaaktheid gesterf het (Gen. 5:4). Hulle eerste seun, Kain, het met ’n vroulike familielid getrou. Kain se nakomeling Lameg is die eerste man van wie die Bybel sê dat hy twee vrouens gehad het (Gen. 4:17, 19). Van Adam se tyd tot die Vloed van Noag se dag was daar net ’n paar mense wat aanbidders van Jehovah was. Abel, Henog en Noag en sy gesin was onder hulle. In Noag se dag het “die seuns van die ware God die dogters van die mense begin opmerk, dat hulle mooi is”, sê die Bybel. “En hulle het vir hulle vrouens geneem, naamlik almal wat hulle verkies het.” Hierdie onnatuurlike huwelike tussen gematerialiseerde engele en vroue het ’n gewelddadige basternageslag voortgebring wat as die Nefilim bekend staan. Gedurende daardie tyd was “die slegtheid van die mens oorvloedig op die aarde” en was “elke neiging van die gedagtes van sy hart die hele tyd net sleg”.—Gen. 6:1-5.

9. Wat het Jehovah in Noag se dag met die goddeloses gedoen, en watter les moet ons leer uit wat in daardie tyd gebeur het?

9 Jehovah het die Vloed van Noag se dag gebruik om die goddeloses te vernietig. Mense was in daardie tyd so besig met alledaagse dinge, insluitende om te trou, dat hulle nie geluister het na wat “Noag, ’n prediker van regverdigheid”, oor die komende vernietiging gesê het nie (2 Pet. 2:5). Jesus het toestande in Noag se dag vergelyk met wat ons in ons dag sou sien. (Lees Matteus 24:37-39.) Vandag weier die meeste mense om te luister na die goeie nuus van God se Koninkryk wat regoor die aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies voordat hierdie goddelose stelsel vernietig word. Laat ons die les ter harte neem dat selfs gesinsaangeleenthede, soos om te trou en kinders groot te maak, nie so belangrik vir ons moet word dat ons vergeet dat Jehovah se dag naby is nie.

DIE HUWELIK—VAN DIE VLOED TOT IN JESUS SE DAG

10. (a) Hoe het baie kulture seksuele onsedelikheid beskou? (b) Hoe het Abraham en Sara ’n goeie voorbeeld in hulle huwelik gestel?

10 Hoewel Noag en sy drie seuns elk net een vrou gehad het, het baie mans ná die Vloed meer as een vrou gehad. In baie kulture het seksuele onsedelikheid ’n lewenswyse geword en was dit selfs deel van godsdiensgebruike. Toe Abram (Abraham) en sy vrou, Sarai (Sara), aan Jehovah gehoorsaam was en na Kanaän getrek het, was hulle omring deur mense wat geen respek vir die huwelik getoon het nie. Jehovah het dus besluit dat Sodom en Gomorra vernietig moet word omdat die inwoners van hierdie stede growwe seksuele onsedelikheid beoefen en goedgekeur het. Abraham was ’n goeie gesinshoof, en Sara het ’n goeie voorbeeld gestel deur haar aan haar man se hoofskap te onderwerp. (Lees 1 Petrus 3:3-6.) Abraham het seker gemaak dat sy seun Isak met ’n aanbidder van Jehovah trou. Isak se seun Jakob, wie se seuns die voorvaders van die 12 stamme van Israel geword het, het soortgelyke besorgdheid oor ware aanbidding getoon.

11. Hoe het die Mosaïese Wet die Israeliete beskerm?

11 Jehovah het later ’n verbond met die nakomelinge van Jakob (Israel) gesluit. Hy het vir hulle die Mosaïese Wet gegee. Dit het onder andere wette bevat oor basiese huweliksgebruike, insluitende veelwywery. Dit het gehelp om die Israeliete geestelik te beskerm deur huwelike met valse aanbidders te verbied. (Lees Deuteronomium 7:3, 4.) Wanneer ernstige huweliksprobleme ontstaan het, het die ouer manne dikwels hulp voorsien. Daar was wette oor ontrouheid, jaloesie en agterdog. Egskeiding is toegelaat, maar daar was wette wat dit beheer het. ’n Man kon van sy vrou skei weens “iets onwelvoegliks” (Deut. 24:1). Die Bybel verduidelik nie wat “iets onwelvoegliks” is nie, maar dit is redelik om te aanvaar dat dit nie na klein geskille verwys het nie.—Lev. 19:18.

MOENIE VERRADERLIK TEENOOR JOU HUWELIKSMAAT OPTREE NIE

12, 13. (a) Hoe het sommige mans in Maleagi se dag teenoor hulle vrou opgetree? (b) Wat sal vandag die gevolge wees as ’n gedoopte persoon met iemand anders se huweliksmaat egbreuk pleeg?

12 In die profeet Maleagi se dag het baie Joodse mans verraderlik, of bedrieglik, teenoor hulle vrouens opgetree deur allerhande verskonings te gebruik om van hulle te skei. Sulke mans het sodoende ontslae geraak van die vrou van hulle jeug, moontlik om met jonger of selfs met heidense vroue te trou. Toe Jesus op die aarde was, het Joodse mans nog steeds verraderlik teenoor hulle vrouens opgetree deur “op sommer enige grond” van hulle te skei (Matt. 19:3). Jehovah God het sulke egskeidings gehaat.—Lees Maleagi 2:13-16.

13 Huweliksverraad kan nie vandag onder Jehovah se volk geduld word nie. Maar gestel ’n gedoopte getroude man of vrou pleeg egbreuk met ’n ander persoon se huweliksmaat en skei van sy of haar maat om met daardie persoon te trou. As die oortreder onberouvol is, sal hy of sy uitgesit word om die gemeente geestelik rein te hou (1 Kor. 5:11-13). Die oortreder moet “vrugte [voortbring] wat by berou pas” voordat hy of sy in die gemeente teruggeneem sal word (Luk. 3:8; 2 Kor. 2:5-10). Alhoewel daar nie ’n vasgestelde tyd verby moet gaan voordat daardie persoon herstel word nie, kan sulke verraad, wat selde onder God se volk plaasvind, nie geïgnoreer word nie. Trouens, ’n jaar of meer sal dalk nodig wees vir die sondaar om te bewys dat hy waarlik berouvol is. Selfs as die persoon herstel word, moet hy of sy nog steeds “voor die regterstoel van God” rekenskap gee.—Rom. 14:10-12; sien Die Wagtoring van 1 Februarie 1980, bl. 31-32 (The Watchtower, 15 November 1979, bl. 31-32).

DIE HUWELIK—ONDER CHRISTENE

14. Wat was die doel van die Wet?

14 Die Israeliete was meer as 1 500 jaar lank onder die Mosaïese Wet. Dit het God se volk gehelp om regverdige beginsels in gesinsake en ander aangeleenthede in gedagte te hou en het hulle na die Messias gelei (Gal. 3:23, 24). Toe die Wet met Jesus se dood tot ’n einde gekom het, het God ’n nuwe reëling ingestel (Heb. 8:6). Onder hierdie nuwe reëling is sommige dinge wat onder die Wet toelaatbaar was, nie meer toegelaat nie.

15. (a) Wat is die standaard vir die huwelik in die Christengemeente? (b) Wat moet ’n Christen in ag neem wanneer hy of sy ’n egskeiding oorweeg?

15 In antwoord op ’n vraag van sommige Fariseërs het Jesus gesê dat die toegewing wat Moses gemaak het om van ’n huweliksmaat te skei, “nie van die begin af so [was] nie” (Matt. 19:6-8). Jesus het sodoende getoon dat die goddelike standaard vir die huwelik wat in Eden gestel is, die standaard in die Christengemeente moet wees (1 Tim. 3:2, 12). As “een vlees” moet huweliksmaats bymekaar bly, en hulle liefde vir God en vir mekaar sal hulle band versterk. Huweliksmaats wat ’n wetlike egskeiding verkry wanneer daar nie seksuele onsedelikheid betrokke is nie, is nie vry om weer te trou nie (Matt. 19:9). ’n Persoon kan natuurlik besluit om ’n maat wat egbreuk gepleeg het, maar berouvol is, te vergewe net soos die profeet Hosea blykbaar sy onsedelike vrou, Gomer, vergewe het. Jehovah het ook barmhartigheid aan berouvolle Israel betoon nadat hulle geestelike egbreuk gepleeg het (Hos. 3:1-5). As ’n persoon weet dat sy of haar maat egbreuk gepleeg het en besluit om weer geslagsomgang met die skuldige maat te hê, sal dit toon dat die persoon die skuldige maat vergewe het. Dan is daar nie meer ’n skriftuurlike grondslag vir egskeiding nie.

16. Wat het Jesus oor die ongetroude lewe gesê?

16 Nadat Jesus gesê het dat daar onder ware Christene geen grondslag vir egskeiding is buiten seksuele onsedelikheid nie, het hy gepraat van “dié wat die gawe het” om ongetroud te bly. Hy het bygevoeg: “Wie daarvoor plek kan maak, laat hom daarvoor plek maak” (Matt. 19:10-12). Baie het gekies om ongetroud te bly sodat hulle Jehovah sonder afleidings kan dien. Hulle moet hiervoor geprys word.

17. Wat kan ’n Christen help besluit of hy moet trou?

17 Wat kan ’n persoon help om te besluit of hy ongetroud moet bly of moet trou? Hy moet vasstel of hy die gawe kan aankweek om ongetroud te bly. Die apostel Paulus het aanbeveel dat persone ongetroud bly; maar hy het gesê: “Laat elke man weens die algemeenheid van hoerery [seksuele onsedelikheid] sy eie vrou hê en elke vrou haar eie man.” Paulus het bygevoeg: “As hulle nie selfbeheersing het nie, laat hulle trou, want dit is beter om te trou as om van hartstog te brand.” As ’n persoon trou, kan dit keer dat hartstog veroorsaak dat hy masturbasie beoefen of hom aan seksuele onsedelikheid skuldig maak. Ouderdom speel ook ’n rol, want die apostel het gesê: “As iemand dink dat hy hom onbehoorlik gedra ten opsigte van sy maagdelikheid, as dit verby die bloei van die jeug is, en dit is hoe dit moet geskied, laat hom doen wat hy wil; hy sondig nie. Laat hulle trou” (1 Kor. 7:2, 9, 36; 1 Tim. 4:1-3). ’n Persoon moet egter nie aangespoor word om te trou net omdat hy die sterk seksuele drange het wat baie jongmense ervaar nie. Hy sal dalk nie volwasse genoeg wees vir die verantwoordelikhede van die getroude lewe nie.

18, 19. (a) Hoe moet ’n Christenhuwelik begin? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

18 ’n Christenhuwelik moet begin met ’n man en vrou wat aan Jehovah toegewy is en hom heelhartig liefhet. Hulle moet ook so lief wees vir mekaar dat hulle in die huwelik verenig wil wees. Hulle sal natuurlik geseën word omdat hulle die raad gevolg het om “net in die Here” te trou (1 Kor. 7:39). En hulle huwelik sal suksesvol wees as hulle aanhou om die Bybel se raad toe te pas.

19 Die volgende artikel sal skriftuurlike gedagtes bespreek wat getroude Christene kan help om uitdagings die hoof te bied in hierdie “laaste dae” waartydens baie mense eienskappe openbaar wat sukses in die huwelik teëwerk (2 Tim. 3:1-5). Jehovah se kosbare Woord bevat alles wat ons nodig het om ’n suksesvolle en gelukkige huwelik te hê terwyl ons aanhou om saam met sy volk te wandel op die pad na die ewige lewe.—Matt. 7:13, 14.