Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | VISIOENE WAT ONS ’N KYKIE IN DIE HEMEL GEE

Vrae oor diegene in die geesteryk

Vrae oor diegene in die geesteryk

Het jy al ooit gewonder oor die geesteryk en wie daar woon? Indien wel, is jy nie alleen nie. Mense het al duisende jare lank verskillende menings oor hierdie onderwerp. Party glo dat die geesteryk bewoon word deur voorouers wat vereer moet word. Ander meen dat dit ’n gelukkige en vreedsame plek is wat die hemel genoem word en waar engele en goeie mense wat gesterf het, woon. Ander dink weer dat die geesteryk die tuiste van honderdmiljoene gode is.

Baie mense sê dat dit nie moontlik is om enigiets omtrent die geesteryk te weet nie omdat niemand al vanuit die hemel gekom het om ons daarvan te vertel nie. Maar hierdie redenasie is verkeerd. Jesus Christus het in die hemel, in die geesteryk, gelewe voordat hy aarde toe gekom het. Hy het openlik vir die godsdiensleiers in die eerste eeu gesê: “Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van hom wat my gestuur het.” Jesus het dus geweet waarvan hy praat toe hy vir sy apostels gesê het: “In die huis van my Vader is daar baie wonings.”—Johannes 6:38; 14:2.

Jesus se Vader is natuurlik God, wie se naam Jehovah is, en Jehovah se “huis” is in die hemele (Psalm 83:18). Niemand kan die onsigbare hemele dus beter beskryf as Jehovah God en Jesus Christus nie. Hulle het baie inligting oor die geesteryk voorsien deur middel van visioene wat hulle aan getroue mense gegee het.

Die volgende artikel bespreek ’n paar van hierdie visioene wat in die Bybel opgeteken is. Terwyl jy hierdie visioene ondersoek, moet jy onthou dat die geesteryk nie stoflik is nie; dit bevat nie dinge waaraan ons kan raak of wat ons kan sien nie. God het hierdie dinge dus nie op ’n geestelike manier aan ons verduidelik nie, want ons sou dit nie kon verstaan nie. Hy het eerder visioene gebruik om geestelike dinge aan ons te verduidelik op ’n manier wat ons wel kan verstaan. Die visioene sal jou help om te verstaan wie in die “baie wonings” van die geesteryk woon.