Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sien jy meer as wat jou oë sien?

Sien jy meer as wat jou oë sien?

Sien jy meer as wat jou oë sien?

MOTORBESTUURDERS kan nie gewoonlik om ’n blinde draai sien nie. Maar met behulp van ’n spieël wat by die draai geplaas word, kan aankomende verkeer gesien en ongelukke vermy word. Net so kan mense ook nie ’n onsigbare Skepper sien nie. Is daar ’n manier om uit te vind of so ’n Skepper bestaan?

’n Eerste-eeuse skrywer het verduidelik hoe ons onsigbare dinge kan waarneem. Hy het geskryf: “[God se] onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid, sodat hulle onverskoonbaar is.”—Romeine 1:20.

Dink daaraan. Sien jy intelligensie in dinge om ons wat bo die mens se skeppingsvermoë is? Help sulke dinge jou om met die ‘oë van jou verstand’ te sien dat daar iemand groter as die mens is? Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.—Efesiërs 1:18AB.

Leer uit die skepping

Het jy al op ’n maanlose nag met verwondering na die prag van ’n skouspelagtige, sterbesaaide hemel gekyk en bewyse van ’n Grootse Maker daarin gesien? “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande”, het ’n eertydse waarnemer uitgeroep. “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het”, het hierdie man nagedink, “wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?”—Psalm 8:4, 5; 19:2.

Dit is net natuurlik dat ons ons verwonder oor skeppingswerke wat te wonderlik is vir mense om na te maak. ’n Bekende versreël sê: “Net God kan ’n boom maak.” Maar iets wat baie wonderliker is, is die ontwikkeling van ’n baba, wat sonder die bewuste betrokkenheid van ouers plaasvind. Wanneer sperm van die vader en ’n eiersel van die moeder saamsmelt, word planne vinnig in die DNS van die pas gevormde sel opgetrek om ’n kind voort te bring. “As dit uitgeskryf word”, sal die instruksies in die DNS na bewering “duisend boeke met 600 bladsye elk vul”.

Dit is net die begin. Die oorspronklike sel verdeel om twee selle voort te bring, dan vier, dan agt, ensovoorts. Ná ongeveer 270 dae word ’n baba gebore wat uit duisendmiljoene lewende selle van meer as 200 soorte bestaan. En om te dink dat die oorspronklike sel die inligting bevat het om al die verskillende soorte selle te maak en om hulle op net die regte tyd te maak! Word jy beweeg om ons Skepper te loof? Let op hoe die psalmis Hom geloof het toe hy geskryf het: “U het my niere voortgebring; u het my afgeskerm gehou in die skoot van my moeder. Ek sal u prys, omdat ek op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak is.”—Psalm 139:13-16NW.

Mense wat hierdie “wonderwerke” bestudeer, word met ontsag vervul. Dr. James H. Hutton, voormalige president van die Mediese verenigings van Chicago en Illinois, het gesê dat hy met verwondering vervul is deur die sel se “wonderbaarlike vermoë om aan opvolgselle inligting oor te dra wat hulle wil reproduseer. Dit is voorwaar wonderlik dat ons wetenskaplike navorsers oor sulke dinge kon leer. Maar die een of ander Goddelike Intelligensie moes tog sekerlik hierdie wonder beplan het.”

Dr. Hutton het verder gesê: “In endokrinologie, my eie subspesialiteit, dra die studie van endokriene funksies en die siektes van hierdie kliere by tot die oortuiging dat ’n Goddelike Krag verantwoordelik moet wees vir die wonderlike kompleksiteit en werking van hierdie noodsaaklike strukture.” Hy het tot die gevolgtrekking gekom: “Wanneer ek oor hierdie wonders nadink, kan ek nie anders as om te glo dat die een of ander almagtige en alwetende krag hierdie heelal beplan het, dit in aansyn gebring het en daaroor heers nie.”

Nadat dr. Hutton hierdie opmerkings gemaak het, het hy gevra: “Is Hy ’n persoonlike God wat van elke mossie weet wat op die grond val?” Hy het geantwoord: “Ek twyfel. En ek glo ook nie dat Hy werklik aandag skenk aan my betreklik onbelangrike daaglikse doen en late nie.”

Waarom erken baie mense dat intelligensie duidelik bespeurbaar in die “wonderwerke” van die skepping is, maar bevraagteken hulle die bestaan van ’n persoonlike God wat oor die mensdom besorg is?

Gee God werklik vir ons om?

Baie mense redeneer dat God, as hy wel bestaan het, nie sou toelaat dat mense soveel lyding verduur nie. ’n Algemene vraag wat party vra, is: “Waar was God toe ons hom nodig gehad het?” ’n Persoon wat die moord op miljoene deur die Nazi’s tydens die Tweede Wêreldoorlog oorleef het, is só gegrief deur hierdie lyding wat hy gesien het dat hy gesê het: “As jy aan my hart kon lek, sou dit jou vergiftig.”

Vir baie is dit dus ’n dilemma. Soos die eertydse waarnemer gesê het wat ons vroeër gemeld het, is daar duidelike bewyse van ’n Skepper wanneer ons die wonderbaarlike orde en ontwerp van dinge ondersoek. Maar hoe kan Hy sulke verskriklike lyding toelaat as Hy ’n God is wat vir ons omgee? As ons God wil verstaan en hom reg wil aanbid, moet ons ’n bevredigende antwoord op hierdie belangrike vraag hê. Waar kan ons dit vind?

Ons nooi jou om ’n eksemplaar van die brosjure Gee God werklik vir ons om? te kry. Jy kan op bladsy 32 van hierdie Ontwaak! uitvind hoe om een aan te vra. Ons dink dat ’n deeglike ondersoek van die dele “Waarom God lyding toegelaat het” en “Wat was die gevolg van opstand?” jou bevredigende antwoorde sal gee.

[Prente op bladsy 10]

Sien jy bewys van ’n Skepper in hierdie dinge?