Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ooievaar

Lesse wat ons leer by die voëls van die hemel

Lesse wat ons leer by die voëls van die hemel

“Vra asseblief . . . die voëls van die hemel, en hulle sal jou vertel. Wie onder hulle almal weet nie goed dat die hand van Jehovah dit gedoen het nie?”—Job 12:7, 9.

MEER as 3 000 jaar gelede het die getroue man Job besef dat die voëls van die hemel ons baie omtrent God se skeppingswerke kan vertel. Weens hulle kenmerkende gedrag word hulle ook dikwels in beeldspraak en illustrasies gebruik. Die Bybel verwys dikwels na die voëls van die hemel. Baie van hierdie verwysings leer ons belangrike lesse oor die lewe en ons verhouding met God. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

WAAR SWAELTJIES NESMAAK

Swaeltjie

Die inwoners van Jerusalem was bekend met swaeltjies, wat gewoonlik hulle nes onder die oorhang van ’n dak bou. Sommige het hulle nessies in Salomo se tempel gebou. Swaeltjies wat elke jaar in die tempelgebied nesgemaak het, het heel moontlik gevind dat dit ’n veilige plek is om hulle kleintjies groot te maak.

Die skrywer van Psalm 84 was een van die kinders van Korag. Hy het elke ses maande ’n week lank by die tempel gedien en het hierdie nessies in die tempelgebied opgemerk. Hy wou graag soos die swaeltjie wees wat ’n permanente tuiste in Jehovah se huis gehad het. Hy het uitgeroep: “Hoe lieflik is u grootse tabernakel, o Jehovah van die leërs! My siel het vurig verlang en ook gesmag na die voorhowe van Jehovah . . . Selfs die voël het ’n huis gevind en die swaeltjie ’n nes vir haar, waar sy haar kleintjies neergelê het [naby] u grootse altaar, o Jehovah van die leërs, my Koning en my God!” (Psalm 84:1-3). Toon ons en ons kinders ook dat ons gereeld saam met God se volk wil vergader en dat ons waardering vir hierdie voorreg het?—Psalm 26:8, 12.

DIE OOIEVAAR KEN SY TYE GOED

“Die ooievaar in die hemel . . . ken sy vasgestelde tye goed”, het die profeet Jeremia geskryf. Hy het geweet dat ooievaars oor die Beloofde Land vlieg wanneer hulle migreer. Daar is al getel dat meer as 300 000 witooievaars in die lente oor die Jordaanvallei vlieg wanneer hulle van Afrika na Noord-Europa migreer. Hulle biologiese klok laat hulle besef dat dit tyd is om terug te keer na die plek waar hulle in die somer broei. Soos ander trekvoëls kom hulle op ’n vaste tyd terug.—Jeremia 8:7.

“Die wonder van migrasie is dat voëls dit instinktief doen”, sê Collins Atlas of Bird Migration. Jehovah God het trekvoëls instinktiewe wysheid oor die seisoene gegee sodat hulle weet wanneer dit tyd is om te migreer. Maar hy het die mens die vermoë gegee om tye en seisoene te onderskei (Lukas 12:54-56). Die mens het kennis van God nodig om die betekenis te onderskei van gebeure in ons tyd. Die Israeliete van Jeremia se dag het  nie sulke tekens raakgesien nie. God het verduidelik wat die probleem eintlik was: “Hulle het die woord van Jehovah verwerp, en watter wysheid het hulle?”—Jeremia 8:9.

Vandag het ons genoeg bewyse dat ons in die tyd lewe wat in die Bybel “die laaste dae” genoem word (2 Timoteus 3:1-5). Sal jy die ooievaar navolg en let op die ‘vasgestelde tyd’?

DIE AREND KYK IN DIE VERTE

Arend

Die arend word dikwels in die Bybel genoem en is ’n bekende voël in die Beloofde Land. Die arend kan vanaf sy nes hoog op ’n krans “na voedsel soek; sy oë bly in die verte kyk” (Job 39:27-29). Die arend se sig is so goed dat hy ’n haas blykbaar ’n kilometer ver kan sien.

Net soos die arend “in die verte [kan] kyk”, kan Jehovah ver in die toekoms sien. Daarom het Jehovah God gesê dat hy “van die begin af die uiteinde verkondig, en van ouds af die dinge wat nog nie gedoen is nie” (Jesaja 46:10). As ons na Jehovah se raad luister, kan ons baat vind by sy oneindige wysheid en sy versiendheid.—Jesaja 48:17, 18.

Die Bybel vergelyk mense wat op God vertrou ook met arende: “Dié wat op Jehovah hoop, sal nuwe krag kry. Hulle sal opvaar met vlerke soos arende” (Jesaja 40:31). ’n Arend maak gebruik van warm lugstrome om hoog in die lug op te styg. Wanneer die arend ’n warm lugstroom opspoor, sprei hy sy vlerke en sirkel hy in die lugstroom, wat hom al hoe hoër neem. Die arend maak nie staat op sy eie krag om al hoe hoër te styg en oor lang afstande te sweef nie. Net so kan diegene wat op Jehovah vertrou, op hom staatmaak om hulle “die krag wat bo die normale is”, te gee.—2 Korintiërs 4:7, 8

‘SOOS ’N HEN HAAR KUIKENS BYMEKAARMAAK’

Hen en kuikens

Kort voor sy dood het Jesus die volgende oor die Joodse hoofstad gesê: “Jerusalem, Jerusalem, wat die profete doodmaak en dié stenig wat na haar gestuur is—hoe dikwels wou ek jou kinders bymekaarmaak, soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak! Maar julle wou nie.”—Matteus 23:37.

Voëls het ’n baie sterk instink om hulle kleintjies te beskerm. Voëls wat op die grond nesmaak, soos hoenders, moet hulle oë oophou vir gevaar. As die hen ’n valk in die lug sien sirkel, maak sy alarm, en dan hardloop die kuikens gou na haar toe om onder haar vlerke te skuil. Daar kan die kuikens ook skuiling vind teen die warm son en swaar reën. Net so wou Jesus vir die inwoners van Jerusalem geestelike skuiling en beskerming bied. Jesus nooi ons vandag om na hom toe te kom vir verkwikking en beskerming teen die laste en sorge van die daaglikse lewe.—Matteus 11:28, 29.

Ons kan beslis baie leer by voëls. Wanneer jy hulle dophou, moet jy probeer dink aan wat die Bybel oor hulle sê. Mag die swaeltjie jou help om Jehovah se huis van aanbidding te waardeer. Mag jy op God staatmaak om jou krag te gee sodat jy soos ’n arend kan sweef. Mag jy beskerming vind by die geestelike waarheid wat Jesus voorsien, soos kuikens beskerming vind onder die vlerke van ’n hen. En mag die ooievaar jou daaraan herinner om die betekenis te onderskei van wêreldgebeure in ons tyd.