Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Wêreld se grootste tabakverbruiker

China is “die wêreld se grootste vervaardiger en verbruiker van tabak”, berig The Journal of the American Medical Association. “Uit China se bevolking van 1,2 miljard mense is meer as 300 miljoen mans en 20 miljoen vroue rokers.” Dokters van die Chinese Akademie vir Voorkomende Geneeskunde en die Chinese Vereniging van Rook en Gesondheid, in Beijing, het saam met Westerse dokters die resultate van ’n landwye opname onder meer as 120 000 respondente vrygestel. Hulle gevolgtrekking? China is in “’n vroeë stadium van ’n tabakepidemie”, en “ten minste 50 miljoen Chinese rokers wat vandag lewe, sal na verwagting ’n ontydige dood sterf”. Die gemiddelde ouderdom van persone in China wat vir die eerste keer rook, het sedert 1984 met ongeveer drie jaar gedaal, van 28 tot 25, sê die verslag. Slegs ’n minderheid het geweet dat longkanker en hartsiekte deur rook veroorsaak kan word.

Wanneer ouers besorg is

“Wetenskaplikes sê nou dat die geheim van ’n kind se sukses ’n ouer is wat besorg is oor sy opvoeding—en dit wys”, sê The Toronto Star. Sedert 1994 het Statistics Canada en Human Resources Development Canada gesamentlik die ontwikkeling en gesondheid van 23 000 Kanadese kinders tussen die ouderdomme van 4 en 11 gevolg. Klaarblyklik stel die meeste Kanadese ouers daadwerklik in hulle kinders se skoolopleiding belang, veral in die eerste paar skooljare. Volgens die verslag “sê 95 persent van die 10- en 11-jariges dat hulle ouers hulle altyd of die meeste van die tyd aanmoedig om goed te doen op skool” en dat 87 persent van die ouers “elke dag gedurende graad 1 tot 3 saam met hulle kinders lees”. Mary Gordon, hoof van ouerprogramme vir die Skoolraad van die Toronto-streek, sê: “Ons weet nou dat ’n mens nie ryk of geleerd moet wees om ’n goeie ouer te wees nie, maar jy moet teenwoordig, wakker en geïnteresseerd wees.” Sy voeg by: “Dit is so ’n hegte verhouding wat verstande laat groei, en dit begin by die huis.”

Tieners en telefone

Tieners is daarvoor bekend dat hulle baie oor die telefoon praat. “Hulle gebruik die telefoon vir ontspanning of wanneer hulle verveeld is”, sê die Poolse weekblad Przyjaciółka. Maar baie is nie bewus van hoe lank hulle oor die telefoon praat of hoeveel ’n oproep kos nie. Wat is die oplossing? Die tydskrif stel voor dat die jong persoon gevra moet word om ten minste ’n gedeelte van die telefoonrekening te betaal. Dit beveel aan dat ’n mens tieners herinner dat “die telefoon gedeel moet word en dat ander dit ook van tyd tot tyd wil gebruik”.

Skerpskutterkewer

“Hoëspoedfoto’s het wetenskaplikes ’n beter begrip gegee van die meganismes wat die bombardeerkewer die beste skut met die doeltreffendste arsenaal in die insekwêreld maak”, berig die koerant die Independent van Londen. Die kewer kan met behulp van ’n paar skildagtige deflektors aan die punt van sy agterlyf ’n straal bytende suur sekuur na ’n potensiële vyand mik en dit in ’n fraksie van ’n sekonde daarmee bedek. Aangesien die kewer immuun is teen die uitwerking van hierdie vloeistof, kan hy homself ook verdedig deur die vloeistof op spesifieke plekke op sy eie lyf te spuit, insluitende sy rug, wanneer hy deur kleiner insekte, soos miere, aangeval word. Wetenskaplikes aan die Cornell-universiteit in Ithaca, New York, wat die kewer in aksie gefotografeer het, sê: “Hoewel ons geweet het dat bombardeerkewers hulle sproei kan rig deur die punt van hulle agterlyf te draai, het die presisie waarmee hulle die vloeistof skiet ons aandag ontgaan.”

Kombuiswoede

“Die toenemende ingewikkeldheid van hipertegnologiese huishoudelike toebehore gee aanleiding tot uitbarstings van ‘kombuiswoede’”, berig die koerant die Independent van Londen. Gefrustreerde mense “vind uit dat hulle nie ’n koppie sop in ’n mikrogolf kan opwarm, ’n paar sokkies kan was of die voedselverwerker kan gebruik sonder om ure lank met ’n handleiding te worstel nie”. Sielkundiges sê dat die moderne tegnologie ontwerpers in staat stel om te veel funksies in toebehore in te bou, en hulle verwys na die gemiddelde videomasjien as ’n goeie voorbeeld van ’n toestel wat te ingewikkeld is. Cary Cooper, sielkundeprofessor aan die Universiteit van Manchester, verduidelik: “Mense kom oral by die werk nuwe tegnologie teë, en wanneer hulle by die huis kom, wil hulle ’n eenvoudiger lewe hê wat hulle nie aan die werk herinner nie.”

Gevaar van rou spruite

Ná ’n toename in gevalle van siektes wat deur voedsel oorgedra word, het die Amerikaanse Voedsel- en Medisyneraad verbruikers aangeraai om nie ongekookte saadspruite te eet as hulle die gevaar van sulke siektes wil verminder nie, berig die tydskrif FDA Consumer. Baie mense geniet rou alfalfa-, klawer- of boontjiespruite. Maar dit is al verbind met die uitbreek van bakteriese infeksies in verskeie lande, sê The New York Times. Klein kindertjies, bejaardes en mense met verswakte immuunstelsels is veral vatbaar. Navorsers het verskillende maniere getoets om die bakterieë te bestry, onder meer om die spruite in chloor- of alkoholoplossings te was, maar niks was heeltemal doeltreffend nie. Hulle verduidelik dat “die vog en warm temperature van die spruitproses ideale toestande skep waarin die organismes kan floreer”, sê die Times.

Londen se tale

Skoolkinders in Londen, Engeland, praat ten minste 307 tale, berig die stad se koerant The Times. Dr. Philip Baker, een van die samestellers van die eerste opname van tale wat tans in Londen gepraat word, was verbaas oor die verskeidenheid. Hy het gesê: “Ons is nou redelik seker dat Londen die veeltaligste stad ter wêreld is, selfs meer as New York.” Die 307 tale sluit nie die honderde dialekte in nie en is heel moontlik ’n onderskatting. Slegs twee derdes van die stad se 850 000 skoolkinders praat Engels by die huis. Die grootste anderstalige groepe kom van die Indiese subkontinent. Ten minste 100 Afrikatale word gepraat. In net een skool praat die leerlinge 58 tale.

Swam-aanval!

Voetskimmel, ’n pynlike swaminfeksie van die tone en voetsole, versprei vinnig in Duitsland, berig die nuustydskrif Der Spiegel. Een uit 5 Duitsers het dit, en in party ander Europese lande is daar selfs meer mense wat dit het. Die moontlikheid om besmet te word, is hoog waar mense ook al kaalvoet loop in ’n ingeperkte area—soos by saunas, swembaddens of selfs godsdiensgeboue. Aangesien swamspore baie gehard is, bevorder sproeimasjiene of skottels wat bedoel is om die voete te ontsmet—waar die chemiese stowwe net ’n paar sekondes het om hulle werk te doen—dikwels die verspreiding van voetskimmel in plaas daarvan om dit te voorkom. Hoe kan jy jou voete beskerm? Die swamspesialis dr. Hans-Jürgen Tietz beveel aan dat ’n mens oral waar ander mense loop plakkies dra. Die belangrikste ding is dat jy jou voete droog hou. As jy jou voete deeglik afdroog, veral tussen die tone, keer dit dat swamme groei en floreer.

Ontsouting van seewater

Seewater word in drinkwater verander by ’n ontsoutingsaanleg op ’n klein eiland naby die kus van Suid-Australië, berig die koerant The Australian. Hoewel ontsouting niks nuuts is nie, “is die tegnologie geprys as ’n deurbraak in ontsouting omdat dit nie chemiese stowwe vereis nie”, sê die verslag. Om die Penneshaw-gemeenskap van 400 mense, op Kangaroo-eiland, van water te voorsien, “word water van die see af gepomp en teen hoë druk deur ’n membraan gestoot om die sout te verwyder. Die soutkonsentraat kan dan veilig in die see teruggestort word.” Hoewel daar hoë verwagtinge is dat die nuwe stelsel meer gebruik sal word, is dit nog steeds duur, al is dit goedkoper as tradisionele watersuiweringsmetodes, sê The Australian.

“Hy is in ’n vergadering”

In ’n opname onder 148 sekretaresses wat vir direkteure van groot maatskappye werk, het 47 persent gesê dat hulle base hulle al gevra het om ander soms te mislei, berig The Wall Street Journal. Een sekretaresse, ’n bemarkingsassistent van Texas, het gesê dat sy, om haar werk 30 jaar lank te behou, al vir mense moes sê dat haar baas “in ’n vergadering” is, selfs al was hy alleen in sy kantoor. Party leuens kan veral netelig wees, soos om vir ’n vrou te sê dat jy nie weet waar haar man is nie. Een sekretaresse is afgedank toe sy die waarheid vertel het en vir iemand gesê het dat ’n agterstallige tjek nie in die pos is nie.