Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leer jou kinders

Voel jy ooit eensaam en bang?

Voel jy ooit eensaam en bang?

VANDAG voel baie mense eensaam; hulle voel dat niemand werklik vir hulle omgee nie. Ouer mense voel dikwels so. Maar baie kinders wat vandag lewe, selfs baie wat God dien, voel ook eensaam en bang. Weet jy hoekom? *

Daar kan baie redes wees daarvoor. Kom ons neem die voorbeeld van ’n man wat lank gelede gelewe het—amper duisend jaar voordat Jesus gebore is. Sy naam was Elia. Hy het gelewe in ’n tyd toe mense in die nasie Israel opgehou het om die ware God, Jehovah, te dien. Die meeste mense het die valse god Baäl begin aanbid. Elia het gesê: ‘Ek het alleen oorgebly.’ Maar dink jy dat Elia regtig die enigste een was wat nog vir Jehovah gedien het?

Al het Elia dit nie besef nie, het ander in Israel die ware God nog aanbid. Maar hulle het almal weggekruip. Hulle was bang. Weet jy hoekom?

Agab, die koning van Israel, het Jehovah nie gedien nie; hy het Baäl aanbid, die valse god van Agab se goddelose vrou, Isebel. Daarom het sy en Agab probeer om die mense wat Jehovah dien, veral Elia, te vind en dood te maak. Dit is waarom Elia weggehardloop het. Hy het byna 483 kilometer ver gegaan, tot in die woestyn, na Horeb, ’n plek wat in die Bybel ook Sinai genoem word. Daar het Jehovah sy volk, honderde jare voor Elia se tyd, die Tien Gebooie en die res van sy Wet gegee. Elia het alleen in ’n grot in Horeb weggekruip. Dink jy Elia het rede gehad om bang te wees?

Die Bybel toon dat Jehovah Elia vroeër gebruik het om groot wonderwerke te verrig. Jehovah het eenkeer Elia se gebed verhoor deur vuur uit die hemel te stuur om ’n offerande te verteer. So het Jehovah bewys dat Hy, en nie Baäl nie, die ware God is. Nou, terwyl Elia in die grot was, het Jehovah met hom gepraat.

“Wat maak jy hier?” het Jehovah gevra. Dit was toe dat Elia gesê het: ‘Ek het alleen oorgebly uit die mense wat u aanbid.’ Jehovah het Elia toe liefdevol reggehelp deur te sê: ‘Ek het nog seweduisend wat my dien’. Jehovah het vir Elia gesê om terug te gaan en het verduidelik dat Hy nog werk vir hom het om te doen.

Wat dink jy kan ons uit Elia se voorbeeld leer?— Selfs mense wat Jehovah dien, is soms bang. Ons almal, jonk sowel as oud, moet dus onthou om Jehovah te vra om ons te help. Die Bybel belowe: “Jehovah is naby almal wat hom aanroep.”

Daar is nog ’n les: Ons het oral in die wêreld broers en susters wat vir Jehovah en vir ons lief is. Die Bybel sê: “Dieselfde dinge in die vorm van lyding [word] in die hele gemeenskap van [ons] broers in die wêreld veroorsaak.” Is jy nie bly om te weet dat ons nooit regtig alleen is nie?

^ par. 3 As jy saam met ’n kind lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en die kind aan te moedig om sy gedagtes uit te spreek.