Spring na inhoud

Wat is die Nuwe Jerusalem?

Wat is die Nuwe Jerusalem?

Die Bybel se antwoord

 Die uitdrukking “Nuwe Jerusalem” kom twee keer in die Bybel voor. Hierdie simboliese stad verteenwoordig Jesus se volgelinge wat hemel toe gaan om saam met hom in God se Koninkryk te regeer (Openbaring 3:12; 21:2). Die Bybel wys dat hierdie groep ook die bruid van Christus genoem kan word.

Dinge wat ons help om die Nuwe Jerusalem te identifiseer

  1.   Die Nuwe Jerusalem is in die hemel. Elke keer wanneer die Bybel Nuwe Jerusalem noem, sê dit dat dit uit die hemel kom, waar engele die stad se poorte bewaak (Openbaring 3:12; 21:2, 10, 12). Die feit dat die stad so groot is, wys dat dit nie op die aarde kan wees nie. Die stad lê vierkantig en die lengte, hoogte en breedte is gelyk. Die omtrek van die stad is “twaalfduisend stadie” (Openbaring 21:16). a Die kante sou dan amper 560 kilometer hoog wees, tot in die ruimte.

  2.   Die Nuwe Jerusalem bestaan uit ’n groep van Jesus se volgelinge, die bruid van Christus. Die Nuwe Jerusalem word “die bruid, die Lam se vrou” genoem (Openbaring 21:9, 10). In hierdie simboliese beskrywing verwys die Lam na Jesus Christus (Johannes 1:29; Openbaring 5:12). “Die Lam se vrou”, Christus se bruid, verteenwoordig Christene wat saam met Jesus in die hemel sal wees. Die Bybel vergelyk die verhouding tussen Jesus en hierdie Christene, met ’n man en vrou wat getroud is (2 Korintiërs 11:2; Efesiërs 5:23-25). “Die twaalf name van die twaalf apostels van die Lam” is ook op die fondamentstene van die Nuwe Jerusalem geskryf (Openbaring 21:14). Hierdie detail help ons om vas te stel wie die Nuwe Jerusalem is omdat Christene wat hemel toe gaan “op die fondament van die apostels en profete” gebou is. — Efesiërs 2:20.

  3.   Die Nuwe Jerusalem is deel van ’n regering. Jerusalem van die outyd was die hoofstad van Israel. Dit is die plek waar koning Dawid, sy seun Salomo en hulle nakomelinge “op Jehovah se troon” regeer het (1 Kronieke 29:23). Jerusalem, wat “die heilige stad” genoem word, het God se heerskappy verteenwoordig deur Dawid se geslagslyn (Nehemia 11:1). Die Nuwe Jerusalem, wat ook “die heilige stad” genoem word, bestaan uit diegene wat saam met Jesus in die hemel “as konings oor die aarde” sal regeer. — Openbaring 5:9, 10; 21:2.

  4.   Die Nuwe Jerusalem bring seëninge vir die mense op aarde. Die Nuwe Jerusalem ‘daal van God af uit die hemel neer’, wat wys dat God dit gebruik om sake buite die hemel te beïnvloed (Openbaring 21:2). Hierdie uitdrukking verbind die Nuwe Jerusalem met God se Koninkryk, wat God gebruik om sy wil te laat gebeur “in die hemel, [en] ook op die aarde” (Matteus 6:10). God se voorneme met mense op die aarde sluit die volgende seëninge in:

    •   Sonde word weggeneem. “’n Rivier van water van die lewe” vloei uit die Nuwe Jerusalem en gee water aan “bome van die lewe” wat “vir die genesing van die nasies” is (Openbaring 22:1, 2). Hierdie fisiese en geestelike genesing sal sonde wegneem en mense help om volmaakte lewe te kry, soos God oorspronklik wou gehad het. — Romeine 8:21.

    •   ’n Goeie verhouding tussen God en die mens. Sonde het die mens se verhouding met God beskadig (Jesaja 59:2). Wanneer sonde weggeneem word, sal die volgende profesie heeltemal vervul word: “Die tent van God is by die mensdom, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees.” — Openbaring 21:3.

    •   Die einde van swaarkry en die dood. Deur middel van God se Koninkryk sal hy “elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie.” — Openbaring 21:4.

a ’n Stadie is deur die Romeine gebruik om lengte te meet en is gelyk aan 185 meter.