Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Ek het geglo”

“Ek het geglo”

 Volg hulle geloof na

“Ek het geglo”

MARTA kon dit voor haar geestesoog sien—haar broer se graf, ’n grot met ’n klip voor die ingang. Haar droefheid was so koud en swaar soos daardie klip. Sy kon skaars glo dat haar geliefde Lasarus nie meer daar is nie. Die vier dae vandat hy sy laaste asem uitgeblaas het, was ’n waas van droefheid, besoekers en betuigings van meegevoel.

En nou het die man wat vir Lasarus die meeste beteken het, voor Marta gestaan. Toe sy Jesus weer sien, het sy pynlik bewus geraak van haar droefheid, want hy was die enigste mens in die hele wêreld wat haar broer kon gered het. Nogtans het Marta ’n mate van vertroosting daaruit geput om hier saam met Jesus buite die klein heuweldorpie Betanië te wees. In die paar oomblikke saam met hom is sy weer eens geroer deur die geneentheid in sy oë, die opregte empatie wat altyd so aanmoedigend was. Hy het haar vrae gevra wat haar gehelp het om aan haar geloof en aan wat sy oor die opstanding glo, te dink. Die gesprek het Marta beweeg om een van die belangrikste dinge te sê wat ooit oor haar lippe sou kom: “Ek het geglo dat u die Christus is, die Seun van God, die Een wat in die wêreld inkom.”—Johannes 11:27.

Marta was ’n vrou met merkwaardige geloof. Die bietjie wat die Bybel ons van haar vertel, leer ons belangrike lesse wat ons kan help om ons eie geloof te versterk. Om te sien waarom dit die geval is, kom ons kyk na die eerste verslag oor Marta in die Bybel.

“Besorg en verontrus”

Dit was maande vroeër. Lasarus was gesond. Hy sou die allerbelangrikste besoeker, Jesus Christus, in sy huis in Betanië ontvang. Lasarus, Marta en Maria was ’n ongewone gesin—drie volwassenes uit dieselfde gesin wat klaarblyklik in dieselfde huis gewoon het. Party navorsers sê dat Marta moontlik die oudste van die drie was, aangesien sy blykbaar as gasvrou opgetree het en soms eerste genoem word (Johannes 11:5). Daar is geen manier om vas te stel of enige van die drie ooit getroud was nie. Hoe dit ook al sy, hulle het hegte vriende van  Jesus geword. Tydens sy bediening in Judea, waar hy voor soveel teenstand en vyandigheid te staan gekom het, het Jesus hulle huis as sy basis gebruik. Hy was ongetwyfeld baie dankbaar vir daardie hawe van vrede en ondersteuning.

Marta het baie bygedra tot die gerief en gasvryheid van die huishouding. Sy was ’n bedrywige, vlytige persoon wat blykbaar dikwels rondgeskarrel het om dinge gedoen te kry. Jesus se besoek was geen uitsondering nie. Sy het onmiddellik planne begin maak om ’n spesiale ete met baie disse vir haar geëerde gas en moontlik party van sy reisgenote voor te berei. Destyds was gasvryheid baie belangrik. Wanneer ’n gas ontvang is, is hy met ’n soen verwelkom, is sy sandale uitgetrek, sy voete gewas en sy kop met verfrissende, welriekende olie gesalf (Lukas 7:44-47). Alles moontlik moes gedoen word om hom van die beste verblyf en kos te voorsien.

Baie werk het vir Marta en Maria voorgelê. Maria, wat soms beskou word as die een wat meer sensitief en nadenkend was, het haar suster ongetwyfeld aan die begin gehelp. Maar nadat Jesus daar aangekom het, het dinge verander. Hy het die geleentheid beskou as ’n tyd om te onderrig—en dit is presies wat hy gedoen het! In teenstelling met die godsdiensleiers van daardie tyd, het Jesus vroue gerespekteer en hulle graag geleer oor God se Koninkryk, die tema van sy bediening. Maria was verheug oor hierdie geleentheid en het by sy voete gesit en elke woord ingedrink.

Ons kan ons net voorstel hoe die spanning in Marta se hart opgelaai het. Met al die disse wat sy moes voorberei en alles wat sy vir haar gaste moes doen, het sy al hoe meer gespanne en verontrus geraak. Het sy, terwyl sy rondgeskarrel het en gesien het hoe haar suster daar sit en niks doen om haar te help nie, op haar tande gekners, hardop gesug of gefrons? Dit sou nie verbasend gewees het nie. Sy kon nie al hierdie werk op haar eie doen nie!

Uiteindelik kon Marta haar frustrasie nie langer bedwing nie. Sy het Jesus in die rede geval en gesê: “Here, gee u nie om dat my suster my alleen na alles laat omsien nie? Sê dan vir haar om my te kom help” (Lukas 10:40). Dit was  sterk woorde. ’n Ander vertaling gee haar vraag soos volg weer: “Here, lyk dit darem nie vir U onregverdig . . . ?” Toe het sy vir Jesus gevra om Maria te berispe en haar aan te sê om weer met die werk te help.

Jesus se antwoord het Marta, asook baie ander Bybellesers sedertdien, dalk verbaas. Hy het saggies gesê: “Marta, Marta, jy is besorg en verontrus oor baie dinge. ’n Paar dinge is egter nodig, of net een. Wat Maria betref, sy het die goeie deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie” (Lukas 10:41, 42). Wat het Jesus bedoel? Het hy bedoel dat Marta materialisties was? Het hy ’n gebrek aan waardering getoon vir haar harde werk om ’n smaaklike ete voor te berei?

Nee. Jesus kon duidelik sien dat Marta uit liefde en met suiwer beweegredes opgetree het. Wat meer is, hy het nie gevoel dat selfs rojale gasvryheid noodwendig verkeerd is nie. Hy het die “groot onthaal” wat Matteus vroeër vir hom gehou het, met graagte bygewoon (Lukas 5:29). Marta se ete was hier nie die hoofsaak nie; dit was eerder haar prioriteite. Sy was so ingestel op haar groot ete dat sy die belangrikste saak uit die oog verloor het. Wat was dit?

Jesus, die enigverwekte Seun van Jehovah God, was in Marta se huis om mense die waarheid te leer. Niks, selfs nie haar smaaklike ete en voorbereidings, kon belangriker wees nie. Jesus was ongetwyfeld jammer dat Marta ’n unieke geleentheid om haar geloof te versterk, laat verbygaan het, maar hy het haar toegelaat om haar eie keuse te maak. Maar dit was iets heeltemal anders vir Marta om Jesus te vra om Maria te kry om ook die geleentheid prys te gee.

Hy het Marta dus liefdevol berispe en haar naam saggies herhaal om haar gespanne senuwees te kalmeer, en hy het haar verseker dat dit nie vir haar nodig is om ‘oor baie dinge besorg en verontrus’ te wees nie. ’n Eenvoudige ete van een of twee disse sou voldoende gewees het, veral wanneer ’n geestelike feesmaal beskikbaar was. Hy sou dus beslis nie “die goeie deel” wat Maria gekies het—naamlik om by Jesus te leer—van haar wegneem nie!

Christus se hedendaagse volgelinge kan baie uit hierdie huislike toneel leer. Ons moet nooit toelaat dat enigiets ons verhinder om ons “geestelike behoefte” te bevredig nie (Matteus 5:3). Hoewel ons Marta se vrygewigheid en vlytigheid wil navolg, wil ons nooit so “besorg en verontrus” raak oor die minder belangrike aspek van gasvryheid dat ons prysgee wat werklik belangrik is nie. Ons assosieer met medegelowiges hoofsaaklik vir wedersydse aanmoediging en om geestelike gawes te gee, nie om smaaklike kos voor te sit of te ontvang nie (Romeine 1:11, 12). Selfs die eenvoudigste ete kan so ’n opbouende geleentheid moontlik maak.

’n Geliefde broer sterf en word opgewek

Het Marta Jesus se liefdevolle berisping aanvaar en daaruit geleer? Ons hoef nie daaroor te wonder nie. Aan die begin van ’n opwindende verslag oor Marta se broer sê die apostel Johannes: “En Jesus het Marta en haar suster en Lasarus liefgehad” (Johannes 11:5). Maande het verbygegaan sedert Jesus se besoek aan Betanië wat hierbo beskryf word. Dit is duidelik dat Marta nie aanstoot geneem het nie; sy het nie ’n wrok teen Jesus gekoester weens sy liefdevolle raad nie. Sy het dit ter harte geneem. Ook in hierdie opsig het sy vir ons ’n uitstekende voorbeeld van geloof gestel, want wie van ons het nie van tyd tot tyd ’n bietjie raad nodig nie?

Toe Marta se broer siek geword het, het sy hard gewerk om hom te versorg. Sy het alles in haar vermoë gedoen om hom gemaklik te maak en hom te help om gesond te word. Nietemin het Lasarus al hoe sieker geword. Sy susters het uur ná uur en dag ná dag aan sy sy gebly om hom te versorg. Hoe dikwels het Marta in haar broer se uitgeteerde gesig gekyk en teruggedink aan al die jare wat hulle bymekaar was en die vreugde en hartseer wat hulle saam ondervind het?

Toe dit lyk of hulle niks meer vir Lasarus kon doen nie, het Marta en Maria ’n boodskap aan  Jesus gestuur. Hy het twee dagreise daarvandaan gepreek. Hulle boodskap was eenvoudig: “Here, kyk! die een vir wie u geneentheid het, is siek” (Johannes 11:1, 3). Hulle het geweet dat Jesus hulle broer liefhet, en hulle het geglo dat hy alles in sy vermoë sou doen om sy vriend te help. Het hulle bly hoop dat Jesus sou kom voordat dit te laat was? Indien wel, is hulle hoop verpletter. Lasarus het gesterf.

Marta en Maria het oor hulle broer getreur terwyl hulle na die voorbereidings vir sy begrafnis omgesien en al die gaste uit Betanië en omstreke ontvang het. Maar hulle het nog steeds niks van Jesus gehoor nie. Marta het ongetwyfeld al hoe meer hieroor gewonder namate die tyd verbygegaan het. Vier dae ná Lasarus se dood het Marta uiteindelik gehoor dat Jesus al naby die dorp is. Soos altyd het Marta, selfs in hierdie donker uur, tot aksie oorgegaan deur op te staan en, sonder om vir Maria te sê, inderhaas na Jesus uit te gaan.—Johannes 11:20.

Toe sy haar Heer sien, het sy die gedagte uitgespreek wat al dae lank in haar en Maria se koppe gemaal het: “Here, as u hier was, sou my broer nie gesterf het nie.” Maar Marta het nie haar hoop en geloof verloor nie. Sy het bygevoeg: “En tog weet ek selfs nou dat alles wat u van God vra, God vir u sal gee.” Jesus het onmiddellik iets gesê om haar hoop te versterk: “Jou broer sal opstaan.”—Johannes 11:21-23.

Omdat Marta gedink het dat Jesus van die toekomstige opstanding praat, het sy geantwoord: “Ek weet dat hy in die opstanding op die laaste dag sal opstaan” (Johannes 11:24). Haar geloof in hierdie lering was merkwaardig. Party Joodse godsdiensleiers, wat Sadduseërs genoem is, het ontken dat daar ’n opstanding sal wees, al is dit ’n duidelike lering in die geïnspireerde Skrif (Daniël 12:13; Markus 12:18). Marta het egter geweet dat Jesus mense van die opstandingshoop geleer het en dat hy selfs mense opgewek het—hoewel nie een van hulle so lank soos Lasarus dood was nie. Sy het nie geweet wat voorgelê het nie.

Jesus het toe iets onvergeetliks gesê: “Ek is die opstanding en die lewe.” Ja, Jehovah God het sy Seun die gesag gegee om in die toekoms mense regoor die wêreld op te wek. Jesus het vir Marta gevra: “Glo jy dit?” Toe het sy die antwoord gegee wat aan die begin van hierdie artikel bespreek is. Sy het geglo dat Jesus die Christus, of Messias, is, dat hy die Seun van Jehovah God is en dat die profete voorspel het dat hy in die wêreld sou inkom.—Johannes 5:28, 29; 11:25-27.

Heg Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus, waarde aan hierdie soort geloof? Die gebeure wat daarna voor Marta se oë afgespeel het, voorsien die duidelikste antwoord. Sy het haar suster inderhaas gaan haal. Toe het sy gesien dat Jesus diep ontroer is terwyl hy praat met Maria en al die ander wat saam met haar treur. Sy het gesien hoe trane in sy oë opwel toe hy vryelik uiting gee aan sy groot ontsteltenis oor die pyn wat deur die dood veroorsaak word. Sy het Jesus hoor sê dat die klip voor die ingang van haar broer se graf weggerol moet word.—Johannes 11:28-39.

Marta, wat soos altyd prakties was, het beswaar gemaak dat die liggaam teen dié tyd, vier dae ná die dood, al sleg sou ruik. Jesus het haar herinner: “Het ek nie vir jou gesê dat jy die heerlikheid van God sal sien as jy glo nie?” Sy het geglo, en sy het die heerlikheid van Jehovah God gesien. Hy het sy Seun daar en dan die krag gegee om Lasarus op te wek! Dink aan die oomblikke wat Marta tot aan die einde van haar lewe sou bybly: Jesus se gebiedende stem wat uitroep: “Lasarus, kom uit!”; die dowwe geluid uit die grot waarin Lasarus gelê is, toe die man opstaan en, nog toegedraai in grafdoeke, na die opening van die grot skuifel; Jesus se bevel: “Maak hom los en laat hom gaan”; en natuurlik die vreugdevolle omhelsing toe Marta en Maria hulle arms om hulle broer se nek gooi (Johannes 11:40-44). Marta se droefheid het verdwyn!

Hierdie verslag toon dat die opstanding van die dooies nie net wensdenkery is nie; dit is ’n hartverblydende Bybellering en ’n bewese geskiedkundige  feit. Jehovah en sy Seun beloon graag geloof, soos hulle in die geval van Marta, Maria en Lasarus gedoen het. Hulle hou sulke belonings ook vir jou uit as jy sterk geloof, soos dié van Marta, opbou. *

“Marta het bedien”

Die Bybelverslag noem Marta nog net een keer. Dit was die begin van die laaste week van Jesus se lewe op aarde. Jesus het goed geweet watter ontberinge vir hom voorlê en het weer na daardie toevlug in Betanië gegaan. Van daar af kon hy die drie kilometer na Jerusalem te voet aflê. Jesus en Lasarus het by die huis van Simon, die melaatse, ’n ete geniet, en in die verslag oor dié geleentheid vind ons hierdie laaste woorde oor Marta: “Marta het bedien.”—Johannes 12:2.

Hoe tipies van daardie vlytige vrou! Wanneer sy vir die eerste keer op die Bybeltoneel verskyn, werk sy; en wanneer die Bybelverslag haar die laaste keer noem, werk sy nog steeds en doen sy haar bes om na die behoeftes van diegene om haar om te sien. Gemeentes van Christus se hedendaagse volgelinge is geseënd om vroue soos Marta te hê—moedige en vrygewige persone wat altyd hulle geloof uitleef deur van hulleself te gee. Marta het heel waarskynlik voortgegaan om dit te doen. Indien wel, het sy verstandig opgetree, want sy sou nog baie ontberinge moes deurgaan.

Enkele dae daarna moes Marta die verskriklike dood van haar geliefde Heer, Jesus, verduur. Verder was dieselfde moorddadige huigelaars wat hom doodgemaak het, vasbeslote om Lasarus ook dood te maak, aangesien sy opstanding die geloof van baie versterk het (Johannes 12:9-11). En natuurlik het die dood uiteindelik die liefdevolle band tussen Marta en haar broer en suster verbreek. Ons weet nie hoe of wanneer dit gebeur het nie, maar hiervan kan ons redelik seker wees: Marta se kosbare geloof het haar gehelp om tot die einde toe te volhard. Dit is waarom dit goed is as hedendaagse Christene Marta se geloof navolg.

[Voetnoot]

^ par. 27 Om meer uit te vind oor die Bybellering van die opstanding, sien hoofstuk 7 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 11]

Selfs toe Marta getreur het, het sy toegelaat dat Jesus haar help om aan geloofversterkende onderwerpe te dink

[Prent op bladsy 12]

Hoewel Marta “besorg en verontrus” was, het sy teregwysing nederig aanvaar

[Prent op bladsy 15]

Marta se geloof in Jesus is beloon toe sy gesien het hoe haar broer opgewek word