Spring na inhoud

Wat sê die Bybel oor alkohol? Is dit ’n sonde om dit te drink?

Wat sê die Bybel oor alkohol? Is dit ’n sonde om dit te drink?

Die Bybel se antwoord

 Dit is nie ’n sonde om alkohol in matigheid te drink nie. Die Bybel beskryf wyn as ’n gawe van God wat tot ons genot in die lewe kan bydra (Psalm 104:14, 15; Prediker 3:13; 9:7). Die Bybel erken ook dat wyn genesende waarde het.​—1 Timoteus 5:23.

 Jesus het wyn gedrink toe hy op die aarde was (Matteus 26:29; Lukas 7:34). Een van Jesus se welbekende wonderwerke was dat hy by ’n huweliksfees water in wyn verander het as ’n ruimhartige geskenk.​—Johannes 2:1-10.

Die gevare van oormatige drinkery

 Hoewel die Bybel melding maak van die positiewe aspekte van wyn, veroordeel dit oormatige drinkery en dronkenskap. ’n Christen wat alkohol drink, moet dit dus net in matigheid doen (1 Timoteus 3:8; Titus 2:2, 3). Die Bybel gee verskeie redes waarom oormatige drinkery vermy moet word.

  •   Dit belemmer denkvermoë en goeie oordeel (Spreuke 23:29-35). Iemand wat dronk is, kan nie die Bybel se bevel gehoorsaam om “julle liggaam aan te bied as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is, ’n heilige diens met julle denkvermoë” nie.​—Romeine 12:1.

  •   Om te veel te drink, verlaag inhibisies en “neem die goeie beweegrede weg”.​—Hosea 4:11; Efesiërs 5:18.

  •   Dit kan tot armoede en ernstige gesondheidsprobleme lei.​—Spreuke 23:21, 31, 32.

  •   God veroordeel strawwe drinkery en dronkenskap.​—Spreuke 23:20; Galasiërs 5:19-21.

Hoeveel is te veel?

 Iemand het te veel gedrink wanneer sy drinkery hom of ander in gevaar stel. Volgens die Bybel behels dronkenskap nie noodwendig dat ’n mens weens strawwe drinkery bewusteloos raak nie, maar ook dat ’n mens gedisoriënteerd is, wankelend loop, stryerig raak of sukkel om duidelik te praat (Job 12:25; Psalm 107:27; Spreuke 23:29, 30, 33). Selfs diegene wat nie dronk raak nie, kan “beswaar word met ... strawwe drinkery” en die ernstige gevolge daarvan ondervind.​—Lukas 21:34, 35.

Algehele onthouding

 Die Bybel praat ook van gevalle waar Christene glad nie alkohol moet drink nie:

  •   As dit ander sou struikel.​—Romeine 14:21.

  •   As dit in stryd is met die landswet.​—Romeine 13:1.

  •   As ’n persoon nie kan beheer hoeveel hy drink nie. Diegene wat aan alkoholisme en ander vorme van alkoholmisbruik ly, moet bereid wees om drastiese veranderinge aan te bring.​—Matteus 5:29, 30.