Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

My pogings om wyse keuses te maak

My pogings om wyse keuses te maak

 My pogings om wyse keuses te maak

SOOS VERTEL DEUR GUSTAVO SISSON

Toe ek 12 was, het ek besluit om ’n dokter te word, hoewel ek baie betrokke by swem was. Maar in daardie selfde tyd het ek ook die Bybel begin studeer, en as gevolg daarvan wou ek ’n bedienaar word. Wat het van my verskillende ambisies en belangstellings geword? Was hulle versoenbaar?

IN 1961 het Olive Springate, ’n sendeling van Jehovah se Getuies in Brasilië, die Bybel met my en my ma begin studeer. As gevolg van teenstand van my pa, ’n gerespekteerde dokter in Pôrto Alegre, het ons ophou studeer. Olive het egter in aanraking met ons gebly, en mettertyd kon ek sien dat die dinge wat ek geleer het die waarheid is. Maar teen daardie tyd het my betrokkenheid by my swemloopbaan my aandag van geestelike dinge afgelei.

Toe ek 19 was, het ek ’n aantreklike jong vrou, Vera Lúcia, by my swemklub ontmoet, en ons het begin uitgaan. My ma het met haar oor ons oortuigings gepraat, en sy het daarin belanggestel. Ek het dus met Olive in verbinding getree, en sy het die Bybel met ons begin studeer, ondanks die teenstand van Vera Lúcia se pa.

Vera Lúcia het aangehou studeer, en sy het mooi gevorder wat haar Bybelkennis betref. Sy het selfs Bybelstudies met werkers by my swemklub begin. Terselfdertyd het ek hard geoefen vir die naderende nasionale swemkompetisie.

Nadat ons meer as ’n jaar gestudeer en Christelike vergaderinge bygewoon het, het Vera Lúcia se pa agterdogtig begin raak. Toe ons eendag van ’n vergadering af terugkom, het hy vir ons gewag en aangedring dat ons vir hom sê waar ons was. Ek het gesê dat ons ’n Christelike vergadering bygewoon het en hoewel godsdiens miskien nie vir hom belangrik is nie, is dit vir ons ’n saak van lewe of dood. Hy het gesug en gesê: “Wel, as dit ’n saak van lewe of dood is, sal ek dit seker moet aanvaar.” Van toe af het sy gesindheid verander, en hoewel hy nooit een van Jehovah se Getuies geword het nie, het hy ’n intieme vriend en ’n steunpilaar in tye van nood geword.

Ek kom voor keuses te staan

Ek het besluit om mededingende swemmery ná die nasionale kampioenskap te laat vaar, maar twee oorwinnings en ’n Brasiliaanse rekord in die 400- en 1 500-meter vryslag het my ’n uitnodiging na die Pan-Amerikaanse Spele in 1970 in Cali, Colombia, besorg. Hoewel Vera  Lúcia nie wou hê dat ek moes gaan nie, het ek vir die spele begin oefen.

Omdat ek goed gedoen het in Cali het die afrigters my gevra of ek bereid was om vir die Olimpiese Spele te oefen. Ek het nagedink oor my onvoltooide mediese studies en die wonderlike waarhede wat ek oor Jehovah se voornemens geleer het en al my planne om ’n swemloopbaan na te streef laat vaar. Van toe af het ek vinnig geestelik gevorder. In 1972, die jaar van die Olimpiese Spele in München, Duitsland, het ek en Vera Lúcia ons toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer. Dit het my ma aangespoor om haar Bybelstudie te hervat, en mettertyd is sy ook gedoop.

Nadat my ma gedoop is, het my pa se teenstand toegeneem. Ons gesin het uiteindelik uitmekaargegaan, en aangesien ek nog op universiteit was, moes ons klaarkom met haar klein pensioen en die geld wat ons van die verkope van ons huis gekry het. Ek en Vera het gevolglik ons troue uitgestel. Eintlik het die goeie lesse wat my pa my geleer het my gehelp om hierdie besluite te neem. Hy het dikwels gesê: “Moenie bang wees om anders te wees nie” en: “Die meerderheid is nie altyd reg nie.” Een van sy geliefkoosde sêgoed was: “’n Mens se waarde word gemeet aan wat jy vir ander gee.”

As een van Jehovah se Getuies kon ek my pa se uitstekende raad toepas. Ek was in 1986 by sy sterfbed. Ons het weer vriende geword en het mekaar gerespekteer. Ek dink hy was trots op my, aangesien ek, soos hy, ’n dokter geword het.

Ek het intussen in 1974 my studies aan die mediese skool voltooi. Ek het besluit om ’n algemene praktisyn te word, maar later, nadat ek weer oor die saak nagedink het, het ek besluit dat ek van groter nut vir my Christenbroers kon wees deur ’n chirurg te word (Handelinge 15:28, 29). Ek het derhalwe die uitdaging aanvaar en die volgende drie jaar opleiding as ’n chirurg ontvang.

’n Uitdagende regstryd

’n Baie hartseer geval waarby ek betrokke was, was dié van ’n 15-jarige Getuiemeisie wat inwendige bloeding gehad het. Sy was bleek en hipotensief, maar sy was by haar volle verstand en heeltemal vasbeslote om nie bloed te neem nie. Nadat ek haar bloedvolume aangevul het, het ek ’n endoskopie gedoen en die aangetaste area met ’n verkoelde soutoplossing gewas om die bloeding te laat ophou. Aan die begin het sy verbeter, maar 36 uur later, terwyl sy in die waakeenheid was, het die bloeding skielik weer begin. Ondanks die dokter wat aan diens was se beste pogings kon hy nie die bloeding onder beheer bring en haar bloedvolume handhaaf nie, en die meisie het gesterf.

Ná hierdie voorval het die etiekkomitee my internskap opgeskort en my saak na die streek se mediese raad verwys. Ek is daarvan aangekla dat ek drie bepalings van die mediese gedragskode geskend het, wat my mediese lisensie in die weegskaal geplaas het en daarmee saam my bron van inkomste.

’n Komitee het bepaal dat ek binne 30 dae ’n geskrewe verweer moes voorlê. My regsverteenwoordigers het wetlike en grondwetlike pleidooie voorberei, en ek het ’n tegniese verweer voorberei met behulp van die plaaslike Hospitaalskakelkomitee (HSK), ’n groep Getuies van Jehovah wat samewerking tussen hospitale en pasiënte probeer bevorder. By die verhoor het die opdraggewende komitee meestal vrae gevra oor my posisie as ’n dokter en as een van Jehovah se Getuies. Maar my verweer was hoofsaaklik gegrond op mediese en wetenskaplike argumente en op verslae deur gerespekteerde chirurge.

Die getuienis wat voorgelê is, het bevestig dat die pasiënt geweier het om ’n bloedoortapping te aanvaar en dat ek niks gedoen het om haar te beïnvloed om daardie besluit te neem nie. Die verhoor het ook getoon dat ek, van die vier dokters wat geraadpleeg is, die enigste een was wat met hoegenaamd enige  behandeling begin het wat die pasiënt se wense en mediese toestand in ag geneem het.

My saak is toe na ’n komitee verwys wat by ’n volle sitting sou stem. Ek het ’n mondelinge verweer van tien minute gelewer waarin ek, soos in my vorige geskrewe verweer, slegs op die mediese aspekte gekonsentreer het. Nadat hulle my aangehoor het, het twee van die komiteelede gesê dat die behandeling wat ek voorgeskryf het ’n grondige wetenskaplike basis het, al het ek nie oortappings gebruik nie. ’n Ander dokter het beklemtoon dat bloedlose behandeling doeltreffend is en dat dit ’n laer sterftesyfer het. Die laaste raadslid het gesê dat die vraag nie was of bloedoortappings goeie medisyne is nie. Die vraag was of ’n dokter ’n behandeling aan sy pasiënt kon voorskryf wat die pasiënt nie wou hê nie, en die raadslid het nie gedink dat ’n dokter daardie reg het nie. Gevolglik het die raadslede, met ’n meerderheid van 12 teen 2, gestem om al die aanklagte af te wys, waardeur hulle my vrygespreek het.

Die verdediging van ’n pasiënt se regte

Party mediese owerhede het al hofbevele verkry om Getuiepasiënte te dwing om bloedoortappings te aanvaar, en soms het ek by verhore getuienis gelewer wat gehelp het om sulke bevele ter syde te stel. In een geval het ’n Getuie geswolle bloedvate in sy slukderm gehad, ’n probleem wat ernstige bloeding van die maag veroorsaak. Teen die tyd dat hy in die hospitaal opgeneem is, het hy reeds aan ernstige bloedarmoede gely—sy hemoglobientelling was 4,7 gram per desiliter. * Aanvanklik is daar nie druk op hom uitgeoefen om bloed te aanvaar nie, en hy het slegs ondersteunende behandeling ontvang.

Ná ’n week in die hospitaal was die pasiënt verbaas toe ’n hofbeampte met ’n bloedoortappingsbevel hom besoek het. Teen hierdie tyd het sy hemoglobientelling tot 6,4 gram per desiliter gestyg en was hy klinies stabiel. Die regter het blykbaar haar besluit na aanleiding van die eerste hemoglobientelling gemaak en nie die tweede, hoër, een nie.

Die HSK het aangebied om te help. Die pasiënt het my gevra om hom te ondersoek. Ek het dit gedoen, en daarna het ek daarin geslaag om hom na ’n hospitaal oor te plaas waar hy sonder bloed behandel kon word. Terselfdertyd het sy regsverteenwoordigers die hofbevel vir ’n bloedoortapping betwis.

Ek is na ’n verhoor voor die regter ontbied, wat my oor die toestand van die pasiënt gevra het. Gedurende die verhoor het sy my toestemming gegee om voort te gaan om die pasiënt te behandel terwyl die meriete van die hofbevel betwis is. Teen die tyd van die nuwe verhoor het die pasiënt se toestand verbeter en is hy al uit die hospitaal ontslaan. Toe ek opgeroep is om weer getuienis te lewer, het die hospitaal se regsverteenwoordiger my uitgedaag om te bewys dat die behandeling wat ek aanbeveel het ’n wetenskaplike grondslag het. Tot sy verleentheid het ek ’n artikel in ’n mediese tydskrif voorgelê wat deur dieselfde hospitaal gepubliseer is wat hy verteenwoordig het, en dit het hierdie behandeling aanbeveel!

Toe die uitspraak gelewer is, was ons verheug om te hoor dat ons standpunt geregverdig is om op ander mediese behandeling staat te maak en nie op bloedoortappings nie. Die hospitaal is beveel om alle koste, insluitende die regskoste, te betaal. Hoewel die hospitaal appèl aangeteken het, het hulle weer die saak verloor.

Ons sorg vir ons gesin

Vandat ek ’n Getuie geword het, het Vera Lúcia my as ’n toegewyde metgesel, ’n deugsame vrou en ’n voorbeeldige moeder vir ons kinders ondersteun. Hoe het sy dit reggekry om al die uitdagings die hoof te bied, ons huis te bestuur en te help om na die kinders om te sien, wat nou lewenslustige jongmense is? Dit was moontlik weens haar diepe liefde vir Jehovah en die Christelike bediening.

 As ouers het ons ons kinders van ’n vroeë ouderdom af Bybelleringe en -beginsels geleer. Ten spyte van die feit dat ons ’n besige lewe lei, probeer ons ’n paar maande elke jaar aan die voltydse bediening deelneem. En ons doen alles in ons vermoë om by ’n rooster te bly, wat insluit dat ons die Bybel gereeld lees, ’n Bybelteks elke dag bespreek en in die Christelike bediening vir ander van ons oortuigings vertel. In onlangse tye het ons gesin dikwels tot 12 weeklikse Bybelstudies met mense gehou wat nie Getuies is nie.

Ek en Vera Lúcia probeer ons seuns ook betrek in dinge wat ons doen, terwyl ons terselfdertyd hulle persoonlike smaak respekteer. Ons glo dat drie basiese dinge nodig is vir ouers om behoorlik vir hulle gesin te sorg. Eerstens, die regte onderrigting, gebaseer op God se Woord, die Bybel. Tweedens, die regte voorbeeld, wat duidelik aan kinders toon dat hulle ouers ’n gesonde vrees vir God het. En derdens, die regte assosiasie met Christene van alle ouderdomsgroepe en sosiale posisies, wat verskillende gawes en vermoëns aan gesinslede kan oordra. As ’n egpaar het ons dit ons doelwit gemaak om ons gesin van hierdie dinge te voorsien.

Wanneer ons op byna 30 jaar van diens aan Jehovah terugkyk, kan ek en my vrou sonder enige twyfel sê dat hy ons net die beste in die lewe gegee het en ons van baie vreugdes voorsien en geseën het. Hoewel ek nooit aan die Olimpiese Spele deelgeneem het nie, geniet ek dit nog steeds om ’n paar kilometer elke week te swem. Ja, die feit dat ek ’n dokter sowel as een van Jehovah se Getuies is, hou my baie besig, maar ek vind dit baie lonend om my Christenbroers en -susters te help om ten spyte van beproewinge in hulle diens aan God te volhard.

Ek word dikwels gevra of dit my pla dat ek my werk gaan verloor wanneer God se nuwe stelsel kom en daar nie meer siekte gaan wees nie. Ek antwoord dat ek die eerste sal wees om van vreugde te spring wanneer ‘die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme jubel’ en ‘geen inwoner sê: “Ek is siek nie.”’—Jesaja 33:24; 35:6.

[Voetnoot]

^ par. 21 ’n Gesonde volwassene het ’n hemoglobientelling van ongeveer 15 gram per desiliter.

[Prent op bladsy 15]

Ek opereer ’n pasiënt

[Prente op bladsy 15]

Saam met Vera Lúcia, en ons gesinstudie