Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Lefèvre d’Étaples​​—⁠Hy wou hê dat die gewone mense God se Woord leer ken

Lefèvre d’Étaples​​—⁠Hy wou hê dat die gewone mense God se Woord leer ken

EEN Sondagoggend in die vroeë 1520’s kon die inwoners van Meaux, ’n dorpie naby Parys, nie glo wat hulle in die kerk gehoor het nie. Hulle het gehoor hoe die Evangelies in hulle moedertaal voorgelees word—in Frans pleks van Latyn!

Die Bybelvertaler wat hiervoor verantwoordelik was, was Jacques Lefèvre d’Étaples (Latyn: Jacobus Faber Stapulensis). Hy het later aan ’n goeie vriend geskryf: “Jy kan jou skaars voorstel met watter ywer God [eenvoudige mense] op sommige plekke besiel om sy Woord aan te neem.”

Destyds was die Katolieke Kerk en die teoloë in Parys gekant teen die gebruik van Bybelvertalings in die tale van die gewone mense. Wat het Lefèvre beweeg om die Bybel in Frans te vertaal? En hoe het hy daarin geslaag om die gewone mense te help om God se Woord te verstaan?

HY PROBEER ’N JUISTE BEGRIP VAN DIE SKRIF VERKRY

Voordat Lefèvre ’n Bybelvertaler geword het, het hy hom daarop toegelê om die oorspronklike betekenis van klassieke filosofiese en teologiese werke bekend te maak. Hy het opgelet dat ou geskrifte ná baie eeue nie meer akkuraat was nie as gevolg van misleidende vertolkings en foute. Omdat hy ’n juiste begrip van eertydse geskrifte wou verkry, het hy ’n noukeurige studie begin maak van die gesaghebbende Bybel van die Katolieke Kerk, die Latynse Vulgaat.

Sy opregte studie van die Skrif het hom tot die slotsom laat kom dat die studie wat die grootste geluk meebring, ’n studie van goddelike waarheid is. Daarom het Lefèvre opgehou om filosofie te bestudeer en het hy al sy energie aan Bybelvertaling gewy.

In 1509 het Lefèvre ’n vergelykende studie van vyf Latynse weergawes van die Psalms * gepubliseer, insluitende sy eie verbetering van die Vulgaat. In teenstelling met die teoloë van sy tyd het hy probeer om Bybelgedeeltes op ’n “natuurlike” manier weer te gee. Die metode wat hy gebruik het om die Skrif te vertolk, het ’n groot invloed op ander Bybelgeleerdes en hervormers gehad.—Sien die venster “ Lefèvre se invloed op Martin Luther”.

Tabel van titels vir God in die Psalms, soos dit verskyn in die Fivefold Psalter, uitgawe van 1513

As ’n gebore Katoliek was Lefèvre oortuig dat die kerk slegs hervorm kon word as die gewone mense die Skrif behoorlik geleer word. Maar hoe kon die gewone mense by die Skrif baat vind, aangesien dit oor die algemeen net in Latyn beskikbaar was?

’N BYBELVERTALING VIR ALMAL

Die inleiding tot die Evangelies het bevestig dat Lefèvre die Bybel vir almal in hulle moedertaal beskikbaar wou maak

Lefèvre was baie lief vir God se Woord, en daarom wou hy hê dat die meeste mense toegang tot ’n Bybel moet hê. Om hierdie doelwit te bereik, het hy in Junie 1523 ’n Franse vertaling van die Evangelies in twee dele gepubliseer. Omdat dit in sakformaat was, was dit die helfte goedkoper  as wat ’n vertaling in standaardformaat sou wees. Gevolglik kon selfs arm mense dit bekostig.

Die gewone mense het onmiddellik en met groot entoesiasme gereageer. Mans sowel as vroue was so gretig om Jesus se woorde in hulle moedertaal te lees dat die eerste 1 200 eksemplare wat gedruk is, ná net ’n paar maande uitverkoop is.

’N MOEDIGE STANDPUNT VIR DIE BYBEL

In die inleiding tot die Evangelies het Lefèvre verduidelik dat hy dit in Frans vertaal het sodat “die gewone lede” van die kerk “net so seker kan wees van die waarheid van die evangelies as diegene wat dit in Latyn het”. Maar waarom was Lefèvre so gretig om die gewone mense te help om te leer wat die Bybel sê?

Lefèvre was bewus van die feit dat die leerstellings van mense en filosofie ’n negatiewe uitwerking op die Katolieke Kerk gehad het (Markus 7:7; Kolossense 2:8). En hy was oortuig dat dit tyd was om die waarheid omtrent die Evangelies regoor die wêreld te verkondig sodat mense nie meer deur valse leerstellings mislei sou word nie.

Lefèvre het ook probeer om die gebrekkige argumente bloot te lê van diegene wat die vertaling van die Bybel in Frans teëgestaan het. Hy het hulle skynheiligheid veroordeel deur te sê: “Hoe kan hulle [die mense] leer om alles te onderhou wat Jesus Christus beveel het as hulle nie wil hê dat die gewone mense die Evangelie van God in hulle eie taal moet sien en lees nie?”—Romeine 10:14.

 Dit is nie verbasend dat teoloë by die Universiteit van Parys—die Sorbonne—Lefèvre kort voor lank probeer stilmaak het nie. Hulle het in Augustus 1523 beswaar gemaak teen Bybelvertalings in die volkstale en teen kommentare op die Bybel. Hulle het gesê dat dit “skadelik is vir die Kerk”. As Frans I, die koning van Frankryk, nie ingegryp het nie, sou die kerk Lefèvre as ’n ketter veroordeel het.

DIE “STIL” VERTALER VOLTOOI SY WERK

Lefèvre het nie toegelaat dat hewige debatte oor sy werk hom verhinder om die Bybel te vertaal nie. In 1524, nadat hy sy vertaling van die Griekse Geskrifte (die sogenoemde Nuwe Testament) voltooi het, het hy ’n Franse weergawe van die Psalms vrygestel sodat gelowiges “met groter toegewydheid en meer gevoel” kon bid.

Teoloë by die Sorbonne het geen tyd verspil nie en het Lefèvre se werke noukeurig begin ondersoek. Hulle het kort daarna opdrag gegee dat sy vertaling van die Griekse Geskrifte in die openbaar verbrand word. Hulle het ook ’n paar ander werke veroordeel en gesê dat dit “die kettery van Luther ondersteun”. Toe die teoloë Lefèvre ontbied het om sy beskouings te verdedig, het hy besluit om “stil” te bly en het hy na Straatsburg gevlug. Daar het hy in die geheim voortgegaan om die Bybel te vertaal. Party het gedink dat sy optrede lafhartig is, maar hy het geglo dat dit die beste manier is om te reageer teenoor mense wat geen waardering het vir die kosbare “pêrels” van Bybelwaarheid nie.—Matteus 7:6.

Byna ’n jaar nadat Lefèvre gevlug het, het koning Frans I hom aangestel as die leermeester van sy vierjarige seun, Karel. Dit het Lefèvre baie tyd gegee om sy vertaling van die Bybel te voltooi. In 1530 is sy vertaling van die volledige Bybel buite Frankryk, in Antwerpen, gedruk met die goedkeuring van keiser Karel V. *

HOOPVOL MAAR TELEURGESTEL

Lefèvre het sy lewe lank gehoop dat die kerk mensetradisies opsy sou skuif en sou terugkeer na die suiwer kennis van die Skrif. Hy het vas geglo “dat elke Christen die reg, ja, die plig, het om die Bybel self te lees en te studeer”. Dit is waarom hy so hard gewerk het om die Bybel vir almal toeganklik te maak. Al het die kerk nie die veranderinge aangebring waarop hy gehoop het nie, het Lefèvre wel baie bereik—hy het dit vir die gewone mense moontlik gemaak om God se Woord te leer ken.

^ par. 8 Die Fivefold Psalter het vyf weergawes van die Psalms in aparte kolomme gegee en het ’n tabel ingesluit met titels wat op God van toepassing is. Dit het ook die Tetragrammaton bevat, die vier Hebreeuse letters wat God se naam voorstel.

^ par. 21 Vyf jaar later, in 1535, het die Franse vertaler Olivétan sy vertaling van die Bybel vrygestel, wat op die oorspronklike tale gegrond was. Toe hy die Griekse Geskrifte vertaal het, het hy goed gebruik gemaak van Lefèvre se werke.