Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 LEWENSVERHAAL

Ek hou vas aan Bybelwaarheid​—⁠sonder arms

Ek hou vas aan Bybelwaarheid​—⁠sonder arms

Wanneer mense onseker voel, wil hulle aan iets vashou. Ek kan dit nie doen nie, want ek het nie hande of arms nie. Toe ek sewe jaar oud was, moes my arms afgesit word om my lewe te red.

Toe ek in 1960 gebore is, was my ma 17 jaar oud. My pa het ons voor my geboorte verlaat. Ek en my ma het by my oupa en ouma gewoon in Burg, ’n dorpie in die voormalige Duitse Demokratiese Republiek, of Oos-Duitsland. Soos baie mense was ons gesin ateïste. God het vir ons niks beteken nie.

Terwyl ek grootgeword het, het my oupa my baie aandag gegee. Ons het baie dinge saam gedoen. Hy het my soms in bome laat klim om takke af te saag. Dit was vir my as kind ’n avontuur. My lewe was sorgvry en gelukkig.

’N ONGELUK VERANDER MY LEWE

Toe ek sewe was, het iets vreesliks gebeur. Ek het pas met my tweede skooljaar begin. Op pad huis toe, het ek by ’n kragmas opgeklim. Toe ek agt meter bo die grond was, het die springende elektrisiteit van die kragdrade my bewusteloos geskok. Toe ek in die hospitaal wakker word, kon ek nie my arms voel nie. My arms was verbrand, en die beserings was so erg dat albei my arms afgesit moes word om bloedvergiftiging te voorkom. Soos jy jou kan voorstel, was my ma sowel as my oupa en ouma verpletter. Maar omdat ek ’n kind was, het ek nie ten volle besef hoe die verlies van my arms my lewe uiteindelik sou raak nie.

Nadat ek uit die hospitaal ontslaan is, is ek terug skool toe. Omdat ek my nie kon verdedig nie, het die kinders my gespot, my rondgestamp en my met goed gegooi. Hulle wrede en neerhalende aanmerkings het my baie seergemaak. Uiteindelik is ek na die Birkenwerder-skool vir Gestremdes gestuur. Dit was soos ’n kosskool vir fisies gestremde kinders. Omdat die skool ver van my huis af was, kon my ma en my oupa en ouma nie bekostig om my te besoek nie. Ek het hulle net vakansietye gesien. Die volgende tien jaar het ek sonder my ma en my oupa en ouma grootgeword.

EK WORD SONDER HANDE EN ARMS GROOT

Ek het geleer om baie dinge met my voete te doen. Kan jy jou voorstel hoe dit is om met ’n vurk of ’n lepel te eet wat jy met jou tone vashou? Maar ek het geleer om dit te doen. Ek het ook geleer om my voete te gebruik om my hare te kam en my tande te borsel. Ek het selfs met my voete gebare  begin maak wanneer ek met mense gesels het. Ja, my voete het my hande geword.

In my tienerjare het ek daarvan gehou om wetenskapsfiksie te lees. Soms het ek my voorgestel dat ek bioniese arms het wat dit vir my moontlik maak om enigiets te doen. Toe ek 14 was, het ek begin rook. Dit het my selfvertroue gegee en my laat voel dat ek soos ander mense is. Dit was asof ek gesê het: ‘Ja, ek kan dit ook doen. Rokers is volwasse—met of sonder arms.’

Ek het besig gebly en by sosiale aktiwiteite betrokke geraak. Ek het ’n lid van die Vrye Duitse Jeug geword, ’n sosialistiese jeugorganisasie wat deur die Staat geborg is. Ek het as die organisasie se sekretaris gedien. Dit was ’n verantwoordelike posisie onder die plaaslike lede. Ek het ook by ’n sangklub aangesluit, sessies oor digkuns bygewoon en aan sport vir gestremdes deelgeneem. Ná ’n vakleerlingskap het ek by ’n maatskappy in ons dorp begin werk. Namate ek ouer geword het, het ek my kunsarms al hoe meer gedra omdat ek normaal wou lyk.

EK NEEM BYBELWAARHEID AAN

Toe ek eendag op pad werk toe vir die trein gewag het, het ’n man na my toe gekom. Hy het my gevra of ek dink dat God my weer my twee arms kon gee. Ek was verward. Ek wou my arms terughê, maar dit het vir my onmoontlik geklink! As ’n ateïs was ek daarvan oortuig dat God nie bestaan nie. Van toe af het ek die man probeer vermy.

’n Ruk later het ’n werksmaat my genooi om vir haar gesin te kom kuier. Terwyl ons koffie gedrink het, het haar ouers begin praat oor God—Jehovah God. Dit was die eerste keer dat ek gehoor het dat God ’n naam het (Psalm 83:18). Maar ek het by myself gedink: ‘Daar kan nie ’n God wees nie, al is daar ook ’n naam vir hom. Ek sal hierdie mense verkeerd bewys.’ Ek was so seker van my saak dat ek ingestem het om die Bybel te bespreek. Maar tot my verbasing kon ek nie bewys dat God nie bestaan nie.

My ateïstiese denke het geleidelik begin verander toe ek Bybelprofesieë ondersoek het. Baie profesieë is al bewaarheid, al is hierdie voorspellings honderde of selfs duisende jare vooruit gemaak. Tydens een Bybelbespreking het ons huidige wêreldtoestande vergelyk met profesieë in Matteus hoofstuk 24, Lukas hoofstuk 21 en 2 Timoteus hoofstuk 3. Net soos ’n kombinasie van simptome ’n dokter kan help om vas te stel watter siekte ’n pasiënt het, het die kombinasie van gebeure wat in hierdie profesieë gemeld word, my gehelp om te besef dat ons in die tydperk lewe wat die Bybel “die laaste dae” noem. * Ek was stomgeslaan. Ek kon self sien hoe hierdie profesieë vervul word.

Ek was oortuig dat die dinge wat ek geleer het, die waarheid is. Ek het tot Jehovah God begin bid en rook opgegee—al was ek meer as tien jaar lank  ’n strawwe roker. Ek het omtrent ’n jaar lank ’n Bybelstudie gehad. Op 27 April 1986 is ek in die geheim in ’n bad gedoop, aangesien die werk van die Getuies destyds in Oos-Duitsland verbied was.

EK GEE AAN ANDER

As gevolg van die verbod het ons in klein groepies in privaat huise bymekaargekom en het ek net ’n paar medegelowiges geken. Die regering het my onverwags toegelaat om na Wes-Duitsland te reis, waar die werk van die Getuies nie verbied was nie. Vir die eerste keer in my lewe kon ek ’n Bybelbyeenkoms bywoon en duisende van my broers en susters sien. Dit was ’n unieke ervaring.

Nadat die Berlynse muur geval het, is die verbod op Jehovah se Getuies opgehef. Uiteindelik kon ons Jehovah God in vryheid aanbid. Ek wou graag meer doen in die predikingswerk. Maar dit was vir my baie moeilik om met vreemdelinge te praat. Ek het minderwaardig gevoel omdat ek gestremd was en die meeste van my kinderjare in ’n tehuis vir gestremdes deurgebring het. Maar in 1992 het ek een maand 60 uur in die predikingswerk probeer doen. Dit het goed gegaan en het my baie vreugde gegee. Daarom het ek besluit om dit elke maand te doen. Ek het omtrent drie jaar lank daarmee volgehou.

Ek dink altyd aan die woorde in die Bybel: “Wie is swak en ek is nie swak nie?” (2 Korintiërs 11:29). Al is ek gestremd, het ek nog steeds ’n brein en ’n stem. Daarom doen ek my bes om ander te help. Omdat ek nie arms het nie, het ek groot empatie met mense wat beperkings het. Ek weet hoe dit voel as jy iets baie graag wil doen, maar dit net nie kan doen nie. Ek probeer mense aanmoedig wat soortgelyke gevoelens het. Dit maak my baie gelukkig om op hierdie manier aan ander te gee.

Dit maak my gelukkig om ander van die goeie nuus te vertel

JEHOVAH HELP MY ELKE DAG

Ek moet erken dat ek soms mismoedig voel. Ek wil so graag ’n gesonde liggaam hê. Ek kan baie dinge self doen, maar dit verg baie tyd, moeite en energie weens my gestremdheid. My leuse vir elke dag is: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee” (Filippense 4:13). Jehovah gee my elke dag die krag wat ek nodig het om “normale” dinge te doen. Ek het geleer dat Jehovah nooit sal ophou om my te help nie. Daarom wil ek nooit ophou om hom te dien nie.

Jehovah het my geseën met ’n gesin. Dit is wat ek die meeste gedurende my kinderjare en as ’n jongmens gemis het. Ek het ’n wonderlike vrou, Elke, wat liefdevol en medelydend is. Boonop het miljoene Getuies van Jehovah my geestelike broers en susters geword—ek het ’n wêreldwye familie.

Saam met my dierbare vrou, Elke

God se belofte van ’n paradys is vir my baie vertroostend, want dan sal hy “alles nuut” maak, insluitende my arms (Openbaring 21:5). Ek verstaan hierdie belofte beter wanneer ek nadink oor wat Jesus gedoen het terwyl hy op die aarde was. Hy het gebreklike ledemate oombliklik herstel en het selfs ’n man se oor genees nadat dit afgekap is (Matteus 12:13; Lukas 22:50, 51). Jehovah se beloftes en Jesus se wonderwerke het my oortuig dat ek binnekort weer ’n gesonde liggaam sal hê.

Maar die grootse seën is dat ek Jehovah God leer ken het. Hy het my vader en my vriend geword, my vertrooster en my sterkte. Ek voel soos koning Dawid, wat geskryf het: “Jehovah is my sterkte . . . Ek is gehelp, sodat my hart jubel” (Psalm 28:7). Al het ek nie hande en arms nie, wil ek vir die res van my lewe aan hierdie wonderlike waarheid vashou.

^ par. 17 ’n Breedvoerige bespreking van die teken van die laaste dae kan gevind word in hoofstuk 9, “Lewe ons in ‘die laaste dae’?” van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies. Dit is ook aanlyn beskikbaar by www.jw.org/af.