Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kan jy die onsigbare God sien?

Kan jy die onsigbare God sien?

“GOD is ’n Gees”, onsigbaar vir menseoë (Johannes 4:24). Maar die Bybel sê dat sommige mense God in ’n sekere sin gesien het (Hebreërs 11:27). Hoe is dit moontlik? Kan jy werklik “die onsigbare God” sien?—Kolossense 1:15.

Vergelyk ons situasie met dié van iemand wat blind gebore is. Kan hy die wêreld om hom glad nie verstaan nie omdat hy blind is? Nee. Iemand wat blind is, ontvang inligting op verskillende maniere, wat hom help om mense, voorwerpe en bedrywighede om hom waar te neem. “Sig is nie in die oë nie”, het ’n blinde man gesê. “Dit is in die verstand.”

Net so kan jy God nie met jou letterlike oë sien nie, maar jy kan hom met “die oë van [jou] hart” sien (Efesiërs 1:18). Kyk na drie maniere waarop jy dit kan doen.

“VAN DIE WÊRELD SE SKEPPING AF DUIDELIK GESIEN”

Iemand wat blind is, het dikwels ’n beter gehoor- en tassin, wat hy gebruik om die dinge waar te neem wat hy nie kan sien nie. Net so kan jy jou fisiese sintuie gebruik om die wêreld om jou te ondersoek en die onsigbare God wat dit geskep het, waar te neem. “Sy onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is.”—Romeine 1:20.

Dink byvoorbeeld aan ons tuiste. Die aarde is uniek, aangesien dit nie bloot ontwerp is sodat ons ’n bestaan kan maak nie, maar sodat ons die lewe kan geniet. Wanneer ons ’n ligte briesie voel, die hitte van die son geniet, ’n sappige vrug eet of strelende voëlgesang hoor, verskaf dit ons genot. Toon hierdie gawes nie ons Skepper se bedagsaamheid, teerheid en vrygewigheid nie?

Wat kan jy omtrent God leer uit wat jy in die fisiese heelal sien? Om maar een ding te noem, die hemele openbaar God se krag. Onlangse wetenskaplike bewyse dui nie net daarop dat die heelal uitdy nie, maar ook dat hierdie uitdying al hoe vinniger plaasvind! Wanneer jy na die sterrehemel kyk, kan jy jou afvra: Waar kom die energie vandaan wat die uitdying van die heelal beheer sowel as hoe vinnig hierdie uitdying plaasvind? Die Bybel dat die Skepper ’n “oorvloed van dinamiese energie” het (Jesaja 40:26). God se skepping toon dat hy “die Almagtige” is—die Een wat “verhewe in krag” is.—Job 37:23.

“[HY] HET HOM VERKLAAR”

’n Ma met twee blinde kinders sê: “Spraak is een van die belangrikste aspekte van hulle leerproses. Vertel hulle alles wat jy sien en hoor, [en] wees bereid om dit heeltyd te doen. Jy is hulle oë.” So ook het “geen mens . . . God ooit gesien nie”, maar God se Seun, Jesus, “wat in die boesemposisie by die Vader is, dié het hom verklaar” (Johannes 1:18). As God se eerste skeppingswerk en enigverwekte Seun het Jesus ons “oë” geword om in die hemel in te kyk. Hy is die beste bron van inligting oor die onsigbare God.

Let op ’n paar van die dinge wat Jesus, wat tallose eeue saam met sy Vader deurgebring het, omtrent God verduidelik het:

  • God werk onvermoeid. “My Vader het tot nou toe aangehou werk.”—Johannes 5:17.

  • God weet wat ons behoeftes is. “Julle Vader weet watter dinge julle nodig het nog voordat julle hom vra.”—Matteus 6:8.

  • God voorsien goedgunstiglik in ons behoeftes. “Julle Vader wat in die hemele is, [laat] sy son . . . opgaan  oor goddeloses en goeies en . . . laat [dit] reën op regverdiges en onregverdiges.”—Matteus 5:45.

  • God beskou ons elkeen as kosbaar. “Word twee mossies nie vir ’n muntstuk van geringe waarde verkoop nie? Tog sal nie een van hulle sonder julle Vader se wete op die grond val nie. Maar selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dus nie vrees nie: julle is meer werd as baie mossies.”—Matteus 10:29-31.

’N MENS WAT DIE ONSIGBARE GOD WEERSPIEËL HET

Blinde mense verstaan begrippe dikwels op ’n ander manier as mense wat kan sien. Vir iemand wat blind is, is ’n skaduwee dalk nie ’n donker plek sonder sonlig nie, maar ’n koel plek wat beskutting bied teen die son se hitte. Net soos iemand wat heeltemal blind is, nie skaduwee of sonlig kan sien nie, kan ons nie op ons eie ’n begrip van Jehovah verkry nie. Jehovah het dus ’n mens voorsien wat Sy eienskappe en persoonlikheid volmaak weerspieël het.

Hierdie mens was Jesus (Filippense 2:7). Jesus het nie net oor sy Vader gepraat nie, maar het ook getoon watter soort persoon God is. Jesus se dissipel Filippus het gesê: “Here, toon ons die Vader.” Jesus het hom geantwoord: “Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien” (Johannes 14:8, 9). Wat kan jy omtrent die Vader “sien” as jy Jesus se dade ondersoek?

Jesus was liefdevol, nederig en toeganklik (Matteus 11:28-30). Sy verkwikkende persoonlikheid het mense na hom toe aangetrek. Jesus het die pyn gevoel wat ander gevoel het, en hy het in hulle vreugde gedeel (Lukas 10:17, 21; Johannes 11:32-35). Wanneer jy Bybelverslae oor Jesus lees of hoor, moet jy jou sintuie inspan en jou in die gebeure inleef. As jy nadink oor die manier waarop Jesus met mense gehandel het, sal jy God se wonderlike persoonlikheid duideliker kan sien en tot Hom aangetrokke voel.

SIT DIE STUKKIES BYMEKAAR

’n Skrywer sê oor die manier waarop iemand wat blind is, die wêreld ondervind: “Hy of sy ontvang inligting in stukkies en brokkies, uit verskeie bronne (aanraking, reuk, gehoor, ensovoorts), en moet hierdie inligting op die een of ander manier saamvoeg om ’n geheel te vorm.” Wanneer jy God se skeppingswerke sien, lees wat Jesus oor sy Vader gesê het en die manier ontleed waarop Jesus God se eienskappe weerspieël het, sal ’n pragtige prentjie van Jehovah eweneens ontvou. Hy sal vir jou werkliker word.

Job, wat in die ou tyd gelewe het, het dit ondervind. Hy het eers gepraat “sonder om begrip te hê” (Job 42:3). Maar nadat Job God se skeppingswonders noukeurig ondersoek het, is hy beweeg om te sê: “Van hoorsê het ek van u gehoor, maar nou sien my eie oog u.”—Job 42:5.

‘As jy Jehovah soek, sal hy hom deur jou laat vind’

Dit kan ook met jou die geval wees. “As jy [Jehovah] soek, sal hy hom deur jou laat vind” (1 Kronieke 28:9). Jehovah se Getuies sal jou met graagte help om die onsigbare God te soek en te vind.