Party van ons getroue broers en susters in Eritrea wat in die tronk was of op die oomblik in die tronk is

25 OKTOBER 2024
ERITREA

Dertig jaar van intense vervolging vir Jehovah se Getuies in Eritrea

Dertig jaar van intense vervolging vir Jehovah se Getuies in Eritrea

Jehovah se Getuies in Eritrea is oor die afgelope 30 jaar wreed vervolg. Vanaf 1994 is meer as 270 broers en susters onregverdig tronk toe gestuur en selfs gemartel as gevolg van hulle geloof. Op die oomblik is 64 in die tronk, en nie een van hulle is al ooit aangekla van of skuldig bevind aan ’n misdaad nie.

Die presidensiële besluit wat op 25 Oktober 1994 gemaak is wat die burgerskap van alle Getuies van Jehovah in Eritrea weggeneem het

Op 25 Oktober 1994 het die president van Eritrea, Isaias Afwerki, in ’n presidensiële besluit die burgerskap van Jehovah se Getuies wat in die land gebore is, weggeneem. Dit is omdat ons broers geweier het om aan politieke aktiwiteite deel te neem of om militêre diens te doen. Hoewel Jehovah se Getuies in Eritrea voor 1994 ’n mate van teenstand ondervind het, het die presidensiële besluit die vervolging vererger. As gevolg hiervan is honderde van ons broers en susters oor die afgelope 30 jaar gearresteer, tronk toe gestuur en wreed behandel.

Nadat 32 Getuies tussen Desember 2020 en Februarie 2021 uit die tronk vrygelaat is, het dit gelyk asof die situasie in Eritrea sou verbeter. Maar ongelukkig was dit nie die geval nie. Meer as 20 Getuies het in die tronk gebly, en ons broers en susters is nog steeds gearresteer. Toe, aan die einde van September 2024, het die polisie ’n huis deursoek en 25 mense gearresteer wat vreedsaam bymekaargekom het om die Bybel te bespreek. Onder dié wat gearresteer is, was drie persone wat ouer as 80 jaar oud is, ’n suster wat omtrent ses maande swanger was en twee minderjarige kinders. Die kinders is later vrygelaat, maar die volwassenes is na die Mai Serwa-tronk oorgeplaas.

Die mense in Eritrea wat vir hulle geloof tronk toe gestuur word, word wreed behandel en lewe onder haglike omstandighede. Broer Negede Teklemariam, wat 26 jaar lank in die tronk was, vertel: “Ons is deur die wagte met toue vasgemaak en wreed behandel, erg geslaan en gedwing om te werk. . . . Hulle het net gewag vir ons . . . om dood te gaan.” Dit is tragies dat vier broers in die tronk gesterf het as gevolg van die aaklige toestande wat hulle ondervind het, en nog drie het gesterf kort nadat hulle vrygelaat is.

Selfs ons broers en susters wat nie in die tronk is nie, het baie groot uitdagings. Byvoorbeeld, sonder burgerskap het baie hulle werke en huise verloor, en hulle kan nie vryelik reis nie. Party is deur hulle bure en regeringsamptenare beledig en aangeval as gevolg van hulle Christelike neutraliteit. Jong Getuies kan ook nie hulle skoolloopbaan voltooi nie, want die regering vereis dat alle studente militêre opleiding moet kry as hulle hulle opvoeding wil voltooi.

Die vervolging in Eritrea wat nie ophou nie, maak ons baie hartseer. Maar ons is oortuig dat Jehovah al ons broers en susters in Eritrea onthou wat moedig vasgestaan het ten spyte van teenstand wat al jare lank aanhou. As ’n verenigde broederskap bid ons dat hy sal aanhou om hulle te versterk terwyl hulle hierdie “swaar tye” ter wille van hulle geloof verduur. – 1 Petrus 4:12-14.