Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Hoe het eertydse skeepsbouers hulle vaartuie waterdig gemaak?

Lionel Casson, ’n deskundige op die gebied van eertydse skepe, verduidelik wat skeepsbouers in Romeinse tye gedoen het nadat hulle die nate tussen die planke van hulle vaartuie toegestop het. Hulle het gewoonlik “pik [asfalt] of pik en was aan die nate of selfs aan die hele buitekant van die skeepsromp gesmeer, sowel as ’n laag pik aan die binnekant”. Lank voor die Romeine het die eertydse Akkadiërs en Babiloniërs ook asfalt gebruik om hulle vaartuie waterdig te maak.

Vloeibare asfalt soos dié in die foto was volop in Bybellande

Die Hebreeuse Geskrifte verwys in Genesis 6:14 na ’n soortgelyke tegniek. Die Hebreeuse woord wat hier met “teer” vertaal word, verwys blykbaar na asfalt, ’n petroleumstof wat vry in die natuur voorkom.

Natuurlike asfalt kom in twee vorme voor—’n vloeibare en ’n vaste vorm. Eertydse skeepsbouers het vloeibare asfalt gebruik; hulle het dit net so aan hulle vaartuie gesmeer. Nadat dit aangesmeer is, het die vloeibare asfalt droog en hard geword sodat dit ’n waterdigte laag gevorm het.

Asfalt was volop in Bybellande. Die Siddimlaagvlakte, in die Dooie See-gebied, “was die een asfaltput op die ander”.—Genesis 14:10.

Watter metodes is in die ou tyd gebruik om vis te preserveer?

Vis is al baie lank ’n belangrike voedselsoort. Party van Jesus se apostels was vissermanne op die See van Galilea voordat hulle saam met Jesus begin reis het (Matteus 4:18-22). Van die vis wat daar gevang is, is in nabygeleë “fabrieke” verwerk.

Houtsneewerk wat eertydse egiptiese vissermanne uitbeeld

Die tegniek wat waarskynlik in eertydse Galilea gebruik is om vis te preserveer, word nog steeds op party plekke gebruik. Eers word die vis se ingewande uitgehaal, en die vis word in water gewas. Die boek Studies in Ancient Technology beskryf die stappe wat hierop volg: “Growwe sout word dan in die kieue, mond en skubbe ingevryf. Afwisselende lae sout en vis word in droë matwerk toegedraai. Nadat dit 3-5 dae lank gestaan het, word die hoop omgekeer, waarna dit weer so lank staan. Gedurende hierdie proses droog die vis uit en trek die sout in die vis in. Nadat dit gedroog is, is dit ferm en hard.”

Dit is nie bekend hoe lank vis gehou het as dit so gepreserveer is nie. Maar die feit dat die eertydse Egiptenare gepreserveerde vis na Sirië uitgevoer het, toon dat die metodes wat gebruik is, redelik goed gewerk het.