Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vyftig jaar lank ’n porseleinskilder

Vyftig jaar lank ’n porseleinskilder

 Vyftig jaar lank ’n porseleinskilder

SOOS VERTEL DEUR ALFRED LIPPERT

MY MA wou hê dat ek ’n timmerman moes word. Maar my onderwyser het haar aangeraai om vir my by die porseleinfabriek naby ons huis in Meissen, Duitsland, werk te kry. Waarom het hy so daarop aangedring? Hy het opgelet dat ek goed kon teken. Ek is lief vir my ma, maar ek is bly dat die onderwyser sy sin gekry het. Toe ek 14 jaar oud was, het ek dus begin leer hoe om van die pragtigste handgemaakte porselein ter wêreld te beskilder.

Porselein word al omtrent 300 jaar lank in Meissen gemaak. Die eerste fabriek in Europa wat ware porselein gemaak het, is in 1710 hier opgerig. Omtrent 30 jaar later het die fabriek ’n skool gestig waar jongmense die kuns kon leer om porselein te beskilder. Dit was by hierdie skool, wat nou nog bestaan en tans deur die Meissen-porseleinfabriek bestuur word, waar ek my eerste senuweeagtige kwashale op porselein gemaak het.

By die skool het ek ook die fynere punte geleer van hoe om prente van blomme, bome, diere en voëls te skets en te skilder. Hierdie kursus het die fondament gelê vir my latere werk.

Geglasuur of ongeglasuur?

Porselein is deurskynende keramiek wat op twee maniere beskilder kan word. ’n Mens kan daarop skilder voordat die glasuur aangebring word. Maar ongeglasuurde porselein is poreus en suig die kleur op, en daarom verg dit groot konsentrasie om so te verf, aangesien die meeste foute nie reggestel kan word nie. Aan die ander kant kan die porselein beskilder word nadat dit geglasuur is. Dit het my spesialiteit geword om blompatrone volgens hierdie metode te verf. Hierdie werk het beteken dat ek unieke blomontwerpe vir elke stuk porselein moes maak en verf. Die skilder leer dus nie net om te konsentreer en te keer dat sy aandag afgetrek word nie, maar hy leer ook om sy verbeelding te gebruik om iets moois te skep.

Nadat ek etlike jare lank blompatrone geverf het, het ek uiteindelik die moeilikste kuns aangepak—om prente van diere en voëls te skilder. Dit is waar my vroeëre studie van hoe om diere  en voëls te skilder werklik goed te pas gekom het.

’n Besonder opwindende uitdaging

Dit is ’n opwindende uitdaging om diere, visse en voëls te skilder, want elke skepsel moet lyk of hy lewe, nie asof hy bewegingloos is, soos ’n blom of ’n boom nie. Die kunstenaar moet iets weet van die anatomie en die gewoontes van die diere en voëls wat hy skilder. Baie van die tonele wat ek skilder, beeld byvoorbeeld wilde diere uit, soos takbokke met groot horings.

Die beste manier om van diere te leer, is deur persoonlike waarneming. ’n Paar jaar gelede wou ek ’n reeks prente van visse skilder en daarom het ek ’n vistenk gekoop en allerhande soorte visse daarin gesit. Ek en my vrou het ure lank by die vistenk gesit en die bewegings en gewoontes van elke soort vis dopgehou. Eers nadat ek daarmee vertroud geraak het, het ek begin skilder.

Wat is ’n goeie skilder?

Vriende vra my soms wat nodig is om ’n goeie porseleinskilder te wees. Die skilder moet natuurlik kunstalent, ’n goeie oog en ’n vaste hand hê. Maar dit is nie al nie. Om as ’n kunstenaar sukses te behaal, moet ’n mens die regte gesindheid teenoor jouself, jou werk en ander mense hê. ’n Goeie skilder is ’n vakman wat homself leer om hard te werk om sy vermoë te verbeter. Hy weet dat ’n mens dit moet gebruik, anders verloor jy dit. Hy hou nooit op om te leer nie, want hy luister na wat ander sê en neem hulle raad aan.

Een laaste punt. Die ervare kunstenaar is ingestel op die wense van die klant. Mense wat handgemaakte porselein koop, wil nie ’n alledaagse item hê wat hulle ’n rukkie sal hou en dan gaan weggooi en vervang nie. Die klant soek ’n kunsvoorwerp, ’n artikel met kulturele waarde—iets wat die oog tref, die hart warm laat klop en die eienaar se lewe verryk. Die skilder is bly dat hy daaraan deel kan hê om daardie begeertes te bevredig.

Die skilderkuns lei my tot geloof in God

My werk as skilder het my aangemoedig om die Bybel te ondersoek en ’n sterk geloof in God op te bou. Hoe? Wel, soms het ek saam met voëlkenners gewerk en illustrasies vir boeke waaraan hulle gewerk het, geskets en geverf. Toe ek hierdie illustrasies begin doen het, het ek aan evolusie geglo. Maar noue samewerking met etlike skrywers het aanleiding gegee tot gesprekke oor die ontstaan van lewe. En hierdie gesprekke het my beskouing verander.

Dit het my opgeval dat al die deskundiges aan evolusie geglo het, maar dat elkeen sy eie teorie gehad het, wat dikwels dié van ander deskundiges weerspreek het. Sover ek weet, is daar geen eenvormige evolusieteorie nie. Aangesien die deskundiges nie oor ’n eenvormige verklaring van evolusie kan saamstem nie, hoe kan enigiemand anders dan? Vir my het evolusie ’n natuurlike dood gesterf. Die enigste alternatief vir evolusie is dat lewe op aarde geskep is. My geloof in ons Skepper het daar begin.

Ek is bly dat mense nou vreugde put uit my werk, en dit laat my goed voel. Ek sal nooit my liefde vir die skilderkuns of my liefde vir porselein verloor nie.

[Foto-erkenning op bladsy 17]

Prente op bladsye 16 en 17: Mit freundlicher Genehmigung der Staatlichen Porzellan-Manufaktur Meissen GmbH