Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“In die dae van Koning Herodes”

“In die dae van Koning Herodes”

 “In die dae van Koning Herodes”

IN ’N poging om die baba Jesus dood te maak, het Herodes die Grote, die koning van Judea, gesante gestuur om al die babaseuntjies in Betlehem om die lewe te bring. Die geskiedenisverslag bevat heelwat gebeure wat plaasgevind het “in die dae van koning Herodes”, gebeure wat lig werp op die agtergrond van Jesus se lewe en bediening.—Matteus 2:1-16.

Waarom wou Herodes Jesus doodmaak? En waarom het die Jode ’n koning gehad toe Jesus gebore is, maar het ’n Romein, Pontius Pilatus, oor hulle regeer toe Jesus gesterf het? Om die geheelbeeld van Herodes se rol in die geskiedenis te verkry en om te verstaan waarom hy vir Bybellesers belangrik is, moet ons teruggaan na etlike dekades voor Jesus se geboorte.

Magstryde in Judea

In die eerste helfte van die tweede eeu VHJ is Judea regeer deur die Siriese Seleukiede, een van die vier dinastieë wat gevorm is nadat die ryk van Aleksander die Grote verdeel is. Maar toe die Seleukiede-koning in ongeveer 168 VHJ die aanbidding van Jehovah met die kultus van Zeus by die Jode se tempel in Jerusalem probeer vervang het, het hulle onder aanvoering van die Makkabeër-familie in opstand gekom. Die Makkabeërs, of Hasmoneërs, het van 142-63 VHJ oor Judea regeer.

In 66 VHJ het twee Hasmoneërvorste, Hirkanus II en sy broer Aristobulus, om die troon meegeding. Burgeroorlog het uitgebreek, en albei het hulp gaan soek by Pompejus, ’n Romeinse generaal wat op daardie tydstip in Sirië was. Pompejus het onmiddellik die geleentheid aangegryp om betrokke te raak.

Die Romeine was in werklikheid besig om hulle invloed ooswaarts uit te brei, en teen dié tyd het hulle ’n groot deel van Klein-Asië beheer. Maar ’n reeks swak heersers in Sirië het die gebied in anargie laat verval, wat ’n bedreiging ingehou het vir die vrede wat die Romeine in die Ooste wou handhaaf. Pompejus het dus ingegryp en Sirië geannekseer.

Sy oplossing vir die Hasmoneër-onenigheid was om Hirkanus te steun, en in 63 VHJ het die Romeine Jerusalem binnegeval en hulle kandidaat aangestel. Hirkanus sou egter nie ’n  onafhanklike heerser wees nie. Die Romeine het nou ’n voet in die deur gehad en was nie van plan om dit terug te trek nie. Hirkanus het ’n Romeinse etnarg geword, wat deur die Romeine se genade regeer het en afhanklik was van hulle guns en steun om sy troon te behou. Hy kon plaaslike sake hanteer soos hy wou, maar in buitelandse sake moes hy hom na die Romeinse beleid skik.

Die opgang van Herodes

Hirkanus was ’n ruggraatlose heerser. Maar hy is ondersteun deur Antipater, ’n Idumeër en die vader van Herodes die Grote. Antipater was die krag agter die troon. Hy het gespanne Joodse faksies in bedwang gehou en kort voor lank beheer oor Judea oorgeneem. Hy het Julius Caesar gehelp om teen sy vyande in Egipte te veg, en die Romeine het Antipater beloon deur hom tot die posisie van prokurator te verhef, wat slegs aan hulle rekenskap verskuldig was. Antipater het op sy beurt sy seuns, Fasaël en Herodes, as goewerneurs van onderskeidelik Jerusalem en Galilea aangestel.

Antipater het sy seuns geleer dat niks sonder Rome se goedkeuring vermag kon word nie. Herodes het hierdie les goed onthou. Dwarsdeur sy loopbaan het hy ’n balans probeer handhaaf tussen die eise van sy Romeinse beskermhere en dié van sy Joodse onderdane. Sy vaardighede as ’n organiseerder en ’n generaal het hom goed te pas gekom. Met sy aanstelling as goewerneur het die 25-jarige Herodes spoedig die bewondering van Jode sowel as Romeine afgedwing deur rowerbendes in sy gebied met mag en mening uit te roei.

Nadat mededingers Antipater in 43 VHJ vergiftig het, het Herodes die magtigste persoon in Judea geword. Maar hy het vyande gehad. Die aristokrasie in Jerusalem het hom as ’n indringer beskou en het Rome probeer oorreed om hom te verwyder. Die poging het misluk. Rome het Antipater se nagedagtenis in ere gehou en sy seun se vermoëns hooggeag.

Gekroon as koning van Judea

Pompejus se oplossing vir die Hasmoneër-troonopvolgingskrisis sowat 20 jaar vroeër het baie mense verbitterd gemaak. Die onsuksesvolle faksie het herhaaldelik mag probeer herwin, en in 40 VHJ het hulle daarin geslaag met die hulp van Rome se vyande, die Parters. Hulle het die chaos wat deur burgeroorlog in Rome veroorsaak is, uitgebuit, Sirië binnegeval, Hirkanus onttroon en ’n anti-Romeinse lid van die Hasmoneër-familie op die troon geplaas.

Herodes het na Rome gevlug, waar hy hartlik verwelkom is. Die Romeine wou die Parters uit Judea verdryf en die gebied weer onder hulle beheer kry met ’n aanvaarbare heerser. Hulle het ’n betroubare bondgenoot nodig gehad en het Herodes as die regte man beskou. Die Romeinse Senaat het Herodes dus as koning van Judea gekroon. In ’n daad wat simbolies is van die talle kompromisse wat Herodes sou moes aangaan om sy mag te behou, het hy ’n optog van die Senaat na die tempel van Jupiter gelei, waar hy offerandes aan heidense gode gebring het.

Met die hulp van Romeinse legioene het Herodes sy vyande in Judea verslaan en sy troon opgeëis. Sy wraak op sy teenstanders was genadeloos. Hy het ontslae geraak van die Hasmoneërs en die Joodse aristokrasie wat hulle ondersteun het, sowel as van enigiemand anders wat daarteen gekant was dat ’n vriend van die Romeine oor hulle regeer.

Herodes versterk sy mag

Toe Oktavianus in 31 VHJ as die onbetwiste heerser van die Romeine verrys het deur Markus Antonius by Actium te verslaan, het Herodes besef dat sy jare lange vriendskap met Markus Antonius met agterdog beskou sou word. Herodes het hom dus gehaas om Oktavianus van sy lojaliteit te verseker. Die nuwe Romeinse heerser het op sy beurt bevestig dat Herodes die koning van Judea is en het sy gebiede vergroot.

 In die daaropvolgende jare het Herodes sy koninkryk gestabiliseer en versterk en Jerusalem in ’n sentrum van Hellenistiese kultuur verander. Hy het groot bouprojekte onderneem—onder meer paleise asook die hawestad Sesarea en pragtige nuwe geboue vir Jerusalem se tempelkompleks. Maar vriendskap met Rome was deurentyd die fokus van sy beleid en die bron van sy mag.

Herodes se beheer oor Judea was volkome; sy gesag, absoluut. Herodes het ook die hoëpriesterskap gemanipuleer en enigiemand van sy keuse in hierdie amp aangestel.

Moorddadige jaloesie

Herodes se privaat lewe was onstuimig. Die meeste van sy tien vrouens wou hê dat een van hulle seuns sy vader opvolg. Intriges in die paleis het Herodes se agterdog gewek en sy wreedheid aangewakker. In ’n vlaag van jaloesie het hy sy gunstelingvrou, Mariamne, laat teregstel en later twee van haar seuns laat verwurg vir beweerde komplotte teen hom. Matteus se verslag van die massamoord in Betlehem stem dus ooreen met wat ons weet van Herodes se geaardheid en sy vasbeslotenheid om ontslae te raak van moontlike mededingers.

Omdat Herodes, volgens party, bewus was van hoe ongewild hy was, was hy vasbeslote dat die hele land oor sy dood moet rou en hulle nie daaroor moet verheug nie. In ’n poging om sy plan uit te voer, het hy Judea se vooraanstaande burgers in hegtenis geneem en beveel dat hulle almal tereggestel word sodra sy dood aangekondig word. Die bevel is nooit uitgevoer nie.

Wat Herodes die Grote agtergelaat het

Met Herodes se dood het Rome beveel dat Argelaus sy vader as heerser van Judea opvolg en dat twee ander seuns onafhanklike vorste, of viervorste, word—Antipas oor Galilea en Perea, Filippus oor Iturea en Tragonitis. Argelaus was ongewild by sy onderdane en meesters. Ná ’n dekade van sy ondoeltreffende heerskappy het die Romeine hom verwyder en hulle eie goewerneur, die voorganger van Pontius Pilatus, aangestel. Intussen het Antipas—vir wie Lukas bloot Herodes noem—sowel as Filippus voortgegaan om oor hulle eie viervorstedom te regeer. Dít was die politieke situasie toe Jesus met sy bediening begin het.—Lukas 3:1.

Herodes die Grote was ’n slim politikus en ’n hartelose moordenaar; sy wreedste daad was waarskynlik sy poging om die baba Jesus dood te maak. ’n Ondersoek van Herodes se rol in die geskiedenis is nuttig vir Bybellesers—dit help om lig te werp op belangrike gebeure van die tydperk, verklaar hoe die Romeine oor die Jode begin regeer het en voorsien die agtergrond vir Jesus se aardse lewe en bediening.

[Kaart op bladsy 15]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Palestina en omliggende gebiede in Herodes se tyd

SIRIË

ITUREA

GALILEA

TRAGONITIS

See van Galilea

Jordaanrivier

Sesarea

SAMARIA

PEREA

Jerusalem

Betlehem

JUDEA

Soutsee

IDUMEA

[Prente op bladsy 13]

Herodes was net een van ’n reeks heersers wat in die twee eeue voor Jesus se bediening oor Judea regeer het