Spring na inhoud

Liefhebbers van vryheid by die Armada

Liefhebbers van vryheid by die Armada

Van 6 tot 16 Junie 2013 het miljoene besoekers van regoor die wêreld na die hawestad Rouen, in Noord-Frankryk, gestroom vir een van die grootste en pragtigste seevaartgeleenthede in die wêreld, die Armada.

Ná ’n vaart van 120 kilometer op die Seine, ’n kronkelende rivier in die skilderagtige Normandië, het die beste en hoogste seilskepe in die wêreld anker laat sak langs die sewe kilometer lange waterfront wat vir hierdie feestelike geleentheid voorberei is. Besoekers het meer as tien dae lank die unieke geleentheid gehad om aan boord die 45 legendariese vaartuie en hoë skepe by die fees te gaan en vryelik rond te kyk.

Wat het soveel mense van alle ouderdomme beweeg om die Armada by te woon? Volgens die geleentheid se organiseerder en stigter bied die Armada hulle ’n geleentheid om “nader te kom aan hierdie ‘Seereuse’ wat ons laat droom”. Ja, groot seilskepe laat die meeste mense, jonk sowel as oud, aan verre reise en vryheid dink.

Duisende toeriste het ook die geleentheid gehad om van ’n ander soort vryheid te hoor, die soort wat deur Bybelwaarheid gebied word (Johannes 8:31, 32). Terwyl besoekers deur die bekoorlike Middeleeuse Rouen en sy woelige, smal strate gestap het, kon hulle nie anders as om die mobiele lektuuruitstallings van plaaslike Getuies van Jehovah te sien nie. Wanneer toeriste of matrose ’n uitstalling genader het, is hulle genooi om enige Bybellektuur gratis te neem. Baie verbygangers het belangstelling getoon in die artikel “’n Wêreld sonder vooroordeel—Wanneer?” in Die Wagtoring en is na ’n Bybeltoespraak genooi wat in Frans, Engels of Spaans gehou sou word.

Plaaslike bewoners het waardering uitgespreek vir hierdie inisiatief. Een man, wat aanvanklik verbaas was om die Getuies in die openbaar naby ’n mobiele uitstalling te sien staan, het gesê: “Ek is bly om julle op straat te sien. Ek respekteer mense wat by hulle oortuigings bly, al glo ek nie soos julle nie.” Twee bejaarde mans wat jong Getuies ontmoet het wat aan hierdie openbare werk deelgeneem het, het vir hulle gesê: “Julle kan trots wees op wie julle is!”