Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Besoek aan “Rusland se oudste stad”

’n Besoek aan “Rusland se oudste stad”

 ’n Besoek aan “Rusland se oudste stad”

EK EN my vrou, Linda, het in Julie 1998 op ’n werkstoewysing in Moskou aangekom. Dit was ons eerste besoek aan Rusland, en ons was gretig om oor die land, sy taal en sy mense te leer.

Kort ná ons aankoms het ek die interessante prentjie op die agterkant van die groen vyfroebelnoot opgemerk. In die prentjie was daar ’n steenvesting wat gelyk het of dit uit die 14de of 15de eeu kom en wat oor ’n rivier uitkyk, met ’n eiland en ’n meer op die agtergrond. In die een hoek het die naam van die plek gestaan: Nowgorod.

Ek het mense van Moskou daaroor gevra. Almal het van Nowgorod geweet, maar net een persoon wat ek gevra het, was al daar. Daar is vir my gesê dat dit minder as 550 kilometer van Moskou af is, ’n oornagtreinrit in dieselfde rigting as St. Petersburg. Ek en my vrou het besluit om soontoe te gaan.

Ons reis na Nowgorod

Aangesien ek voorheen al kaartjies na St. Petersburg gekoop het, het ek geweet waar om dit te koop. Die nommer van ons treinwa en kompartement was op die kaartjie gedruk. Ons het net ná nege een aand verlede September by die treinstasie aangekom en ons in ons privaat kompartement in wa nommer 5 gemaklik gemaak.

Die wa het met ’n gesteun en toe ’n skielike ruk vorentoe beweeg. Dit het die hele nag so aangegaan, aangesien ons op ’n plaaslike trein was. Ons sou stop, en dan sou ’n ander trein ná ’n paar minute verby ons rammel. Nog ’n paar minute sou verbygaan terwyl ons in die stilte van die nag op die syspoor gewag het. Dan is die remme losgelaat, en ons wa sou protes aanteken, steun en kreun, en op die ou end die res van die trein volg. Daarna het ek weer aan die slaap geraak.

Die beampte van die wa het aan ons deur geklop net voor ons in Nowgorod aangekom het. Die treinstasie was besig, al was dit sewe-uur in die oggend. Ons het ’n kaart van die stad by ’n koerantstalletjie gekry en ook vir die verkoopsman gevra wat ’n taxirit na ons hotel sal kos. Die taxibestuurder het ons vir 20 roebels (ongeveer R4,50) in sy Russiese Lada na ons hotel oorkant die Volkhovrivier geneem—die rivier in die prentjie.

Die bestuurder het vir ons gesê dat hy nie Russies is nie, maar dat sy vrou wel is. Dit is waarom hy in Rusland woon. Die ontvangsdame by die hotel het ons verwelkom en ons selfs laat inteken, al was dit net 7:30 vm. Sy het ons ’n paar idees gegee van plekke om te besoek.  Ons het langs die rivier gaan stap en toe ontbyt geëet.

Ons het ’n park met netjies gesnyde gras en gesnoeide bome gesien. Die wandelpad langs die rivier was verfraai met pragtige blombeddings. Hoewel daar toeriste was—’n Koreaanse bus het van tyd tot tyd met ’n toergroep verbygery—is Nowgorod nie ’n toeristestad nie. Die meeste van die mense wat ons gesien het, was Russies.

’n Aantal inwoners het vir ons gesê dat Nowgorod Rusland se oudste stad is. Dit is na bewering meer as 1 100 jaar oud. Oral in die stad lewer tientalle ou kerke bewys van sy godsdienserfenis. In die omgewing van die hotel alleen het Linda 25 kerke op ’n kaart getel.

Ons het ’n toring binne-in die kremlin gevind—nie die Kremlin in Moskou nie; “kremlin” is die Russiese woord vir “stadsvesting”. Die toring kan tot heel bo geklim word. Vir 5 roebels (minder as R1,50) is ons toegelaat om die spiraaltrap na bo te klim. Ek het die uitsig met die prentjie op die vyfroebelnoot vergelyk. Die bome het gegroei, en ’n dak is oor die kremlinmuur se loopgang gesit. Maar daar was die Volkhovrivier—dieselfde rivier en dieselfde eiland en meer op die agtergrond. Net die kraan wat die rivier gebagger het, was nie in die prentjie nie.

Op ons tweede dag in Nowgorod het ons iets  merkwaardigs opgemerk. Al beskou die Russe dit as ’n klein stad—ondanks die bevolking van 250 000—het die mense ons, en selfs besonderhede oor ons, onthou! Die kelnerin by die hotel het ons van die vorige dag onthou. Sy het onthou dat ons van koffie hou, en sy het dit vir ons bly bring. Sy het ook onthou dat ons nie vrugtesap wou hê nie, en daarom het sy nie die tweede dag gevra of ons daarvan wou hê nie. Toe ons vir die rekening vra, het Olga—ek het haar naam onthou—reguit na my gekyk, geglimlag en gesê: “Dit is mos kamer 356?”

Sondag het duisende mense na die kremlin, die voetbrug oor die Volkhovrivier, die strate en die wandelpad gestroom. Linda het springmielies by ’n straatverkoper naby die voetbrug gaan koop, wat—ja, jy het reg geraai!—haar van die vorige dag onthou het.

Toe ons teruggaan om die toring te klim om weer die uitsig te sien, het die meisie wat die toegangsgeld ingeneem het, geglimlag en gesê: “Julle was mos gister hier? Wel, julle het reeds gister betaal, daarom hoef julle nie weer te betaal nie.”

Ons het David ontmoet, ’n vriend wat ons jare tevore in New York geken het. Hy het met ’n Russiese meisie, Aljona, getrou en hulle woon nou in Nowgorod, waar hulle in ’n gemeente van Jehovah se Getuies as bedienaars dien. Ons het voor die Detinets-restaurant ontmoet, wat in die muur aan die bokant van die kremlin gebou is. Daar is ons die beste Russiese kos bedien wat ons nog geëet het. Die feit dat dit nie duur was nie, was ’n bonus. ’n Driegangete (slaai, sop, hoofgereg, koffie en nagereg) het ongeveer R40 gekos.

Nowgorod is ’n stad met vriendelike mense wat ons onthou het, uitstekende kos en net genoeg geskiedenis en verskeidenheid om dit interessant te maak. Ons sal beslis teruggaan daarheen.—Bygedra.

[Prente op bladsy 22, 23]

Die Russiese vyfroebelnoot en ’n foto van dieselfde uitsig van Nowgorod

[Prent op bladsy 23]

Die kremlin, van die Volkhovrivier af

[Prent op bladsy 24]

’n Skare mense steek ’n voetbrug oor die Volkhovrivier oor

[Prent op bladsy 24]

Godsdiens het eeue lank ’n belangrike rol in Nowgorod gespeel