Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Eienskap wat ons verstand kan vergiftig—Afguns

’n Eienskap wat ons verstand kan vergiftig—Afguns

’n Eienskap wat ons verstand kan vergiftig—Afguns

Napoleon Bonaparte het dit gehad. Julius Caesar het dit gehad. Aleksander die Grote het dit gehad. Ondanks al hulle mag en roem het hierdie manne ’n eienskap in hulle hart gekoester wat ’n mens se verstand kan vergiftig. Al drie was afgunstig op iemand anders.

“Napoleon was afgunstig op Caesar, Caesar was afgunstig op Aleksander [die Grote], en Aleksander was waarskynlik afgunstig op Herkules, wat nooit bestaan het nie”, het die Engelse filosoof Bertrand Russell geskryf. Afguns kan enigiemand teister ongeag hoe ryk hy is, watter deugde hy het en hoe suksesvol hy in die lewe is.

Afguns is ’n gevoel van gegriefdheid teenoor ander as gevolg van hulle besittings, voorspoed, voorregte en so meer. ’n Bybelnaslaanwerk onderskei tussen afguns en jaloesie en sê: “‘Jaloesie’ . . . verwys na die begeerte om net so goed daaraan toe te wees as iemand anders, en die woord ‘afguns’ verwys na die begeerte om iemand anders te ontneem wat hy het.” ’n Afgunstige mens misgun ander nie net wat hulle het nie, maar wil dit van hulle wegneem.

Dit sal verstandig van ons wees om uit te vind hoe afguns in ons kan ontstaan en wat die gevolge van afguns is. Ons moet veral weet wat ons kan doen om te voorkom dat afguns ons lewe oorheers.

’N GEES WAT DIE VUUR VAN AFGUNS KAN AANBLAAS

Onvolmaakte mense het wel “’n neiging tot afguns”, maar verskeie faktore kan hierdie neiging voed en versterk (Jak. 4:5). Die apostel Paulus het een hiervan geïdentifiseer en geskryf: “Laat ons nie egotisties word en wedywering met mekaar aanwakker en afgunstig op mekaar wees nie” (Gal. 5:26). Die gees van wedywering kan ons onvolmaakte neiging tot afguns vererger. Twee Christene, Cristina en José, * het uitgevind dat dit waar is.

Cristina, ’n gewone pionier, sê: “Ek vind dikwels dat ek met afguns na ander kyk. Ek vergelyk wat hulle het met wat ek nie het nie.” By een geleentheid het Cristina ’n ete saam met ’n egpaar geniet wat die voorreg het om in die reisende werk te dien. Sy het geweet dat sy en haar man, Eric, omtrent dieselfde ouderdom as die reisende opsiener en sy vrou is en dat hulle in die verlede soortgelyke toewysings gehad het en daarom het Cristina gesê: “My man is ook ’n ouer man! Hoekom is julle dan in die reisende werk, en ons is niks?” Die vuur van afguns, wat deur ’n gees van wedywering aangeblaas is, het haar verblind vir die goeie werk wat sy en haar man doen en het haar onvergenoeg laat voel met hulle lewe.

José wou graag as ’n bedieningskneg in die gemeente dien. Toe ander aangestel is, maar nie hy nie, het hy afgunstig op hulle geword en ’n wrok teen die koördineerder van die liggaam van ouer manne gekoester. “Afguns het veroorsaak dat ek haat teen hierdie broer in my hart rondgedra het en dat ek sy bedoelings verkeerd vertolk het”, erken José. “Wanneer afguns jou lewe oorheers, word jy egosentries en kan jy nie helder dink nie.”

WAT SKRIFTUURLIKE VOORBEELDE ONS LEER

Die Bybel bevat baie waarskuwende voorbeelde (1 Kor. 10:11). Party hiervan toon nie net hoe afguns ontstaan nie, maar ook hoe dit diegene vergiftig wat toelaat dat dit hulle oorweldig.

Byvoorbeeld, Adam en Eva se eersgebore seun, Kain, was kwaad toe Jehovah Abel se offerande aanvaar het, maar nie syne nie. Kain kon hierdie situasie reggestel het, maar hy is so verblind deur afguns dat hy sy broer doodgemaak het (Gen. 4:4-8). Geen wonder die Bybel sê dat Kain “sy oorsprong by die bose [Satan] gehad het” nie!—1 Joh. 3:12.

Josef se tien broers was afgunstig oor die spesiale verhouding wat Josef met hulle vader gehad het. Hulle haat vir Josef het toegeneem toe hy hulle van sy profetiese drome vertel. Hulle wou hom selfs doodmaak. Uiteindelik het hulle hom as ’n slaaf verkoop en hulle vader harteloos wysgemaak dat Josef dood is (Gen. 37:4-11, 23-28, 31-33). Jare later het hulle hulle sonde erken en vir mekaar gesê: “Ons is ongetwyfeld skuldig met betrekking tot ons broer, want ons het die benoudheid van sy siel gesien toe hy ons om medelye gesmeek het, maar ons het nie geluister nie.”—Gen. 42:21; 50:15-19.

Korag, Datan en Abiram het afgunstig geword toe hulle hulle voorregte met dié van Moses en Aäron vergelyk het. Hulle het Moses daarvan beskuldig dat hy die ‘vors oor hulle speel’ en dat hy hom bo ander verhef (Num. 16:13). Hierdie beskuldiging was ’n leuen (Num. 11:14, 15). Jehovah self het Moses aangestel. Maar hierdie opstandelinge was afgunstig op Moses weens sy posisie. Uiteindelik het afguns veroorsaak dat hulle deur Jehovah vernietig is.—Ps. 106:16, 17.

Koning Salomo het gesien waartoe afguns ’n persoon kan dryf. ’n Vrou wie se pasgebore baba doodgegaan het, het haar metgesel probeer wysmaak dat dit haar baba is wat doodgegaan het. Gedurende die verhoor wat gevolg het, het die leuenaar selfs ingestem dat die oorlewende baba doodgemaak word. Maar Salomo het toegesien dat die kind aan die regte moeder gegee word.—1 Kon. 3:16-27.

Afguns kan verwoestende gevolge hê. Die voorgenoemde skriftuurlike voorbeelde toon dat dit tot haat, ongeregtigheid en moord kan lei. En nie een van hierdie slagoffers het enigiets gedoen om te verdien wat oor hulle gebring is nie. Is daar enigiets wat ons kan doen om te verseker dat afguns nie ons lewe oorheers nie? Watter maatreëls kan ons tref as teenmiddels teen afguns?

KRAGTIGE TEENMIDDELS!

Kweek liefde en broederlike geneentheid aan. Die apostel Petrus het Christene vermaan: “Noudat julle julle siel gesuiwer het deur julle gehoorsaamheid aan die waarheid met ongeveinsde broederlike geneentheid as resultaat, moet julle mekaar intens liefhê uit die hart” (1 Pet. 1:22). En wat is liefde? Die apostel Paulus het geskryf: “Die liefde is lankmoedig en goedhartig. Die liefde is nie jaloers nie, dit praat nie groot nie, raak nie opgeblase nie, gedra hom nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie” (1 Kor. 13:4, 5). Sal dit nie ’n negatiewe neiging tot afguns smoor as ons hierdie liefde vir ander in ons hart aankweek nie? (1 Pet. 2:1). Jonatan was nie afgunstig op Dawid nie, maar het hom eerder ‘liefgehad soos sy eie siel’.—1 Sam. 18:1.

Assosieer met godvresende mense. Die skrywer van Psalm 73 was afgunstig op die goddeloses wat ’n probleemvrye lewe van weelde geniet het. Maar hy het die oorhand oor sy afguns gekry deur na “die grootse heiligdom van God” te gaan (Ps. 73:3-5, 17). Assosiasie met medeaanbidders het die psalmis help besef watter seëninge dit vir hom meegebring het om “nader aan God te kom” (Ps. 73:28). Gereelde assosiasie met medegelowiges by Christelike vergaderinge kan dieselfde vir ons doen.

Streef daarna om goed te doen. Nadat God gesien het dat afguns en haat in Kain ontstaan het, het hy vir hom gesê dat hy hom ‘daartoe moet wend om goed te doen’ (Gen. 4:7). Wat beteken dit vir Christene om “goed te doen”? Jesus het gesê dat ons ‘Jehovah ons God moet liefhê met ons hele hart en met ons hele siel en met ons hele verstand en ons naaste moet liefhê soos onsself’ (Matt. 22:37-39). Die bevrediging wat ons daaruit put as ons ons lewe daarop toespits om Jehovah te dien en ander te help, is ’n sterk teenmiddel teen gevoelens van afguns. Om ’n betekenisvolle aandeel aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk te hê, is ’n goeie manier om God en ons naaste te dien, en dit bring vir ons “die seën van Jehovah” mee.—Spr. 10:22.

“Wees bly saam met mense wat bly is” (Rom. 12:15). Jesus was bly oor die sukses van sy dissipels, en hy het daarop gewys dat hulle selfs meer as hy in die predikingswerk sou verrig (Luk. 10:17, 21; Joh. 14:12). Ons is verenig as Jehovah se knegte; gevolglik strek die sukses wat enigeen van ons geniet, almal tot seën (1 Kor. 12:25, 26). Moet ons dan nie bly wees eerder as om afgunstig te voel wanneer ander groter verantwoordelikheid ontvang nie?

NIE ’N MAKLIKE STRYD NIE!

Die stryd teen afguns kan lank duur. Cristina erken: “Ek het nog steeds ’n sterk neiging tot afguns. Hoewel ek dit haat, is die gevoel daar en moet ek dit voortdurend onderdruk.” José het ’n soortgelyke stryd gehad. “Jehovah het my gehelp om die goeie eienskappe van die koördineerder van die liggaam van ouer manne te waardeer”, sê hy. “’n Goeie verhouding met God is van onskatbare waarde.”

Afguns is een van “die werke van die vlees”, waarteen elke Christen moet stry (Gal. 5:19-21). Deur nie toe te laat dat afguns ons oorheers nie, kan ons ons lewe gelukkiger maak en ons hemelse Vader, Jehovah, behaag.

[Voetnoot]

^ par. 7 Name is verander.

[Lokteks op bladsy 17]

“Wees bly saam met mense wat bly is”