Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Hoe lank . . . moet ek om hulp roep?”

“Hoe lank . . . moet ek om hulp roep?”

 “Hoe lank . . . moet ek om hulp roep?”

“Ek wil net hê die pyn moet ophou!” het Jayne gehuil. Sy het kanker gehad, en dit het deur haar liggaam versprei. Hoe het haar gesin en vriende tog gewens dat hulle haar siekte en haar lyding eenvoudig kon wegneem! Hulle het tot God gebid om haar te help. Sou hy luister? Het hy omgegee?

GOD is bewus van die toestand van die mensegesin. Sy Woord, die Bybel, sê dat “die hele skepping . . . voortdurend saam kreun en saam pyn ly” (Romeine 8:22). God weet dat daar honderdmiljoene mense is wat, soos Jayne, elke dag pyn verduur, hetsy dit fisies, emosioneel of verstandelik is. God sien die 800 miljoen mense wat elke aand honger gaan slaap, die miljoene ander wat gesinsgeweld verduur en die talle ouers wat hulle oor die toekoms en die welsyn van hulle kinders bekommer. Het jy al ooit gewonder of God iets hieromtrent sal doen? Aangesien ons ons geliefdes wil help, sal God tog sekerlik die mensegesin, sy skepping, wil help, nie waar nie?

As jy al ooit hierdie vrae gevra het, is jy nie die enigste een nie. Meer as 2 600 jaar gelede het ’n getroue man, Habakuk, soos baie mense van vandag gevoel en God gevra: “Hoe lank, o Jehovah, moet ek om hulp roep, sonder dat u hoor? Hoe lank sal ek tot u om hulp roep teen geweld, sonder dat u red? Waarom laat u my sien wat skadelik is en hou u aan om te kyk na wat niks anders as moeite is nie? En waarom is plundering en geweld voor my, en waarom is daar rusie, en waarom ontstaan twis?” (Habakuk 1:2, 3). Habakuk, ’n Hebreeuse profeet, het skokkende dade van sinnelose geweld en aggressie in sy dag gesien. Vandag is sulke dade alledaagse nuus wat medelydende mense erg ontstel.

Het God Habakuk se kwellinge as onbelangrik afgemaak? Nee. Hy het na Habakuk se opregte vrae geluister en toe daardie ontstelde man vertroos en aangemoedig. Jehovah God het Habakuk se geloof versterk met ’n belofte dat Hy ’n einde sal maak aan lyding. God se boodskap van hoop kan jou ook vertroos, net soos dit Jayne en haar gesin vertroos het. Die volgende artikels sal hierdie vrae beantwoord: Hoe kan ons seker wees dat God werklik vir ons omgee? Wat sal God doen om ’n einde aan lyding te maak, en wanneer?