Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

WAT het ’n antisosiale punkrocker beweeg om te leer om mense lief te hê en die inisiatief te neem om ander te help? Wat het ’n man in Mexiko gemotiveer om ’n onsedelike lewenswyse te laat vaar? Waarom het een van Japan se voorste renfietsryers opgehou om deel te neem aan fietswedrenne sodat hy God kan dien? Kyk na wat hierdie mense sê.

‘Ek was ’n onbeskofte, arrogante, aggressiewe mens.’—DENNIS O’BEIRNE

GEBORE: 1958

GEBOORTELAND: ENGELAND

GESKIEDENIS: ANTISOSIALE PUNKROCKER

MY VERLEDE: My pa se kant van die familie is Iers, en ek het as ’n Ierse Katoliek grootgeword. Maar ek moes gewoonlik alleen kerk toe gaan, en ek het nie die kerkdienste geniet nie. Ek het nogtans ’n honger na geestelike dinge gehad. Ek het die Onse Vader gereeld opgesê, en ek kan onthou hoe ek saans in die bed gelê en dink het oor wat dit beteken. Ek het dit in verskillende dele opgebreek en probeer uitwerk wat elke deel beteken.

In my middeltienerjare was ek betrokke by die Rastafariese beweging. Ek het ook belanggestel in politieke bewegings soos die Anti-Nazi-Bond. Maar die opstandige gesindheid van die punkrock-beweging het ’n groot invloed op my gehad. Ek het dwelms gebruik, veral dagga, wat ek amper elke dag gerook het. Ek het ’n traak-my-nie-agtige gesindheid ontwikkel, straf gedrink, lewensgevaarlike dinge gedoen en min vir ander mense omgegee. Ek was antisosiaal en het skaars met enigiemand gepraat tensy ek die gesprek as betekenisvol beskou het. Ek het selfs geweier dat enigiemand ’n foto van my neem. Wanneer ek nou terugkyk, kan ek sien dat ek ’n onbeskofte, arrogante, aggressiewe mens was. Ek was nie vriendelik en vrygewig teenoor enigiemand behalwe dié wat na aan my was nie.

Toe ek omtrent 20 was, het ek in die Bybel begin belangstel. ’n Vriend wat ’n dwelmsmous was, het die Bybel begin lees toe hy in die tronk was, en ons het ’n lang gesprek oor godsdiens, die Kerk en Satan se rol in die wêreld gehad. Ek het ’n Bybel gekoop en dit op my eie begin studeer. Ek en my vriend het dele van die Bybel gelees, bymekaargekom om te bespreek wat ons geleer het en dan gevolgtrekkings gemaak. Dit het maande lank aangehou.

Hier is ’n paar van die gevolgtrekkings wat ons gemaak het na aanleiding van wat ons gelees het: dat ons in die laaste dae van hierdie wêreld lewe; dat Christene die goeie nuus van God se Koninkryk moet verkondig; dat hulle geen deel van hierdie wêreld, insluitende die politiek, moet wees nie en dat die Bybel betroubare sedelike leiding voorsien. Ons kon duidelik sien dat die Bybel waar is en dat daar ’n ware godsdiens moet wees. Maar watter een was dit? Ons het aan die hoofstroomkerke gedink, met hulle prag en praal asook hulle betrokkenheid by die politiek, en ons het gesien dat Jesus glad nie so was nie. Ons het geweet dat God hulle nie gebruik nie, en daarom het ons besluit om van die minder bekende godsdienste te ondersoek om te sien wat hulle bied.

Ons het met lede van sulke godsdienste gaan praat en hulle ’n paar vrae gevra. Ons het geweet wat die Bybel oor elke vraag sê, en ons kon dus maklik sien of hulle antwoorde in ooreenstemming met God se Woord is. Ná sulke gesprekke het ek altyd tot God gebid: ‘As dié mense die ware godsdiens verteenwoordig, gee my asseblief die begeerte om hulle weer te sien.’ Maar nadat ons maande lank sulke gesprekke gehad het, het ek nog steeds nie ’n groep gevind wat ons vrae uit die Bybel beantwoord het nie; en ek het ook nie die begeerte gehad om enige van hulle weer te sien nie.

Uiteindelik het ek en my vriend met Jehovah se Getuies in aanraking gekom. Ons het hulle dieselfde vrae as gewoonlik gevra, maar hulle het uit die Bybel geantwoord. Wat hulle gesê het, het heeltemal gestrook met wat ons reeds geleer het. Daarom het ons ook vrae gevra waarop ons nog nie antwoorde in die Bybel gevind het nie—byvoorbeeld oor God se beskouing van rook en dwelms. Hulle kon ons weer eens uit God se Woord antwoord. Ons het ingestem om ’n vergadering by die Koninkryksaal by te woon.

Dit was vir my moeilik om na ’n vergadering toe te gaan. Ek was so antisosiaal dat ek nie daarvan gehou het dat al daardie vriendelike, netjies geklede mense met my kom praat nie. Ek het verkeerde beweegredes aan party van hulle toegeskryf, en ek wou nie weer ’n vergadering bywoon nie. Maar soos gewoonlik het ek gebid en God gevra om my die begeerte te gee om hierdie mense weer te sien as hulle die ware godsdiens verteenwoordig, en ek het toe ’n oorweldigende begeerte gehad om die Bybel saam met die Getuies te studeer.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Ek het geweet dat ek moet ophou om dwelms te gebruik, en ek het dit maklik reggekry. Die groot probleem was sigarette. Ek het ’n hele paar keer probeer ophou rook, maar tevergeefs. Toe ek gehoor het van ander wat hulle sigarette eenvoudig weggegooi het en nooit weer gerook het nie, het ek met Jehovah oor die saak gepraat. Daarna kon ek, met Jehovah se hulp, ophou rook. Ek het geleer hoe belangrik dit is om eerlik en openlik met Jehovah in gebed te praat.

Nog ’n groot verandering wat ek gemaak het, het te doen gehad met my kleredrag en persoonsversorging. Toe ek die eerste keer ’n vergadering by die Koninkryksaal bygewoon het, het ek ’n punterige haarstyl met ’n poublou streep daarin gehad. Later het ek dit helderoranje gekleur. Ek het jeans en ’n leerbaadjie met slagspreuke daarop gedra. Al het die Getuies vriendelik met my geredeneer, kon ek nie sien waarom ek moes verander nie. Maar uiteindelik het ek oor 1 Johannes 2:15-17 nagedink: “Moenie die wêreld of die dinge in die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde vir die Vader nie in hom nie.” Ek het tot die slotsom gekom dat my voorkoms liefde vir hierdie wêreld te kenne gee en dat ek moet verander as ek my liefde vir God wil toon. Dit is wat ek gedoen het.

Mettertyd het ek besef dat dit nie net die Getuies is wat wil hê dat ek Christelike vergaderinge moet bywoon nie. Hebreërs 10:24, 25 het vir my getoon dat dit iets is wat God wil hê ek moet doen. Nadat ek begin het om al die vergaderinge by te woon en die mense werklik te leer ken, het ek besluit om my toewyding aan Jehovah te simboliseer deur gedoop te word.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Ek is diep geraak deur die feit dat Jehovah ons toelaat om ’n hegte verhouding met hom te geniet. Sy medelye en sorg het my beweeg om soos hy te probeer wees en die voorbeeld van sy Seun, Jesus Christus, in my lewe te volg (1 Petrus 2:21). Ek het geleer dat ek my eie identiteit kan behou terwyl ek daarna streef om ’n Christelike persoonlikheid te hê. Ek het my ingespan om ’n liefdevolle gees aan te kweek. Ek probeer Christus navolg in die manier waarop ek my vrou en seun behandel. En ek is baie lief vir my broers en susters in die waarheid. Omdat ek Christus navolg, het ek nou waardigheid en selfrespek asook die vermoë om liefde aan ander te betoon.

“Hulle het my met waardigheid behandel.”—GUADALUPE VILLARREAL

GEBORE: 1964

GEBOORTELAND: MEXIKO

GESKIEDENIS: ONSEDELIKE LEWENSWYSE

MY VERLEDE: Ek was een van sewe kinders en het grootgeword in Hermosillo, in Sonora, Mexiko, ’n baie armoedige gebied. My pa is oorlede toe ek ’n klein seuntjie was, en my ma moes werk om ons te onderhou. Ek het gewoonlik kaalvoet geloop omdat ons nie geld gehad het om skoene te koop nie. Van jongs af moes ek werk om die gesin se onkoste te help dek. Soos baie ander gesinne het ons in ’n baie klein huisie gebly.

My ma was die grootste deel van die dag nie daar om ons te beskerm nie. Toe ek 6 was, het ’n 15-jarige my seksueel begin misbruik. Dit het lank aangehou. Een gevolg was dat ek seksueel baie verward geraak het. Ek het gedink dat dit normaal is om tot mans aangetrokke te voel. Wanneer ek dokters of geestelikes om hulp gevra het, het hulle my verseker dat ek geen probleem het nie en dat my gevoelens normaal is.

Toe ek 14 was, het ek besluit om openlik te wys dat ek ’n homoseksueel is. Ek het die volgende 11 jaar so gelewe en het selfs gedurende daardie tyd saam met etlike mans gebly. Later het ek ’n kursus geloop om ’n haarstilis te word en het ek ’n skoonheidsalon bestuur. Maar ek was ongelukkig. Ek het baie gely en gevoel dat ek misbruik word. Ek kon aanvoel dat wat ek doen, nie reg is nie. Ek het my begin afvra: ‘Is daar nog enige goeie en eerbare mense?’

Ek het aan my suster gedink. Sy het die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer en is uiteindelik gedoop. Sy het my vertel van wat sy geleer het, maar ek het my nie daaraan gesteur nie. Ek het haar nogtans bewonder vir haar lewe en haar huwelik. Ek kon sien dat sy en haar man mekaar werklik liefhet en respekteer. Hulle het mekaar goed behandel. Mettertyd het een van Jehovah se Getuies die Bybel met my begin studeer. Aan die begin was ek nie baie entoesiasties daaroor nie. Toe het dinge verander.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Die Getuies het my na een van hulle vergaderinge genooi, en ek het gegaan. Dit was vir my ’n nuwe ondervinding. Mense het my gewoonlik gespot, maar nie die Getuies nie. Hulle het my vriendelik gegroet, en hulle het my met waardigheid behandel. Dit het my geraak.

Die Getuies het my selfs meer beïndruk toe ek ’n byeenkoms bygewoon het. Ek het gesien dat hierdie mense selfs in groot groepe soos my suster is—ongeveins en opreg. Ek het my afgevra of dít die groep goeie en eerbare mense is wat ek so lank al soek. Hulle liefde en eenheid het my beïndruk, asook die feit dat hulle die Bybel gebruik om elke vraag te beantwoord. Ek het besef dat die Bybel die krag ten goede in hulle lewe is. Ek het ook gesien dat ek baie veranderinge sou moes maak om een van hulle te word.

Trouens, ek moes heeltemal verander omdat ek as ’n vrou gelewe het. My spraak, maniertjies, kleredrag, haarstyl en vriende moes alles verander. My voormalige vriende het my begin spot en gesê: “Hoekom doen jy dit? Daar was niks fout met jou nie. Moenie die Bybel bestudeer nie. Jy het dan alles.” Die moeilikste ding om te verander, was egter my onsedelike lewenswyse.

Ek het nogtans geweet dat dit moontlik is om groot veranderinge te maak, want die Bybel se woorde in 1 Korintiërs 6:9-11 het my hart geraak: “Wat! Weet julle nie dat onregverdiges God se koninkryk nie sal beërf nie? Moenie mislei word nie. Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of mans wat vir onnatuurlike doeleindes aangehou word of mans wat by mans lê . . . , sal God se koninkryk beërf nie. En tog is dit wat party van julle was. Maar julle is skoon gewas.” Jehovah het mense destyds gehelp om veranderinge te maak, en hy het my ook gehelp. Dit het ’n hele paar jaar en groot inspanning geverg, maar die raad en liefde van die Getuies het my baie gehelp.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Vandag lei ek ’n normale lewe. Ek is getroud, en ek en my vrou leer ons seun om volgens Bybelbeginsels te lewe. Ek het my vorige lewe heeltemal agtergelaat, en ek geniet baie geestelike seëninge en voorregte. Ek dien as ’n ouer man in die gemeente, en ek kon ander help om die waarheid van God se Woord te leer. My ma was so bly oor die veranderinge wat ek in my lewe gemaak het dat sy ingestem het tot ’n Bybelstudie en later ’n gedoopte Christen geword het. Een van my susters wat ’n onsedelike lewe gelei het, het ook een van Jehovah se Getuies geword.

Selfs party wat my in my vorige lewe geken het, sien dat ek nou ’n beter mens is. En ek weet wat die rede vir hierdie veranderinge is. In die verlede het ek professionele hulp gesoek maar net slegte raad gekry. Maar Jehovah het my werklik gehelp. Hoewel ek onwaardig gevoel het, het hy my raakgesien en my met liefde en geduld behandel. Die feit dat so ’n wonderlike, intelligente, liefdevolle God my raakgesien het en wou hê dat ek ’n beter lewe moes geniet, het die deurslag gegee.

“Ek het ontevrede, eensaam en leeg gevoel.”—KAZOEHIRO KOENIMOTSJI

GEBORE: 1951

GEBOORTELAND: JAPAN

GESKIEDENIS: RENFIETSRYER

MY VERLEDE: Ek het in ’n stil kusdorpie in die Sjizoeoka-prefektuur, Japan, grootgeword, waar ons gesin van agt in ’n klein huisie gewoon het. My pa het ’n fietswinkel bestuur. Van kleins af het hy my na fietswedrenne geneem en my belangstelling in die sport geprikkel. My pa het op daardie stadium planne vir my begin maak om ’n professionele renfietsryer te word. Toe ek nog in junior hoërskool was, het hy my in alle erns begin afrig. Op hoërskool het ek drie jaar agtermekaar ’n titel verwerf in die jaarlikse nasionale sporttoernooi. Ek het ’n aanbod ontvang om universiteit toe te gaan, maar het besluit om direk na ’n fietswedrenskool toe te gaan. Toe ek 19 was, het ek ’n professionele renfietsryer geword.

Teen daardie tyd was dit my doel in die lewe om die beste renfietsryer in Japan te word. Ek was van plan om baie geld te maak sodat ek vir my gesin ’n veilige en stabiele lewe kon gee. Ek het met hart en siel geoefen. Wanneer ek gevoel het dat die strawwe oefenprogram of ’n moeilike deel van ’n wedren vir my te veel word, het ek oor en oor vir myself gesê dat ek gebore is om ’n renfietsryer te wees en dat ek maar net moet deurdruk! En ek het. My harde werk het begin vrug dra. In my eerste jaar het ek die titel vir nuwelinge ingepalm. In my tweede jaar het ek gekwalifiseer vir die wedren wat bepaal wie Japan se toprenfietsryer is. Ek het ses keer tweede gekom in daardie wedren.

Aangesien ek altyd een van die pryswenners was, het ek bekend geword as die sterk bene van Tokai, ’n gebied in Japan. Ek was baie mededingend. Mettertyd het ander my begin vrees, want ek was genadeloos in die wedrenne. My inkomste het toegeneem, en ek het agtergekom dat ek kan koop net wat ek wil. Ek het ’n huis gekoop met ’n oefenkamer wat toegerus was met die beste masjiene. Ek het ’n ingevoerde motor gekoop wat amper soveel soos ’n huis gekos het. Vir sekuriteit het ek my geld in eiendom en die aandelemark begin belê.

Maar ek het ontevrede, eensaam en leeg gevoel. Teen daardie tyd was ek getroud en het ek kinders gehad, maar ek was dikwels ongeduldig met my gesin. Ek het oor klein dingetjies my humeur teenoor my vrou en kinders verloor. Hulle het my gesigsuitdrukkings senuweeagtig begin dophou om te sien of ek al weer in ’n slegte bui was.

Maar later het my vrou die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Dit het tot baie veranderinge gelei. Sy het gesê dat sy die vergaderinge van die Getuies wil bywoon, en daarom het ek besluit dat ons dit as ’n gesin sou doen. Ek kan nog die aand onthou toe ’n ouer man my by die huis besoek en die Bybel met my begin studeer het. Wat ek geleer het, het ’n groot indruk op my gemaak.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Ek sal nooit vergeet hoe dit my geraak het toe ek Efesiërs 5:5 gelees het nie. Dit sê dat “geen hoereerder of onreine of gierigaard—wat beteken om ’n afgodedienaar te wees—enige erfenis in die koninkryk van die Christus en van God het nie”. Ek kon sien dat fietswedrenne hand aan hand gaan met dobbelary en dat die sport ’n gierige gees aanmoedig. Dit het my gewete gepla. Ek het besef dat ek sou moes ophou om resies te jaag as ek Jehovah God wil behaag. Maar dit was vir my ’n moeilike besluit.

Dit was aan die einde van die bevredigendste jaar van my fietsrenloopbaan, en ek het na meer gesmag. Maar ek het gevind dat ek in ’n vreedsame, kalm gemoedstemming was wanneer ek die Bybel bestudeer het—baie anders as die gees wat ek nodig gehad het om wedrenne te wen! Nadat ek begin studeer het, het ek aan nog net drie wedrenne deelgeneem, maar in my hart het ek nog nie heeltemal afgesien van resies jaag nie. Ek het ook geen idee gehad hoe ek my gesin sou onderhou nie. Ek het vasgekeer gevoel en kon nie vorentoe of agtertoe nie, en my familielede het my opdraand begin gee oor my nuwe geloof. My pa was bitter teleurgesteld. Ek het verdeeld gevoel, al hoe meer gespanne geraak en ’n maagseer ontwikkel.

Wat my deur hierdie moeilike tyd gehelp het, is die feit dat ek aangehou het om die Bybel te bestudeer en die vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon. My geloof het sterker geword. Ek het Jehovah gevra om my gebede te verhoor en om my te help sien dat hy dit wel doen. Ek het selfs minder stres gevoel toe my vrou my verseker dat sy nie in ’n groot huis moet woon om gelukkig te wees nie. Ek het stadig maar seker vordering gemaak.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Ek het geleer dat Jesus se woorde in Matteus 6:33 werklik waar is. Hy het gesê: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.” Ons het nooit die “ander dinge” waarna Jesus verwys het, die basiese lewensbenodigdhede, kortgekom nie. Hoewel my inkomste omtrent ’n 30ste is van wat ek as ’n renfietsryer verdien het, het ek en my gesin die afgelope 20 jaar niks kortgekom nie.

Nog beter, wanneer ek saam met medegelowiges werk of aanbid, vind ek vreugde en bevrediging wat ek nooit geken het nie. Die dae vlieg eenvoudig verby. My gesinslewe het ook baie verbeter. Al drie my seuns en hulle vrouens het getroue knegte van Jehovah geword.